Video: Held spring in yswater om vreemdeling se hond te red

Skermgreep uit die video

ʼn Video van ʼn man wat sy lewe in gevaar stel om in ʼn ysige meer te spring en ʼn hond teen verdrinking te red, laat harte vermurwe.

Die video is by Sloanmeer in Colorado in die VSA verfilm en is deur Holly Morphew op Instagram gedeel.

In die video kan mens sien hoe die man, intussen uitgeken as Jason Skidgel, in die ysige water inhardloop om die spartelende hond teen verdrinking te red.

Volgens Holly het die hond, genaamd Loki, ganse gejaag toe hy in die water beland het.

“Ek en my vriend het gister om Sloanmeer gaan stap,” verduidelik Holly in die plasing. “Ons het ʼn hond aan die oorkant van die meer gesien hardloop terwyl hy ganse jaag.”

Holly was besorg dat daar nie genoeg ys op die water sou wees waarop die hond kon hardloop nie.

“Daar was egter nie genoeg ys nie en die hond het in die water beland. Hy het lank gesukkel en ons het hulpeloos staan en toekyk. Ons het gebid dat hy genoeg ys sou kon breek om weer by die oewer uit te kom, maar hy het moeg geword en ons het gesien hy sou nie veel langer kon spartel nie.”

Die groep het die noodnommer 911 geskakel en die brandweer was op pad, maar hulle was besorg dat redding nie vinnig genoeg sou opdaag nie.

“En toe het ʼn held sy klere uitgetrek en in die water gespring om die hond te red. Ek is so bly hy het dit gedoen, en hy en die hond is oukei.”

Ná die man en die hond uit die water gekom het, het die skare hulle vinnig gehelp om warm te word en het hulle eie baadjies en klere uitgetrek om Jason te help.

Jason het self later ʼn video geplaas uit dankbaarheid vir die mense wat hom bygestaan het. “Ek wil vir julle almal wys hoe menslikheid kan saamkom. Ek het dalk Loki se lewe gered, maar hulle het almal my lewe gered. Dankie aan elkeen!”

Internetgebruikers is aangedaan oor die man se gebaar en het hom ʼn “held” in die kommentaar genoem.

“Dit het my laat huil!” skryf iemand in die kommentaar. “Jy is wonderlik – net soos elkeen wat gehelp het. Hierdie is ʼn teken dat daar nog ordentlike mense in die wêreld is.”

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Jason Skidgel (@jasski786)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.