Vernoem ʼn kokkerot na jou eks!

(Foto: Toronto Zoo Wildlife Conservancy/Twitter)

As jy nog omgekrap is oor ʼn vorige romantiese verhouding wat verbreek is, dan kan jy dié Valentynsdag iets spesiaal doen.

“Roses are red, violets are blue … is there someone in your life that’s bugging you?” skryf die Toronto-dieretuin in Kanada. “Jy kan hulle vanjaar hoendervleis gee deur ʼn kakkerlak na hulle te vernoem!”

Vir ʼn skenking van CAD25 (net meer as R300) ontvang jy ʼn digitale sertifikaat met jou naam en die kokkerot se naam (slegs voorname). Jy ontvang ook grafika wat jy op sosiale media kan deel.

Jy kan die kakkerlak vernoem op die dieretuin se webwerf met jou skenking. Daar is egter beperkings op die name – haatspraak of vloekwoorde sal nie geduld word nie.

“Jy kan natuurlik enigiemand vernoem,” het Kelsey Godel, koördineerder by die dieretuin, aan CTV News Toronto gesê. “Dit hoef nie net jou eks te wees nie. Dit kan jou baas wees, ʼn vriend, ʼn familielid, of enigiemand anders wat jou pla!”

Die dieretuin het op sy webwerf ʼn vrywaringsnota bygevoeg om te sê dat die Toronto-dieretuin en Toronto-natuurbewaring alle skepsels, klein of groot, respekteer. “Kakkerlakke speel ʼn baie belangrike ekologiese rol in hul reënwoudtuistes. Hulle help om woudrommel en diere-ontlasting te laat ontbind. Hulle is ook kos vir baie ander diere. Ondanks hul grillerige reputasie, speel kakkerlakke ʼn onontbeerlike rol in die volhoubaarheid van plant- en dierhabitatte.

Die dieretuin se veldtog het gemengde reaksie uitgelok met sommige mense wat dink dit is baie grappig, terwyl ander dink dit is onsensitief.

“Teoreties is dit ʼn prettige idee, maar die e-kaart laat my gril. Ek is dol oor die Toronto-dieretuin, maar nie hieroor nie. Dit lyk of dit onnodig wreed is.”

Ander noem dit ʼn “briljante veldtog”. “Ek is dol hieroor!” skryf nog iemand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

chantelle ·

Die opskrif alleen het my lekker laat giggel!
Dankie MM

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.