Video: Man kry werk ná heldedaad

Skermgreep uit die video

ʼn Amerikaner wat al jare lank werkloos is, is in diens geneem toe hy net ná ʼn werksonderhoud ʼn heldedaad verrig het.

Volgens The Guardian het Ron Nessman verlede week ʼn baba se lewe gered. Hy het ʼn werksonderhoud gehad by ʼn Applebee’s-restaurant in Kalifornië toe ʼn baba in ʼn stootwaentjie weggerol het in die rigting van aankomende verkeer.

Hy het vinnig agter die stootwaentjie aangehardloop en dit betyds tot stilstand gebring en die kind se lewe gered.

“Ek het nie kans gehad om daaroor te dink nie,” het Nessman aan die plaaslike nuusstasie KOVR-TV gesê oor sy optrede. “Mens reageer maar net.”

Nessman het op ʼn bankie buite die restaurant gesit toe hy die noodgeval voor hom sien ontvou het.

ʼn Vrou het in die oprit van ʼn nabygeleë motorwassery stilgehou en haar agterkleinneef in ʼn stootwaentjie gelaai toe ʼn sterk wind die waentjie laat wegrol het. Die vrou wou agterna hardloop, maar het geval en gesukkel om weer op te staan. Sy moes hulpeloos toekyk hoe die waentjie al hoe verder wegrol in die rigting van aankomende verkeer.

“Daar was ʼn sterk wind en teen die tyd dat ek by die stootwaentjie uitgekom het, was dit reeds byna in die straat,” het Nessman aan ABC News gesê. “Ek het gesien die waentjie gaan voor die verkeer in rol. Ek het net instinktief na die waentjie toe gehardloop en kon dit keer voor dit voor die verkeer beland het.”

Hy het daarna na die “getraumatiseerde” versorger gestap en haar omhels.

“Sy het gehuil. Sy was baie geskok, en daarom het ek vir haar ʼn drukkie gegee.”

Nessman is al vir sowat agt jaar haweloos en werkloos en het die afgelope paar maande glo by sy sussie gebly terwyl hy werk soek.

KNSD het op 4 Mei berig Applebee’s het ná die voorval Nessman in diens geneem. Hy sou die volgende dag met opleiding begin.

Hy het intussen glo ook ander werksaanbiedinge gekry soos verfwerk en om weer groot vragmotors te bestuur.

“Ek waardeer die geleentheid wat Applebee’s vir my gegee het,” het hy aan KNSD gesê. “Dis baie cool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Ek is bly vir die man wat nou ‘n werkie het, en dat die baba ongedeerd is.

Elma ·

Ek dink nie enige mens sal SO hard neerval indien dit fake is nie! Sy het regtig vrek hard neergeslaan.

Frank ·

Is dit ‘n ou tannie of wat. Dis darem ‘n gesukkel!!!! Sy het seker van skok lam geword of iets

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.