Verjaarsdagkoek red broers teen luiperd

Argieffoto (Foto: Michael Siebert/Pixabay)

Twee broers het ter nouernood van ʼn luiperd in Indië ontkom toe hulle ʼn verjaarsdagkoek na die kat gegooi het. Die luiperd het hulle agternagesit toe hulle op ʼn motorfiets gery het, het beamptes Donderdag gesê.

“Mens se eerste instink as jy in gevaar is, is om alles in jou vermoë te doen om jouself te red,” het ʼn bosboubeampte aan AFP gesê. “Dis wat hulle gedoen het. Hulle het ʼn koek by hulle gehad en dit toe in die luiperd se rigting gegooi.”

Volgens die Times of India was Firoz en Sabir Mansuri teen sononder op pad na ʼn verjaarsdagpartytjie vir Firoz se seun in Madhya Pradesh toe die luiperd uit ʼn suikerrietplantasie op hulle afgestorm het.

Hulle het vinniger begin ry, maar die kat het hulle op die modderige pad begin inhaal. Sabir, wat agterop die fiets gesit het, het toe besluit om die boks met die verjaarsdagkoek in na die dier te gooi.

Die kat het moed opgegee en weer in die plantasie verdwyn – sonder om ondersoek in te stel na die voorwerp wat in sy rigting geslinger is.

“Die luiperd het ons meer as 500 m ver gejaag. Ons het ter nouernood ontkom,” het Sabir gesê.

Luiperdgetalle het tussen 2014 en 2018 met meer as 60% toegeneem tot byna 13 000, aldus die regering. Die mees getalle is in Madhya Pradesh aangeteken. Hulle is nie so skrikkerig vir mense soos tiers nie en betree graag dorpe en selfs stede.

Aanvalle op volwasse mense is seldsaam, maar kinders is in gevaar. ʼn Luiperd het verlede maand ʼn vierjarige by haar ouers se tuin in Kashmir gegryp. Haar geskende liggaam is die volgende dag gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naomi ·

Haha dink hul het altwee spore in hul broeke gehad dankie vir die koek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.