Delft se geliefde Oupa Blom sterf

Oupa Fredie Blom, twee dae voor sy 116de verjaarsdag. (Foto: Eunice Stoltz.)

“’n Vader vir ons nasie, ʼn leier, ʼn koning.”

Só is die 116-jarige Fredie Blom beskryf nadat hy Vrydagaand vreedsaam in die ouderdom van 116 dood is.

Maroela Media het vroeër berig oor dié geliefde omie van Delft in die Wes-Kaap, allerweë bekend as Oupa Blom, wie se identiteitsdokument talle oë laat rek het.

André Naidoo, ʼn familievriend, het gesê Oupa Blom is vroeër vandeesweek in die Tygerberg-hospitaal opgeneem met ernstige maagpyn. Hy wou ook glad nie meer eet nie. Volgens Naidoo het hy egter nie Covid-19 onder lede gehad nie.

Tot weke gelede het Oupa Blom nog elke dag by sy onderneming gewerskaf – hy het vuurmaakhout verkoop – maar hy het skielik begin wegkwyn.

Oupa en Ouma Blom. (Foto: Eunice Stoltz.)

“Twee weke gelede kon hy nog hout kap, ʼn byl gebruik … Skielik het sy liggaam net begin ingee,” het Naidoo gesê.

Talle inwoners het Saterdag na die huis met die rooi vensterrame in Delft gestroom om hul medelye met Oupa Blom se afsterwe te betuig. Naidoo sê talle van die inwoners, veral die ouer dames, vertel wonderlike staaltjies oor die statige ou oom.

Oupa Blom is reeds die afgelope 46 jaar met sy vrou, Jeanette (87), getroud.

Onder die omstandighede gaan dit goed met Ouma Jeanette, het Naidoo gesê. “Ouma is oukei, maar haar hart is stukkend.

“Hy was werklik ʼn liewe man. En daai een woord wat hy altyd vir my, wat Engelssprekend is, só mooi gesê het: ‘Dankie’.”

Lees ook Maroela Media se berig oor Oupa Blom hier.

  • Begrafnisreëling vir Blom sal eers Maandag bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Excalibur ·

Die Bybel verwys na ouderdom 70< jaar as geseend maar om dit 46 jaar verder te kon neem spreek van Dubbele Geseendheid, Voorbeeld, Genade en Voorreg wat slegs deur 'n goeie Christen lewe Godgegewe kon gewees het…Oompie, jy het jou Vader met trots vervul en Hy het jou kom haal omdat jou werk op aard volbring is…mag Oupa Blom nou in sielerus vrede in die paradys vind en sy Skepper sy geliefdes met liefde en troos omvou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.