Video: Fliekvlooie kan hierna uitsien

Argieffoto

Argieffoto

Maroela Media het by die bekende Leon van Nierop, rolprentmaker en filmresensent, gaan aanklop vir sy fliekkeuses vir die vakansie.

Hy gesels ook oor ʼn paar van die groot rolprente van 2015. Van die rolprente wat hy bespreek, is reeds op DVD beskikbaar en ʼn lokprent van elke fliek volg onderaan sy aanbeveling. Let asseblief daarop dat die ouderdomsbeperking wat vir die rolprent geld ook op die lokprent van toepassing is. Maak dus seker van die ouderdomsbeperking voordat jy toelaat dat jou kinders na die lokprent kyk.

Die volledige onderhoud met Leon volg onderaan die berig.

Big Hero 6

Leon van Nierop: “In Big Hero 6 is dit die eerste keer wat ek sien dat Japannese en Amerikaanse animasie eintlik volmaak gekombineer word. Splinternuwe animasietegnieke word gebruik en ʼn nuwe storie word vertel. Enigiemand wat ʼn kind in die Kerstyd wil vermaak, kan Big Hero 6 gaan kyk.”

Begin op 24 Desember by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Ouerleiding vir geweld.

Rolverdeling: Met stemme deur onder meer Ryan Potter, Scott Adsit en Daniel Gerson.


 The Hundred-Foot Journey

Leon van Nierop: “Hierdie fliek gaan oor ʼn baie arrogante sjef in Frankryk (Helen Mirren). ʼn Indiër sjef (Om Puri) trek reg oorkant haar restaurant in, wat ʼn konfrontasie en ʼn kompetisie tot gevolg het. So kom jy agter dat sjefs in hulle harte eintlik almal dieselfde is. En as ʼn mens die hand van vriendskap uitsteek, selfs al is dit oor ʼn straat waar twee kontrasterende en opponerende restaurante is, baat almal eintlik daarby omdat die wonderlikste kos gemaak word. Ek sou sê The Hundred-Foot Journey is een van die mooiste rolprente van hierdie jaar.”

Wys steeds tans by uitgesoekte teaters en is reeds op DVD beskikbaar.

Ouderdomsbeperking: 7 – 9 met ouerleiding vir geweld.

Rolverdeling: Helen Mirren, Om Puri, Mannish Dayal en Charlotte Le Bon.


Magic in the moonlight

Leon van Nierop: “Die fliek vertel die storie van ʼn vrou (Emma Stone) wat voorgee of sy (dalk is sy regtig) iemand wat in die toekoms kan sien. ʼn Towenaar (Colin Firth) wat nie glo dat sy eg is of kan doen wat sy sê sy kan doen nie, probeer haar ontmasker en die gevolg is heerlike komiese dialoog, snaakse situasies en natuurlik baie romanse. Omdat dit ʼn Woody Allen-rolprent is, is dit onortodokse romanse. Magic in the Moonlight is iets waarvan almal sal hou. Baie mense vra my om asseblief nie ʼn Woody Allen-fliek aan te beveel nie, maar hierdie een is werklik anders en dalk een van sy mees toeganklike rolprente.”

Wys tans by uitgesoekte teaters.

Ouderdomsbeperking: 7 – 9 met ouerleiding vir geweld en dwelms.

Rolverdeling: Colin Firth, Emma Stone, Jacki Weaver en Marcia Gay Harden.


Saving Mr Banks

Leon van Nierop: “Saving Mr Banks gaan oor die vriendskap en ook die aanvanklike vyandskap tussen P.L. Travers (Emma Thompson) – die formidabele skrywer van Mary Poppins – en Walt Disney (Tom Hanks) wat die rolprent wil maak. Travers wil aanvanklik nie vir hom die kopiereg gee om die film te maak nie en Disney moet dan al sy truuks uithaal, letterlik elke stukkie sjarme wat hy het, om haar te oortuig om die rolprent wel die lig te laat sien. Die fliek gaan oor die invloed wat dié twee op mekaar het en gaan ook oor verlore kinderdae en dinge wat in ʼn mens se kinderjare verkeerd loop. As jy regtig met warmte in jou hart uit jou sitkamer wil stap (die fliek is reeds op DVD beskikbaar) dan moet jy Saving Mr Banks kyk”.

Beskikbaar op DVD.

Ouderdomsbeperking: Nie geskik vir kinders onder 13 jaar nie.

Rolverdeling: Emma Thompson, Tom Hanks, Colin Farrell en Paul Giamatti.


The Boxtrolls

Leon van Nierop: “Saam met Big Hero 6 is hierdie die groot animasieverrassing van die jaar. Kykers moet egter in gedagte hou dat hierdie animasieprent bietjie “donker” is en temas soos selfbeeld ontgin. Kleiner kinders kan moontlik ontsteld raak deur sommige tonele wat dalk te intens is vir hulle.”

Wys tans by uitgesoekte teaters.

Ouderdomsbeperking: Ouerleiding vir geweld.

Rolverdeling: Met stemme deur onder andere Ben Kingsley, Elle Fanning en Tracy Morgan.


Into the woods

Leon van Nierop: “Into the Woods is ʼn uitstekende musical (wanneer daar bietjie donkerte bykom wil ʼn mens nie eintlik die woord musiekblyspel gebruik nie) wat gebaseer is op ʼn Broadway musical. Dit neem ʼn klomp sprokieskarakters soos onder andere Rooikappie, Aspoestertjie en Jan en die Boontjierank en kombineer hulle almal in ʼn musikale gedaante. Die eerste twee uur van die fliek word dit konvensioneel vertel en dan ewe skielik is daar ʼn regsomkeer en dan verander die rolprent en die karakters wat kykers nogal baie interessant sal vind. Into the woods is uitstekend.”

Begin op 2 Januarie 2015 by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Ouerleiding.

Rolverdeling: Merryl Streep, Johnny Depp, Anna Kendrick, Emily Blunt en Chris Pine.


St. Vincent

Leon van Nierop: “ʼn Jong seuntjie (Jaeden Lieberher) wie se ma (Melissa McCarthy) baie hard werk  en nie altyd na hom kan omsien nie, maak vriende met ʼn man (Bill Murray). Murray se karakter bly in die huis langsaan wat besig is om uit mekaar te val. Almal dink dat dié karakter eintlik ʼn nare ou ploert is, maar die seuntjie en Murray se karakter raak vriende. Die seuntjie kruip diep in die ou man se hart in en haal die mens agter die norse voorkoms uit. St. Vincent is regtig een van die beste rolprente wat ek gesien het wat volgende jaar begin.”

Begin op 9 Januarie 2015 by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Geen onder 13 vir taal, seks en dwelms.

Rolverdeling: Bill Murray, Melissa McCarthy, Naomi Watts, Chris O’Dowd en Jaeden Lieberher.


Birdman

Leon van Nierop: “Birdman gaan ʼn groot klomp Oscars kry. Ek wil nie sê hy gaan alles kry nie, maar hy gaan ʼn groot klomp kry. Dit gaan oor man wat ʼn karakter met die naam van Birdman vertolk het. Hy probeer dan om ʼn toneelstuk op Broadway die lig te laat sien, maar almal is teen hom want hulle wil graag hê hy moet Birdman bly. Hy beland op die verhoog en in die proses maak hy klomp nuwe vyande en gebeur daar allerhande dinge wat hy glad nie verwag het nie. Wat die rolprent so spesiaal maak, is dat dit lyk of alles in een skoot verfilm is, met ander woorde ʼn mens kom nie agter dat daar redigering is nie. ʼn Mens kry ʼn hele nuwe indruk van die teaterwêreld én die filmwêreld. Ek wil amper sê Birdman is een van die 20 beste rolprente wat ek al in my hele lewe gesien het, maar ʼn mens moet rolprentgeletterd wees en jy moet baie van rolprente hou om daarvan te hou. Jy moet ook rolprente as kunsvorm ondersteun om dit te verstaan.”

Begin 9 Januarie by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Geen onder 16 vir taal en geweld.

Rolverdeling: Michael Keaton, Emma Stone, Zach Galifianakis, Edward Norton en Naomi Watts.


Trash

Leon van Nierop: “Trash is een van 2015 se grootste rolprente wat kykers nie moet misloop nie.”

Begin 24 April 2015 by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Sal aangekondig word.

Rolverdeling: Rooney Mara, Martin Sheen en Wagner Mour.


Ballade vir ʼn Enkeling

Leon van Nierop se uiters gewilde Ballade vir ʼn Enkeling kry ook in 2015 ʼn splinternuwe baadjie en is tans in post-produksie.

Begin 20 Maart 2015 by Ster-Kinekor.

Ouderdomsbeperking: Sal aangekondig word.

Rolverdeling: Armand Aucamp, Rolanda Marais, Donnalee Roberts, en Jacques Bessenger.


 

Hier volg die volledige onderhoud met Leon van Nierop:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petro Bezuidenhout ·

Hierdie is waardevolle inligting.Dankie daarvoor Maroelamedia, wat innoverend te werk gegaan het om Leon van Nierop se kundigheid te tap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.