Foto’s: Somerkersfees met al die Kersfeesliggies

Danville-liggiehuis Foto: www.danvilleliggiehuis.co.za

Danville-liggiehuis Foto: www.danvilleliggiehuis.co.za

Wat is Kersfees sonder Kersliggies? Dis in die buiteland ʼn reuse ding tydens die feesseisoen met groot stede dikwels toegegooi onder sneeu en Kersliggies wat die donker aande ophelder. Ondanks Eskom is dit ook moontlik om in Suid-Afrika ʼn egte Kersliggie-ervaring te hê hierdie Kerstyd.

Ek onthou as kind het dit vir my eers behoorlik soos Kersfees gevoel as ek omring is met liggies en met Kersliedere wat oral speel. As Suid-Afrikaners het ons natuurlik nie sneeu vir die Kersatmosfeer nie.

Met ons warm, unieke Somerkersfeeste sonder sneeu kan ʼn mens soms amper vergeet dis Kerstyd, daarom gaan soek ek elke jaar plekke op met Kersliggies. Dit help my om te onthou hoekom ek so mal is oor hierdie tyd van die jaar. Hier is ʼn paar plekke waar jy ware Kersfeesliggie-ervarings kan gaan opsoek.

Danville-liggiehuis, Pretoria

In Danville is daar ʼn huis. Dit behoort aan Brenda van der Merwe. Soos ʼn moderne Robin Hood het sy 16 jaar gelede besluit om iets aan die armoede van vele in haar omgewing te doen. Elke jaar tussen 1 Desember en 1 Januarie tussen 19:00 en 23:00 skakel sy die Kersliggies van haar huis in Danville aan vir almal om te kom geniet.

Dit is deur hierdie gebaar dat haar hart se projek nie meer deesdae net die mense in haar omgewing help nie maar ook vele meer. Deur bewusmaking op hierdie manier samel Brenda kos, komberse, ens. in om elke jaar aan behoeftiges ʼn warmer Kersfees te voorsien. Brenda verskaf deesdae al meer as 11 500 pakkies lekkers vir kinders, kospakkies aan 950 families en 450 oumense.

Talle bekendes het al hierdie projek ondersteun deur optredes en bydraes. Dit is werklik ʼn “Never-neverland” om dit uit te druk in Brenda se woorde. Die huis, bedek in liggies en tonele, is werklik ʼn belewenis.

Adres: Millarstraat 134, Danville, Pretoria

Jakaranda-kinderhuis Foto: jakarandaliggiefees.co.za

Jakaranda-kinderhuis Foto: jakarandaliggiefees.co.za

Jakaranda-kinderhuis Kersfeesliggiesfees, Pretoria

Sedert 2010 word die 21 huise deur die kinders van die Jakaranda Kinderhuis self versier. Dit omskep die Jakaranda-kinderhuis in ʼn sprokieswêreld waar dit voel of vir ʼn maand lank, hierdie die plek is waar drome kan waar word.

Honderde mense stroom jaarliks tussen 30 November en 31 Desember hierheen om dit te besoek. Nie net is dit ʼn see van liggies wat jou begroet nie, maar dit word ʼn hele familie-uitstappiefeestelikheid met straatkunstenaars, kosstalletjies en hope vermaak.

Toegangsgelde word gevra, maar dit gaan vir die Kinderhuis en mens betaal dit met ʼn glimlag. Gesinne kan ʼn hele aand gebruik om deur die sprokieswêreld te wandel en versnaperinge te geniet.

Dis werklik iets om nie te mis nie.

Adres: Talitha Kumistraat 1, East-Lynn, Pretoria

Lawleystraat Foto: digitaljournal.com

Lawleystraat Foto: digitaljournal.com

Lawleystraat, Pretoria

In Waterkloof in Pretoria is daar ʼn spesiale straat waar die inwoners ʼn hele paar jaar gelede besluit het om die feestelike Kersfeesatmosfeer nie net in hulle huise te hou nie maar dit uit te deel aan enigiemand wat op straat verbyry of -loop. Vandag is die kilometer en ʼn half lange straat in die “suburbs” getooi van bo tot onder in liggies en tonele. Aanvanklik het net ʼn paar huiseienaars aan die versiering van hulle huise en tuine in tipiese Amerikaanse-manier deelgeneem, maar vinnig het omtrent die hele straatgemeenskap ingekoop op die idee. Deesdae is daar gereelde verkeersopeenhopings soos motors en voetgangers die straat elke aand besoek om hulle te vergaap aan die huise wat die een meer oorspronklik as die ander is.

Dis gratis en vat nie ʼn hele aand om te besigtig nie, en daarom kan ʼn mens maklik op pad na of terug van ʼn ander afspraak die straat besoek en voel of jy jou êrens in een van Amerika se woonbuurte bevind… minus die koue en sneeu natuurlik.

Die "Tree of Light" by die Johannesburgse dieretuin Foto: Joburg.org.za

Die “Tree of Light” by die Johannesburgse dieretuin Foto: Joburg.org.za

Johannesburgse Dieretuin, Johannesburg

Die afgelope 12 jaar het die Boom van Lig (Tree of Light) by die Johannesburgse Dieretuin gegroei tot die groot aantrekkingskrag wat dit vandag is. Die rede hiervoor is ook miskien omdat die 10 000 liggies nie aangesit word net om mense in die Kersfeesgees te plaas nie, maar ook om vir Johannesburgers terug te gee.

Gloeilampe kan geborg word om Hospice Witwatersrand te ondersteun en finansieel te help teen R50 ʼn gloeilamp. Baie mense borg ʼn gloeilamp omdat hulle graag betrokke wil raak en ander doen dit omdat hulleself geliefdes in soortgelyke situasies het of gehad het.

Dit is ʼn heerlike uitstappie vir die hele gesin nie net om die boom van nader te gaan besigtig nie, maar ook om die dieretuin te besoek.

Adderleystraat, Kaapstad

Hierdie tyd van die jaar tydens die begin van die vakansie, word die hele Adderleystraat in die Kaapstadse middestad verlig deur duisende Kersliggies. Op 14 Desember word die ligskakelaar deur die burgemeester van Kaapstad aangeskakel.

Kleurvolle feestelike uitbeeldings verhelder die straat elke aand en kan besigtig word tot vroeg in Januarie. Dit is die moeite werd om ʼn windstil aand met een van die oudste strate in Kaapstad af te wandel saam met ʼn geliefde of die gesin om elke uitbeelding van nader te bekyk.

Die hele ervaring is gratis en sorg dat jy die feestelike atmosfeer van Kersfees begin beleef.

Vertel ons gerus van soortgelyke Kerservarings in jou omgewing!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.