Nuuskommentaar: Is Solidariteitplan mosie van wantroue in regering?

Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Dis moeilik om te sien hoe die omvattende Solidariteit-selfhelpplan nie as ʼn mosie van wantroue in die ANC-regering beskou gaan word nie. Dié sentimente word gedeel deur diegene wat die plan steun en meer as keelvol vir die ANC se swak regeerverrmoë is en diegene soos Adriaan Basson, wat allerlei spoke in die plan sien en dit verdag probeer twiet. Gelukkig het Rapport en die ander Afrikaanse media ʼn veel nugterder oordeel daaroor uitgespreek.

Die plan, wat miljarde rande beloop, word Saterdag tydens ʼn Toekomsberaad in Pretoria bekend gestel.

Of dit wys is om hierdie aspek skerp te belig, is ʼn ander vraag. Dit sal bepaald suur opgeneem word deur die regering, veral terwyl die ANC sy “goeie storie” probeer verkwansel en om werkbare modelle in ʼn klimaat van polarisasie te skep, is moeilik.

Elke regering gaan deur fases waar die breë publiek afsydig of selfs minagtend teenoor die verkose regering staan, veral as van mandate wegbeweeg word of korrupsie endemies raak.

In die Oekraïne het die party van die uitgeskopte pro-Russiese president Janokowitsj, byvoorbeeld, die oud-president uit die party geskop en verbied om namens daardie party aan die daaropvolgende demokratiese prosesse deel te neem. Sy horende doofheid vir algemene weerstand en sy super-Nkandla het net te swaar teen hom getel.

In die VSA toon peilings op ʼn interessante tendens. Volgens die jongste Rasmussenpeiling meen die meeste Amerikaners hul land is die beste land ter wêreld, maar glo nie die wêreld ervaar dit so nie. In Maart het ʼn peiling aan die lig gebring dat die meeste Amerikaners glo die VSA se prestige het tydens die bewind van pres. Barack Obama gedaal. Net ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede het 86% Amerikaners aangedui hulle is trots om Amerikaners te wees.

Ten spyte van ʼn groot regeringsinisiatief om die konsep te skep van “eerstens Suid-Afrikaner”, dui peilings daarop dat die teenoorgestelde gebeur en die land neig om eerder in terme van ras eerste, te assosieer. Uiteraard speel die regering se rassebeleid, wat die burger se lewe van die wieg tot die graf rig, hierin ʼn groot rol. Hierdie ras-respons skep ook verskeie probleme om alternatiewe planne te maak wat grondwetlik en volgens die internasionale reg, houdbaar is. Boonop sal die ANC-regering, soos dit sy styl geword het, voortgaan om enige Afrikaneraksie met rasmotiewe gelyk te stel en verdag te maak.

Intussen kan met reg gevra word of die Afrikaner nou opnuut by die punt van ʼn volk se ontwaking staan. Waar die hand in eie boesem gesteek word om grondwetlike regte op te neem. Waar die Afrikaner so ver moontlik volgens sy eie konsep van aanvaarbare standaarde kan leef en laat leef. Hy gaan steeds aan die “keiser” betaal wat die keiser toekom, maar met allerlei aksies, waaronder regsaksies, probeer verseker dat die nodige dienste wel met daardie geld gelewer word.

Rapport maan met meriete dat voorspoed altyd bedreig sal word as die buurman honger is. Vennote onder veral ander minderheidsgemeenskappe gaan belangrik wees.

Die Toekomsberaad moet eerder as ʼn mosie van vertroue in die Afrikaner, as ʼn mosie van wantroue in die regering beskou word. Dit hang egter van die regering af hoe eng die onderskeid gaan wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Martin ·

Wanneer ” die Keiser” my belasting geld vir toiletpapier gebruik kom dit hom nie meer toe nie.

Pierre ·

Om in Suid Afrika belasting te betaal is in sigself misdaad.
Belasting geld word gebruik om kriminele aktiwiteite te bevorder en te help.
“Aiding and abetting” is die term.

Bruno Stef ·

Op gisteraand se 7uur nuus het Zuma en sy kommunistiese kameraad Blade dan kwansuis die Afrikaner aangespreek dat hulle hulself nie moet isoleer van die res van SA nie.Dit is vir my n duidelike teken dat hulle kennis geneem het van Solidariteit se inisiatiewe en organisering onder ons eie mense en eintlik verdeeldheid wil voorstaan wat hulle beter beheer kan gee. In die proses word van n poefter tot bedenklike hoernalistiek gebruik gemaak om die mening onder Afrikaners tot hulle eie voordeel aan te wend.

Gerhardt ·

Ja nee , dit wat presies die keiser toekom en om watter rede, is ‘n ope vraag. Betaal wetiglik so min as moontlik belasting.

Adri ·

Ek het sowat twee dae gelede kommentaat van Theo Venter (politieke komentator van NWU) gehoor, waar hy die beraad skerp veroordeel. Ek het altyd gedink Mnr Venter het ‘n redelike goeie oordeel. na hierdie kommentaar betwyfel ek sy oordeels vermoee.

Hy val nou in die kategorie van ander politieke komentators wat tulbande dra, wat verhoed dat daar genoegsame suurstof by hulle breine uitkom, om logies te kan dink en te redeneer.

Hulle het normaalweg baie kommentaar, maar het weing werkbare oplossings.

Kyk na vele kommentators in die verlede, wat nog steeds kommentaar lewer.

Hulle is soos stootskrapers wat in ‘n gruisgroef gebreek het en onekonomies hestelbaar is.

Kan net as skrootstaal verkoop word.

Sakkie du Plooy ·

Natuurlik is dit ‘n mosie van wantroue! Wie sou nie so ‘n mosie steun as jou familie vermoor word en kinders landuit vlug omdat hulle velkleur hulle diskwalifiseer vir werk en korrupsie ‘n handvol mense vetmaak ten koste van miljoene armes! MAAR, die beraad is inderdaad ook ‘n mosie van VERTROUE in die Afrikaner se vermoe om op te staan en self te doen – om te leef en te laat leef. Maar eerstens gaan ons sekermaak dat ons eie kinders sal leef in vrede, veiligheid en voorspoed in hierdie land wat hulle voorgeslagte met harde werk opgebou het tot ‘n werkende, voorspoedige Afrikaland. Ons gaan nie vorentoe om die braaivleisvure kla en uitwei oor die gemors wat “hulle” van die land maak nie. Nee, ons gaan praat oor ons planne en suksesse en spog oor dit wat ons elkeen al tot stand gebring het om hoop vir ons mense en ons kinders te skep.

Winston ·

Wou iets sê maar toe sê jy alles Sakkie. Dit is egter so, dat voorspoed deur n honger buurman bedreig sal word. Hier kan ons maar net Israel se voorbeeld volg. Al is ons grense ook net denkbeeldig. Ons sal om die vure van ons suksesse praat en wat nog gedoen kan en moet word. Ek het geen illusie oor die vermoëns van ons mense nie. Puik artikel Herman. Dankie

Said Boss ·

Mense, Solidariteit het n plan, nie net “stories” nie. los die politieke lospraatery en kyk wat regrig aan die gang is en hoe ver solidariteit al is om vir jou n beter en stabiele toekoms te verseker. nee hul is nie n politieke teenvoeter nie, net regdenkende mense wat nie hoef te lieg soos politieke ampsdraers. dit is logiese praktiese oplossings sonder bedrog.

Karen ·

Dit BETER n mosie van wantroue wees anders is daar meer verkeerd as wat mens gedink het.

Elmien ·

Watse vertroue in die regering en daar is niks om oor positief te wees nie. Dit is nou regtig tyd dat ons oe oopgaan en ons ophou om te maak of alles reg is. Niks is meer reg nie, kom wees nou vir ‘n slag realisties hoe moet ons vertroue hê.

Sarie ·

Basson en Jan-Jan Joubert is baie teen Solidariteit se plan gekant. Gelukkig het Flip en sy span al gewys dat hulle kan fokus en met alles teen hulle sukses behaal. Hierdie twee here wil nie Afrikaners wees nie. Hulle ideaal is dat almal soos hulle moet dink en saamwerk om hulle ideologie te laat slaag.

Henry ·

Dankie vader!

Ek sou uiters bekommerd wees indien Basson, Joubert of enige van hul geesgenote met Solidariteit se planne beïndruk sou wees.

Waarheid ·

Aan ANC: ‘Laat my Volk gaan’. Interne selfbeskikking is ‘n wen-wen. Versuim sal lei tot groter verliese vir die ANC oor 2 jaar.

John ·

Twintig jaar gelede is daar gepraat van ‘eie sake’. Die term is onder die mat gevee. Solidariteit probeer nou die mat oprol. Die ANC sal nooit toelaat dat die Afrikaner homself ophef nie. Die ANC se groot hefboom is die miljoene ander Afrikane wat glo eerste in die tou moet staan. En dan is daar ook nog die anderskleurige Afrikaanssprekendes wat glo ook voor die Afrikaners in die tou hoort. Sedert Brittanje op slinkse wyse beheer oor Suid-Afrika verkry het kort na die grondlegging, het mense soos eerwaarde Philip en andere die buiteland vergiftig met negatiewe beriggewing oor die slegte spul wat nou nog ook hul eie taaltjie wil besig. Al die haat jeens Afrikaans is toe al by die swartmense gekweek en dit nogal deur sulke goeie Christene. Hoe bang was Engeland tog nie dat die Boere enige van die minerale sou opdiep uit die grond nie. Wie het eintlik die meeste stroopwerk in ons land gedoen? Maar swart Afrikane val hoeka oor hul voete om Engels te kan praat en laag te buig voor die Queen met ons diamante en goud in haar kroon. Nou is ons president gou om die Afrikaners oor die vingers te tik omdat hulle selfwerksaam wil wees; die klein klompie wat nog altyd lojaal aan hul land was, getrou belasting betaal en kerse opsteek as Eskom piep. Die geld wat Solidariteit het, het hy nie gesteel nie. Kom ons kyk nou hoe gaan planne beraam word om ook dit uit die Afrikaner se koffertjie te verduister.

Millie ·

Ek ondersteun beide Solidariteit en Afriforum finansieël en sal daarmee aanhou aangesien ek ‘n beter toekoms vir my kinders en kleinkinders in hierdie land wil sien. Hierdie projekte bevoordeel in elk geval almal wat in die area bly waar ‘n verskil gemaak word soos bv waar slaggate in paaie reggemaak word.

Johannes Meintjes ·

Ons weet dat net dadels gekom het van die mooi beloftes vir wigte en teenwigte rondom die “Stem Ja” briewe voor 1994. Die huidige selfbestuur prosesse is bloot ‘n baie laat optrede in die rigting van eie belange vir ander kultuurgroepe (die Afrikaner) in SA. Die regering en ministers se taak is om die mense te dien, nie anders om. Nou moet die mense baie laat maar desnoods self ‘n ander plan maak op ‘n ordelike en volhoubare pad na vooruitgang en grondwetlikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.