Video: Ma en ses dogters gaan eet uit met hul trourokke

Skermgreep uit die video

ʼn Ma van Texas in die VSA, haar vier dogter en twee skoondogters, het besluit om met hul trourokke te gaan uiteet. Die foto’s en video’s van hul aandjie uit is baie gewild op sosiale media.

Alexis Houston het ʼn video op 19 Mei op Instagram gedeel. “Ons het besluit dat die duurste rokke wat ons besit verdien om gedra en geniet te word – meer as net een dag in ons lewens.”

Die video is reeds meer as 4,8 miljoen keer op Instagram gekyk.

Terri Bonin, ʼn ma van 11 kinders (vyf seuns en ses dogters) het in ʼn onderhoud met People gesê hulle wou “saam uitgaan, sonder mans of kleuters, en eet en tot laat aand kuier”.

Bonin sê haar dogter het vroeër ʼn video op Instagram gesien van ʼn vrou wat grappies maak oor wat mens alles met ʼn trourok kan doen.

Die groep het True Food, ʼn restaurant buite Houston, vir aandete besoek. Hulle is daarna na nóg ʼn restaurant vir nagereg en cappuccino’s.

Volgens Bonin het die sewe bruide nogal ʼn herrie veroorsaak onder restaurantgangers. “Dit was baie snaaks. Ons het – onwetend – die besigste aand gekies om Marketstraat te besoek. ʼn Plaaslike hoërskool het boonop hul gradeplegtigheid op die terrein gevier. Ons het bietjie sleg gevoel omdat ons al die aandag getrek het, maar ons het regtig nie geweet daar gaan ʼn gradeplegtigheid wees nie.”

Vreemdelinge het foto’s en video’s van hulle geneem, vir hulle komplimente gegee, wou weet waarom hulle in trourokke is en of hulle saam kon foto’s neem.

“Dit was baie prettig en ons beveel dit 10/10 aan vir enigiemand om te doen!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.