Video: Dié rekord nie vir sissies nie

Skermgreep uit die video

Rafael Bridi skrik nie vir hoogtes nie – trouens, hy is dol daaroor.

Dié 35-jarige Brasiliaan spog met die Guinness-wêreldrekords vir die hoogste slackline-stappie en die langste slackline-stappie oor ʼn aktiewe vulkaan.

Slacklining is soortgelyk aan spandraad, maar in plaas van ʼn styfgespande koord of tou, word ʼn kabel of poliësterband tussen twee ankers vasgemaak en atlete kan dit dan gebruik vir balanseertoertjies.

Rafael is passievol oor die buitelewe, die natuur en om verstommende avonture aan te pak. Hy het in slacklining begin belangstel toe hy by ʼn vriend se huis gekuier het en ʼn kabel tussen twee palmbome gespan het. Dit was aanvanklik nie maklik nie, maar hy het aanhou probeer totdat hy die perfekte balans gekry het. Sy mededingendheid het hom gemotiveer om gedurig te bly oefen totdat hy gaande was oor die dissipline.

Met sy vaardighede as ʼn ingenieur het Rafael ook strategiese slacklining-tegnieke ontwikkel en dit bemeester.

Hy het op 2 Desember 2021 sy vaardighede op die proef gestel toe hy 18 meter tussen twee warmlugbalonne oor die Praia Grande in Santa Catarina, Brasilië, geloop het – op ʼn hoogte van 1 901 meter. Dit was die rekord vir die hoogste slackline ooit. Om dit in perspektief te stel: die afstand is dubbel die hoogte van die Burj Khalifa, die wêreld se hoogste gebou.

“Dit was nie te moeilik nie,” het Rafael na die tyd gesê. “Ek het heeltemal van tyd vergeet, want dit was só mooi.”

Rafael spog ook saam met Alexander Schulz van Duitsland met die rekord vir die langste slackline oor ʼn aktiewe vulkaan. Die twee het 261 meter op ʼn hoogte van 42 meter bo die Yasurkrater, ʼn stratovulkaan op Tanna-eiland in Vanuatu, op 15 April 2020 afgelê.

Rafael glo die mees uitdagende deel van die stappie is om jou gedagtes op die oomblik te fokus. Hy oefen twee tot drie dae per week en het selfs ʼn 100 meter lange slackline by sy huis. Hy kombineer sy oefeninge met joga, meditasie, branderplankry, fietsryk, jiujitsu en bergklim.

“Ek wou algehele vryheid beleef terwyl ek op die koord loop,” sê hy. “Ek het dit reggekry toe ek tussen die twee ballonne hoog bo die wolke geloop het.”

Hy hoop sy prestasie inspireer ander om ook in hul drome te glo. “Met motivering en dissipline is enigiets moontlik.”

Sy volgende doelwit is ʼn koord op 6 000 meter bo die Andesgebergte en hoop om binnekort nóg ʼn rekord agter sy naam te skryf.

ʼn Video van die kordaatstuk oor die vulkaan is pas vrygestel:

Bron: Guinness World Records

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Hy moet maar lekker stap. Ek sal net hou by valskerm spronge en scuba duik, want oorlewings kanse is soveel hoër dan. Maar hierdie tou stappery , neewat , die meeste mense sal hul balans verloor.

Renier ·

Hy het n safety tou,kan maar val,niks sal gebeur. Ek kan dit ook doen,maar ek is te dik vir die klein toutjie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.