Gryspapegaaie help mekaar

Foto: Max Planck Gesellschaft

Mense is bekend vir hul bereidwilligheid om ander te help – selfs vreemdelinge. Navorsers het nou, vir die eerste keer, bevind dat sommige voëls, spesifiek gryspapegaaie, ook graag mekaar help.

“Gryspapegaaie help ander papegaaie vrywillig en spontaan om ʼn doelwit te bereik, sonder dat hulle self gaan voordeel trek daaruit,” het Désirée Brucks van die Max Planck-instituut vir ornitologie in Duitsland en mede-outeur van die studie wat in Current Biology gepubliseer is, gesê.

Papegaaie en kraaie is bekend daarvoor dat hulle groot breine het – relatief tot die grootte van hul lywe en baie goed vaar met probleemoplossing. Daar word dus soms na hulle verwys as “geveerde ape”, verduidelik Brucks en mede-outeur Auguste von Bayern.

Vorige studies het egter gewys dat, ondanks hul indrukwekkende sosiale intelligensie, help kraaie nie ander kraaie nie. In die nuwe studie het Brucks en Von Bayern gewonder: “Wat van papegaaie?”

Hulle het verskeie gryspapegaaie (Psittacus erithacus) en bloukop-arapapegaaie (Primolius couloni) in die studie gebruik. Albei papegaaispesies was gretig om ringetjies om te ruil vir ʼn neuthappie. Slegs die gryspapegaaie was egter bereid om ringetjies aan ʼn ander papegaai te gee sodat dié papegaai ook ʼn neuthappie kon verdien.

“Gryspapegaaie was gemotiveerd om mekaar te help, selfs al was die ander individu nie aan hulle bekend nie,” het Von Bayern verduidelik. “Sewe uit agt gryspapegaaie het spontaan ringetjies aan hul maat oorhandig – reeds in die eerste proeflopie, sonder dat hulle dus vantevore die sosiale omstandighede teëgekom het. Hulle het dus hulp gebied sonder dat hulle self daaruit kon voordeel trek en sonder dat hulle iets in ruil daarvoor verwag het.”

Sy sê dit is ook belangrik om te noem dat dit wou voorkom of die gryspapegaaie verstaan het wanneer hulle ʼn ander papegaai moes help. “As hulle sien ʼn ander papegaai het die geleentheid om ʼn ringetjie uit te ruil vir ʼn neuthappie, het hulle gehelp.”

Hulle het mekaar gehelp sonder dat hulle maats was, maar as hulle wel vertroud was met mekaar, het hulle selfs nog meer hulp aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

J J Schoeman ·

Mak Muisvoëls doen met graagte mee om ander voëls te help voer en groot te maak. Muisvoëls doen moeite vir ander voëls en is eintlik ‘n baie onderskatte spesie…….

Johan Venter ·

A ha, ons mag gryspapegaaie geveerde ape noem, maar ons moet toepstil oor mense bly.

TomP ·

As ek nou n “like” kon gee, het ek dit beslis oordoen. So slaan jy die spyker raak….????

LB ·

Ek stem met jou saam JJ, ek het ‘n muisvoël uit ‘n veldbrand gered wat mak en baie liefdevol was. Hy wou selfs vir my van sy kossies voer, het ook graag in my nek kom skuil onder my hare en kon lank daar sit en slaap terwyl ek werk. Min mense sien hulle vaal lyfies raak en die vrugte boere wis hulle uit omdat hulle vrugtevreters is. ‘n Hartseer saak vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.