’n Mondvol Afrikaans laat taal oorsee voortleef

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Daar is soveel Suid-Afrikaners wat oorsee woon, en veral in lande soos Australië, Nieu-Seeland en Amerika is daar baie Afrikaanssprekendes. ʼn Groot menigte van dié mense is steeds lief vir ons taal en kultuur en wil ook graag hul kinders in Afrikaans grootmaak. Maar hoe laat jy Afrikaans voortbestaan in ʼn land waar dit glad nie gepraat word nie?

Annemarie Terblanche, ʼn filmmaker wat die afgelope 18 jaar in Sydney, Australië, woon, sê ouers sukkel om Afrikaans by hul kinders te vestig en ontwikkel omdat dit daar glad nie buite die huis gepraat word nie. Dis juis daarom dat sy ʼn Afrikaanse video, ʼn Mondvol woorde, gemaak het.

Annemarie het kommunikasiekunde en joernalistiek by Kovsies geswot en daarna 15 jaar lank by die SAUK gewerk waar sy by ʼn verskeidenheid van godsdiensprogramme, kinderprogramme en joernaalprogramme betrokke was.

ʼn Mondvol woorde is deur Annemarie en haar seun, Delmar (19), in hul vrye tyd gemaak en fokus op Afrikaanse ontwikkeling by kleuters tussen nul en drie jaar. Dié video bestaan uit Afrikaanse rympies, tradisionele liedjies en grappies wat deur twee handpoppe aangebied word. Die video van 25 minute bevat vyf verskillende temas en binne elke tema is daar drie woorde wat aangeleer kan word. Elke woord word uitgebeeld deur animasie, liedjies en rympies wat die leer net soveel makliker maak.

Sy glo sterk daaraan dat taalvaardigheid en die aanleer van meer as een taal nie net kinders help kommunikeer nie, maar ook hul identiteit vestig en help om hulself beter te leer ken. Sy meen ook dat kinders in Suid-Afrika makliker tweetalig is omdat hulle genoeg blootstelling kry aan Engels en Afrikaans, maar in lande soos Australië is dit ʼn uitsondering en uitdaging.

Annemarie sê ʼn kleuter kan alleen na die video kyk, maar die doel van dié video is eintlik om ouers by die ervaring te betrek. Omdat almal sulke besige lewens lei, sal ouers baiekeer hul kinders voor die televisie “pos”, maar volgens Annemarie help intieme wisselwerking tussen ouers en kinders juis om taalvaardigheid te skep.

Dié video bied ouers die geleentheid om saam met hul kinders te sit, tyd deur te bring en ook te help verduidelik. Die video kan in vyf dele gedeel word as daar nie tyd is om die hele video te kyk nie.

Sy sê ’n Mondvol woorde is haar klein bydrae om moontlik die volgende generasie bewus te maak van die ongelooflike mooi taal wat ons erfenis is. Volgens haar is daar baie doemprofete wat sê die taal gaan uitsterf, en hierdie projek is haar en haar gesin se manier om iets daaraan te doen.

Annemarie sê dié video is nie net vir kleuters oorsee bedoel nie. Enige kind sal eintlik baie waarde daaruit kry.

Die video gaan op Vimeo beskikbaar wees.  Besoek gerus die Facebookblad vir meer besonderhede.

[wpvideo OA9KpMMc]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.