Op 116 ‘tel ek nie meer nie’ sê Oupa Blom

Fredie Blom, twee dae voor sy 116de verjaarsdag. (Foto: Eunice Stoltz.)

Die huis op die hoek met die rooi vensterrame in Voorbrug, Delft in die Wes-Kaap, het formeel in 1990 die woning van Fredie Blom geword.

Op 116-jarige ouderdom woon hy saam met Jeanette Blom (87), en haar ses kinders – twee van haar eie, twee aanneemkinders en twee grootmaakkinders. Hoewel Oupa Blom nie die Covid-19-pandemie begryp nie, het hy die verlies tydens die Spaanse Griep van 1918 aan sy lyf gevoel nadat beide sy ouers en susters aan die Griep oorlede is.

Oupa Blom is op 8 Mei 1904 in die landelike dorpie, Adelaide, naby die Groot Winterberge in die Oos-Kaap, gebore. Hy het sy heimat verlaat om op ’n plaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap handearbeid te verrig. Beloftes van goue berge het Oupa Blom na Kaapstad laat verhuis waar hy weer, dié keer op ’n hoenderplaas, gewerk het. Dáár ontmoet hy jare later vir Ouma Jeanette. Op 68-jarige ouderdom, in 1972 op 22 Desember, trou Oupa Blom vir die eerste keer. Hy en Ouma Jeanette gedenk vanjaar hul 48ste huweliksherdenking.

“Al is ons ver van mekaar is dit die gedagte wat tel,” sê Ouma Jeanette. Sy vertel dat Oupa die afgelope jaar duidelik ouer geword het.

“Die wilskrag is nie meer daar nie, en hy is kort gespan. As jy oud word, raak jy soos ’n kind. Ek experience dit met Oupa. Oupa onthou nie meer die verlede nie”. Sy voeg by, “Oupa kap nog altyd.”

Fredie Blom se identiteitsdokument. (Foto: Eunice Stoltz.)

Oupa Blom ken van afsondering, eenkant wees en stilwees. Aan die een kant van die huis het hy ’n klein tuintjie, waarin hy gereeld vertoef. Aan die ander kant van die huis is sy afdak waaronder hy sorgeloos hout kap, vuur maak en tabak rook.

Toe Ouma oor die houtkappery gesels, raak sy kriewelrig, en vertel effentjies omgekrap.

“Hy het my walking ring opgesaag. Mooi netjies. Die walking ring se pootjies is nou sy stapstok se onderkant.”

Vanjaar gesels amper net Ouma Jeanette. Oupa praat deur sy hande te swaai.

Verlede jaar dié tyd, toe die Covid-19-pandemie na iets uit ’n riller storieboek sou klink, is daar groot makietie gehou toe Oupa Blom 115 geword het. Sowat 100 mense – familie en vriende – het die uitsonderlike mylpaal in die Delft-burgersentrum gevier. Daar was genoeg koek en verversings vir almal – tot die media kon saam eet.

Verskeie mediahuise beplan om Vrydag vir Oupa te besoek. Volgens Gadija Francis, voorsitter van die Delft Senior-forum, word die media slegs 20 minute elk saam met Oupa toegelaat en word hulle beperk tot twee mense. Hulle is elk ook ’n tydgleuf toegedien om groot groepe mense te vermy. Die polisie is ook gevra om die verrigtinge te reguleer en te monitor.

Oupa is vanjaar merkbaar stiller as die vorige jaar. Dit is Ouma Jeanette wat ’n wens maak.

“My wens is dat ons die land se leiers moet gehoorsaam. Die wette onderdanig wees. Soos ’n kind sy ouers gehoorsaam.’

Byna in ooreenstemming klink dié wens na Oupa Blom se woorde van verlede jaar. Sy raad vir ’n lang lewe tóé, was: “Gehoorsaamheid. Die Woord van God beskryf dit, eer jou Vader en jou Moeder.”

Dit is dan dalk die Blom-gesin se geheim: gehoorsaamheid.

Buite, langs die afdak waaronder hy sy hout kap, vuur maak en tabak rook, is dit juis waar Oupa Blom sit. Dit is 2020, byna 116 jaar ná Oupa Blom naby die Groot Winterberge in die Oos-Kaap, op 8 Mei in 1904 gebore is.

Weet hy dat hy oor twee dae 116 jaar word? Hy antwoord ná ’n rukkie, arms swaaiend.

“Ek weet nie. Ek tel nie meer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Klink na n visvang storie, sal maar n paar meter afslaan met die beskrywing van die grote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.