Luukse Ford Fusion

Ford Fusion Foto: QuickPic

Ford Fusion Foto: QuickPic

Dis redelik wyd bekend dat alle vervaardigers/invoerders die “Groot Drie” Duitse vervaardigers – Audi, BMW en Mercedes-Benz – as rolmodelle beskou in die kategorie vir die sogenaamde intreevlak luukse motors.

Buitestaanders soos Lexus, Infiniti, Volvo en ook Honda Accord probeer steeds hard, maar tot dusver het Ford Mondeo en Toyota se Camry nou nie juis die verbeelding aangegryp nie.

Intussen het die Mondeo (steeds ‘n bekende naam in sekere wêrelddele) in ons land aangekom in splinternuwe gewaad en onder die naam Fusion.

En wat ‘n uitstekende produk is dit nie. Duitse ingenieursvernuf straal uit die nuweling wat, terloops, in Spanje vervaardig word. Dis duidelik dat die nuwe Fusion ontwikkel is as ‘n bekostigbare alternatief vir die Duitse Drie – sonder om enigsins gehalte in te boet.

Die rit en padhouvermoë is, soos by feitlik alle Fords, uit die boonste rakke danksy volledig onafhanklike vering voor en agter, en die gebruik van eksotiese materiale soos titaan en spesiale staallegerings wat sorg vir ‘n buitengewoon wringvrye bak, benewens die voordeel van ‘n relatief lae voertuigmassa in die orde van 1.515 kilogram.

Die Fusion se lengte (4.869 meter) plaas hom duidelik in dieselfde klas as Mercedes-Benz se C-klas, Audi se A4, en die BMW 3-reeks.

Maar benewens die Fusion se grootte is sy uitgebreide lys veiligheids- en geriefkenmerke hierdie nuweling se sterkpunte.

Kopers kan selfs by die enjinreeks begin waar die 1.5-liter met sy 132 kW en 240 Nm kenners aan die praat het. En glo my, hierdie viersilinder voel soos ‘n 3-liter V6 maar is spesifiek ontwerp om ‘n gemiddelde brandstofverbruik van so laag as 7.4 liters/100 km op te tower.

Benewens hierdie briljante 1.5-liter is daar ook twee 2-liters wat onderskeidelik 149 kW en 177 kW ontwikkel, terwyl Ford se bekende 2-liter turbodiesel self 132 kW ontwikkel en op die oop pad, volgens die vervaardigers, net 5.1 liters per 100 kilometers sal gebruik.

Alle modelle is toegerus met 6-gang outomatiese ratkaste en word deur die voorwiele aangedryf. Ondanks die indrukwekkende kraguitsette is daar feitlik geen teken van wringstuur nie. Dis nou daardie gevoel wat ‘n mens by seker motors kry wanneer daar ietwat wild weggetrek word en die stuur ‘n wil van sy eie openbaar.

Benewens die Fusion se pragtige uiterlike wemel dit van luukshede binne. Verhitte kantspieëls, ritrekenaar, sleutelvrye aan- en afskakel, en ‘n gevorderde Sony-klanstelsel, Bluetooth, USB- en Aux-sokke is maar enkele van die luukse kenmerke wat die Fusion in staat stel om op gelyke voet mee te ding.

Sekere modelle het ook leersitplekke wat elektries verstel kan word en wat voor en agter in die winter verhit kan word.

Sewe lugsakke (alle modelle), ABS-remme met remhulp, stabiliteitsprogramme met vastrapbeheer en skyfremme op al vier wiele wys dat die Fusion van plan is om sy mededingers behoorlik die stryd aan te sê.

Ander uitsonderlike waarde vir geld-aspekte is die petrolmodelle se 20 000 km diensintervalle (diesel steeds 15 000 km), omvattende 4-jaar/120 000 km waarborg, 4 jaar/80 000 km diensplan (5 jaar en 90 000 km in die diesel se geval) en ook ‘n 5 jaar waarborg teen roeskade.

Ten slotte
Die Ford Fusion se span DuItse ingenieurs het daarin geslaag om ‘n motor daar te stel wat die manne van Ingolstadt (Audi), Stuttgart (Mercedes-Benz) en München (BMW) regop gaan laat sit.

Die Fusion-reeks begin by R350 000 en strek – afhangende van gespesifiseerde toebehore – tot by R448 000. Veral vir kopers wat dikwels moet hoor dat feitlik elke luukse item ekstra gaan kos (soos wat die Duitsers lief is om te doen) is die Fusion soos ‘n vars briesie.

Die Ford Fusion word sterk aanbeveel – net jammer van daardie patetiese mini-noodwiel wat nie veel vertroue inboesem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.