Foto’s: ‘Pikkewyne’ stel dieretuinbesoekers teleur

Die pikkewyne wat by die dieretuin te sien was (Foto: Weibo)

Besoekers aan ʼn dieretuin in China was baie teleurgesteld toe hulle dié park besoek het om “seldsame pikkewyne van die Suidpool” te sien.

Die nuwe Guishan-dieretuin in Yulin City het ʼn spesiale “pikkewyn-uitstalling” bemark en dit het aanvanklik baie belowend gelyk. Toegangskaartjies het 15 Chinese yuan (ongeveer R31) gekos en inwoners het na die dieretuin gestroom om die pikkewyne te sien, berig Weibo.

By die dieretuin aangekom, was hulle egter baie teleurgesteld toe daar net plastiek opblaas-pikkewyne op hulle gewag het.

Die enigste ander diere wat by die “dieretuin” te sien was, was hoenders, eende en skilpaaie. Een van die skilpaaie was in ʼn glaskas en is bemark as ʼn “gelukkige skilpad” – en besoekers is aangemoedig om hul geld vir die skilpad te gee.

Talle van die besoekers wou ʼn terugbetaling hê, maar die dieretuin was nie gewillig of in staat om die terugbetaling te doen nie. Verskeie verwarde besoekers het verslae huis toe gekeer.

Foto’s van die geleentheid is op sosiale media gedeel en dit was ook in die nuushooftrekke in China.

Dis boonop nie die eerste keer wat mense deur dieretuine mislei is nie. ʼn Dieretuin in Henan, ook in China, het in 2013 ʼn harige hond, ʼn Tibettaanse mastiff, bemark as “ʼn leeu uit Afrika”. Dieselfde dieretuin het ook ʼn hond voorgehou as ʼn wolf en ʼn wit jakkals as ʼn luiperd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

madels ·

Genade, so, dis nie net in Afrika wat mense skelm is nie :-) ;-)

Ah nee a ·

PETA moet gaan kyk, die pikkewyne blaas af want nie genoeg water nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.