Video: Ouma (84) speel nog die klavier onderstebo

Skermskoot uit die video

Bettie Wepener (84) van Mosselbaai het onlangs die gehoor bekoor by ʼn aftreeoord in dié kusdorp.

Ondanks ʼn knievervanging skuif sy nog, op spesiale versoek, onder die klavier in om die note so onderstebo te kan tokkel.

Dié oud-musiekonderwyseres van Standerton vertel sy het destyds met haar streke begin om die klavier onderstebo en agterstevoor te speel om die kinders aan te moedig en te inspireer om klavier te speel – en te bly oefen!

“Die ouers was nooit opgewonde om ʼn musiekkonsert by te woon nie; hulle het geweet hulle gaan moet sit en luister hoe kind ná kind op die verhoog verskyn om te speel,” verduidelik sy. “Ek het die een jaar egter vir hulle belowe daar wag ʼn groot verrassing aan die einde van die konsert.”

Sy het haarself soos ʼn oumatjie vermom met ʼn grys pruik, brilletjie, ʼn kierie en ʼn tjalie om die skouers. Sy het tussen die gehoor deur geskuifel en krom geloop. “Die kinders het my nie herken nie, en my selfs teen die trappe van die verhoog opgehelp!”

Op die verhoog het sy gemaak asof sy met haar kierie struikel en het onder die klavier beland. “Ek het my hande opgesteek en die note gevoel-voel voor ek weggetrek het.”

Die gehoor was gaande oor haar talent. Sy het daarna ook haar rug na die klavier toe gedraai en haar hande agter haar rug op die klavier se note gesit. “Juffrou moet omdraai!” het die kinders gelag. Só het sy ook ʼn paar liedjies gespeel voor sy uiteindelik darem ook reg om geskuif en die gaste met nog ʼn paar liedjies vermaak het.

Wepener, ʼn ouma van vier, is dankbaar om vandag nog haar ma se handgewerkte kussing onder die klavier te kan neersit. Haar ma en pa was self baie musikaal en haar susterskind, orrelspeler Gideon Brits, volg deesdae ook in sy tannie se voetspore om gehore met dié onderstebo-truuk te vermaak.

Wepener se 90-jarige suster, Susie Brand van Hartenbos, was ook onlangs deel van die gehoor om haar sussie se manewales te aanskou. Nóg ʼn sussie, Hannie Brits (91), skoffel nog graag op die dansbaan en hul broer, Kobus van Heerden (88), neem nog elke jaar deel aan die Kaapstad-fietstoer. ʼn Talentvolle familie!

Wepener se seun woon met sy twee kinders in Krugersdorp en haar twee dogter, waarvan een ook twee kinders het, woon in Australië.

“Ek wou destyds net die kinders inspireer,” voeg Wepener by. Vandag vermaak sy die inwoners van die aftreeoord gereeld met saamsing-geleenthede. “Ouderdom is nie ʼn rede om oud te wees nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.