Gedagte vir die dag: Om die onsigbare te sien

Paternoster_strand_see_JBester-2.jpg

Foto: Jacqui Bester

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. (Ef 1:18-19)

Lees Efesiërs 1:18-23

Paulus is steeds besig met sy gebed vir die Efesiërs. Nou vra hy dat die Here hulle geestesoë sal oopmaak sodat hulle sal kan weet watter wonderlike dinge sy roeping inhou, asook dat hulle sal besef watter rykdom daar is in die erfenis wat God hulle beloof het. Hy bid ook dat die gemeente van Efese God werklik sal ken. Om God te ken vereis dat hulle oë sal hê wat die Onsienlike sal kan raaksien. Geloof is egter eerder ’n saak van vertrou as van letterlik sien. Die Hebreërsskrywer sê: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1).

God wil ook vir jóú geestelike oë gee waarmee jy Hom sal kan raaksien, asook die wysheid om Hom werklik te leer ken sodat jy eerstehands sal ontdek watter wonderlike hoop daar is vir die mense wat in God glo. Jy sal terselfdertyd ook ontdek hoe geweldig groot die krag is wat in jóú werk as jy vir alles op God vertrou. Hy wil graag daardie wonderwerkende krag in jou lewe in werking stel. Met hierdie krag tot jou beskikking sal jy dit kan reg kry om die Bose te oorwin.

Hemelse Vader, gee asseblief vir my die geloofsoë wat nodig is om u hemelse erfenis raak te sien, asook die krag waarmee ek die Bose sal kan oorwin. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Genade op genade: wanneer ‘n mens se “geloofsoë” deur die Heilige Gees geopen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.