Video: Rekord vir 10-jarige wat skaakbord geblinddoek pak

Punithamalar Rajashekar (Foto: Guiness-wêreldrekords)

Die jong Punithamalar Rajashekar van Maleisië spog met ʼn wêreldrekord vir die vinnigste tyd om ʼn skaakbord geblinddoek te pak. Dit het haar net 45,72 sekondes geneem.

Sy het reeds verskeie toekennings ontvang, insluitend Asië se Buitengewone Kind-toekenning van die jaar vir 2022/2023 en het haar vaardighede al in ʼn rits kompetisies ten toon gestel, soos Malaysia’s Kids Got Talent.

Die rekordpoging het by Punithamalar se skool plaasgevind. Ouers, die onderwysersvereniging en die skool se bestuur was ook teenwoordig.

Sy is ook ʼn uitstekende skaakspeler en het begin skaak speel toe sy vyf jaar oud was. Sy is die beste skaakspeler in haar skool en het hulle by ʼn distrikskompetisie verteenwoordig. Sy neem gereeld ook deel aan landswye toernooie en is ʼn geregistreerde lid van die internasionale skaakfederasie (Fide).

“My pa is my afrigter,” het sy aan Guinness-wêreldrekords gesê. “Ons speel byna elke dag.”

Sy het met die idee vorendag gekom vir die wêreldrekord toe sy ʼn dokumentêre fliek oor buitengewone menslike vermoëns gekyk het.

Punithamalar Rajashekar (Foto: Guiness-wêreldrekords)

“Om te sien hoe mense hul eie beperkings op die proef stel en ongelooflike dinge regkry, het my geïnspireer.”

Sy het na video’s van vorige rekordhouers gekyk om hul tegniek en strategieë te bestudeer.

“Ek het vier maande voor die poging reeds met voorbereiding begin, met ʼn kombinasie van geestelike en fisiese oefeninge.”

Haar pa het haar deur die hele proses ondersteun en haar gesin en onderwysers het haar tydens die moeilike oefensessies gemotiveer.

Punithamalar memoriseer ook graag feite en foto’s en het al aan verskeie kompetisies by die skool deelgeneem om stories te vertel en openbare redevoering. Haar gunstelingvak is wiskunde en sy wil graag ʼn ruimte-wetenskaplike word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Surizaru ·

Is dit net ek, of is dit baie vreemd hoe sy by 55 sekondes daai laaste wit pion wat weggerol het, PRESIES raakvat waar hy ‘n entjie weg lê…?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.