Die kat kom weer … 15 jaar later!

 

Charles en Brandy (Foto: LA County-diereskuiling)

ʼn Kat wat 15 jaar gelede verdwyn het, is as ʼn ouer, waarskynlik wyser kat, met haar eienaar herenig.

Brandy is verlede week Maandag met Charles, wat nie sy van bekend wou maak nie, herenig. Charles, van die San Fernando Valley-gebied in Los Angeles in die VSA, het haar in 2005 as ʼn twee maande oue babakatjie aangeneem. “Dis wonderlik, dis ongelooflik,” het Charles Donderdag aan plaaslike media gesê. “Ek het haar gesien, opgetel, en sy het dadelik begin spin. Dit was baie emosioneel en lekker om haar weer in my arms te hê.” Hy het gehuil oor al die jare wat hy saam met sy kat misgeloop het.

Brandy is verlede week Sondag in Palmdale, sowat 65 km van Charles se huis, gevind. Sy het net ʼn paar maande ná Charles haar aangeneem het, verdwyn. “Sy was die middag agter in die erf. Toe dit donker word en ek haar wou gaan haal, was sy nie daar nie.” Hy het tevergeefs na haar gesoek. Hy was bekommerd dat sy dalk deur ʼn motor getref is of dat ʼn coyote haar dalk gevang het.

“Ek het gehoop iemand het haar dalk opgetel en dat hulle na haar sal omsien. En ek raai dis presies wat gebeur het.”

Charles het met sy lewe aangegaan, later verhuis en nog twee jong katjies aangeneem.

Die Los Angeles County-diereskuiling in Palmdale en ʼn maatskappy wat destyds die mikroskyfie in Brandy ingeplant het, het hom egter die Sondag gekontak. Hy het egter intussen van adres en telefoonnommer verander. Sy selfoonnommer was gelukkig nog dieselfde as die een op die mikroskyfie.

Brandy (Foto: Claudia Peschiutta/Twitter)

“Ek was baie skepties. Ek het gedink dit moet ʼn fout wees,” het hy gesê. “Miskien is daar een in ʼn miljoen kans dat dit Brandy kan wees. Maar ná 15 jaar is dit tog hoogs onwaarskynlik?”

Hy het die Maandagmiddag na Palmdale gery om Brandy te gaan sien. Sy was ouer en baie maer. Sy was ondervoed en het slegs 2,7 kg geweeg. “Sy het byna dieselfde geweeg as toe sy ʼn babakatjie was.” Haar naels was ook te lank en het haar pootjies seergemaak.

Charles vermoed iemand het haar as ʼn babakatjie gevind, maar nooit moeite gedoen om uit te vind of sy ʼn mikroskyfie het nie. Sy het vermoedelik ʼn paar maande gelede weggeloop of die nuwe eienaars het haar verloor. Brandy is egter dieselfde kalm, oulike katjie wat hy onthou.

Brandy kan ongelukkig nie saam met Charles en die ander twee katte in sy eenslaapkamerwoonstel bly nie, maar sy bly nou by Charles se sussie wat naby woon. Hy beplan om gereeld by haar te gaan kuier.

Bron: County of Los Angeles Department of Animal Care and Control, Patch.com, NY Post, 9News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Ek wonder hoeveel van sy nege lewens is nog oor…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.