Karoo bekoor, inspireer Márica Barnard se musiek

Márica Barnard. (Foto: Verskaf)

Die sangeres en liedjieskrywer Márica Barnard se jongste enkelsnit getiteld “Boegoebos” beskryf die Karoo in al sy onvergeetlike glorie.

In “Boegoebos” sing Barnard oor die maan en die sterre wat soms die enigste lig in die duisternis van die Karoo is, die aardse mense en die reuk van kruie en plante.

“Ek verlang na my tyd in die Karoo waar almal so na aan die aarde lewe,” vertel sy oor die inspirasie vir die liedjie. Die lirieke is uit Barnard se eie pen terwyl toonsetting deur Piet van Wyk de Vries behartig is.

“’n Stukkie van my hart het in die Karoo agtergebly en ek voel altyd tuis wanneer ek by een van daardie Karoo-huisies met die misvloere instap.”

“Boegoebos” het egter ook meer as net ’n sintuiglike aanslag, sê sy. “Net soos die snit ‘My nooi is in ’n nartjie’, kan die reuk van boegoebos, die geluid van die wind en die veraf geblêr van die skape amper in die snit gehoor word.”

In “Boegoebos” beskryf sy die Karoo in al sy grootse glorie: “Die sterre was ons donskombers, waarmee ons aanmekaar was. Die jakkals het geroep en ons laat fluister voor die maan. Die swaeltjies wat in die klowe speel, die heide in ons hare, jou blou oë het my vals laat glo, my bloed loop deur jou are …”

Barnard vertel sy het tydens haar huwelik van 17 jaar op gedigte gefokus, maar het ná haar egskeiding besluit om groter musiekspronge te waag.

Márica Barnard. (Foto: Verskaf)

“Tydens my huwelik het ek weggestaan van musiek en op my gedigte gekonsentreer. Die gedigte bly steeds deel van my vertonings.

“Dit is vir my altyd belangrik dat mense regtig moet luister. Dit is vir my belangrik dat hulle die woorde hoor en ’n kunstenaar se emosies respekteer.”

Sy vertel die gehoor wat aanklank by haar musiek vind, is juis dié wat ook ʼn liefde vir woorde en die Afrikaanse taal het.

“Mense wat al ʼn bietjie geleef het, verstaan my musiek. Ek was self van skool af mal daaroor om in woorde en gedigte verdiep te raak. Kunstenaars soos Amanda Strydom en Coenie de Villiers inspireer my.”

Barnard het vroeër vanjaar die enkelsnit “Stofpaaie” uitgereik, wat baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang is.

Hoewel sy geen formele musiekopleiding gehad nie, is sy al van jongs af met musiek doenig. Sy het aan verskeie kompetisies soos Musiek en Liriek deelgeneem en het tot die topvyf deurgedring. Sy het ook haarself leer kitaar speel.

Die sangeres, wat ook voorheen die Asbos-huisteater in Pretoria besit het, beplan om haar op Steytlerville tuis te maak en voort te bou op die sukses wat sy in Pretoria met dié tuisteater behaal het.

“Ek droom van teater op ʼn podsendingsplatform, maar ek sal nog moet sien hoe die konsep van gedaante gaan verwissel soos wat die tyd verloop. Steytlerville is ʼn lekker middelpunt tussen die Oos- en Wes-Kaap, en is sentraal geleë om te reis vir vertonings. Ek sien uit na die rustige lewe wat vir my voorlê.”

Die omslag vir Barnard se vollengte album, Louter, is deur die Pretoriase kunstenaar Mea LaVie geskep.

“Ek wou vir die omslag op die Klimt-skilderye van Freya sinspeel – die goue trane, amper soos ʼn Midas-effek,” verduidelik Barnard.

“Dit was ʼn lang proses om die album te voltooi aangesien ek liedjies in die album wou voeg wat getuig van lewenservaring.”

Louter is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Barnard kan ook op Facebook en Instagram gevolg word. Volg die skakel om met Barnard kontak te maak.

Sy is op Sondag 20 November om 15:00 by die AfriForum-teater in Pretoria te sien. Chanie Jonker is die pianis vir die vertoning. Kaartjies kos R150 per persoon en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.