Taalgebruik: kondisie, toestand

Argieffoto (Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

As ʼn mens noukeurig na die woordeboekdefinisies van “kondisie” en “toestand” gaan kyk, is dié woorde streng gesproke sinonieme. Volgens Skryf Afrikaans van A tot Z bestaan daar wel ʼn konvensie dat “kondisie” in die konteks van diere en “toestand” met verwysing na mense gebruik word.

Kondisie, soos in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) omskryf word, is ʼn algemene toestand of gesteldheid waarin iemand of iets verkeer. Die WAT verduidelik verder dat dit ʼn fisieke toestand of gesteldheid is wat aan ʼn spesifieke doel of standaard voldoen en wat gesondheid, bemarkbaarheid, of teelkragtigheid, meestal van toepassing op diere soos vee, insluit. Dit word soms ook in sportverband of skertsend vir mense gebruik.

Jy sal byvoorbeeld sê die boer se vee is in ʼn goeie kondisie danksy die gehalte van die voer wat hy vir hulle gee, of daar is ʼn afname in die wild se kondisie weens die droë seisoen.

Volgens die WAT word die toestand of gesteldheid van iemand of iets deur spesifieke omstandighede bepaal. Dit is ʼn neutrale woord wat gebruiklik is in verwysings na byvoorbeeld pasiënte, motors, ʼn persoon se fisieke of geestelike welstand, huise, en ʼn land se onderwys, ekonomie of paaie.

Hierdie taalbrokkie is uit inligting saamgestel wat in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Skryf Afrikaans van A tot Z en Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) verskyn. Raadpleeg dié bronne vir uitgebreide definisies en verduidelikings.

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.