My Afrikaanse kat kom altyd weer

Jan was nie die gemiddelde kat op straat nie. Met Goliat se lyf en Dawid se hart, sou Jan sekerlik nie inpas by my regsvriende se idee van die “redelike kat” nie. Jy sien, Jan was ons huisheld sedert hy ʼn paar weke tevore kat-alleen ’n reuse rinkhals in die stikdonker huis doodgemaak het toe Pa nie mooi met die kers kon sien nie. Destyds, in die dae toe ʼn plaashuis nie eers ʼn sleutel gehad het nie, was slange nog die gevaarlikste goed op ʼn plaas. Ná die geveg het Jan vir ʼn paar dae verdwyn, en na baie soek het ons aanvaar hy’s dood. Eers die dag voor my lewe verander het, was Jan styf-styf terug, met ʼn verergde trek om sy bek asof hy vies was dat ons nie geweet het met nege lewens is hy steeds (ram)kat genoeg vir tien slange nie.

Dit was op vyfjarige ouderdom dat ek my oog in ʼn mesongeluk verloor het. ʼn Paar weke ná die ongeluk en die hospitaal op Klerksdorp, het my Ma gesien dat ek glad nie my oë of kop wou draai nie, en aanhoudend in alles vasgeloop het. Dokter Joubert se raad aan my onderwyseres-ma was dat sy my moes leer lees sodat ek kon leer om my oë en kop te beweeg.

Jacobus Daniël (Totius) du Toit (1877-1953). Digter, skrywer en teoloog. (Foto: Facebook)

Dís waar ek die Afrikaanse wêreld en die wêreld deur Afrikaans leer ken het, en lief geword het vir die Jan-kat taaltjie wat die wêreldgrote aangevat het. ʼn Taal so klein soos Dawid met ʼn hart so groot soos Goliat. Vir my kindergemoed amper soos De la Rey wat Lord Methuen se magte op ons plaas platgeloop het. Oupa – ʼn oorlewende van die Barberton Konsentrasiekamp ‒ het altyd gesê dis vir hom ʼn troos om te dink dat die laaste Engelse woord op ons plaas Tweebosch “Hensop” was. Afrikaans was vir hom en Ouma deel van die opstaan na die oorlog, deel van die “stok en die staf” van Totius se Psalm 23 wat hulle tydens boekevat onder die seringboom vertroos het. Later ‒ baie later met die afsterwe van my broer en susters ‒ was dit Totius se hartroerende pyngedigte oor sy kinders se dood wat mý vertroos het.

Daar was volop kos, liefde en Afrikaanse boeke en tydskrifte op ons plaas, danksy ouers wat opgeoffer het om vir hulle plaaskinders ʼn venster op die wêreld oop te maak. Die plaasboekerytjie se grense was oop en wyd, die liefde vir die taal en die boeke wat dit gedra het, is deur die buurplase gedeel. Ons Afrikaanse huis was nie bedompig nie, Ma het in oop taalvensters geglo. Genoeg vars taallug moes kon instroom om die koppe oop te maak. Sy het ook die Engelse wêreld geken en waardeer, en probeer om daardie gordyn vir ons oop te skuif, al het Oupa en Ouma daaroor gebrom. Tswana was die tweede taal op die plaas, die taal waardeur my maatjies moes moderniseer soos my pa geglo en in goeie Tswana verduidelik het.

Dit was nie vir my ʼn bewustelike besluit om lief te word vir Afrikaans nie, dit was déél van my ‒ rondom my ‒ soos die grond en die gras en die geskiedenis. Ek het deur Ouma se geskiedenis-oë na die ontstaan van Afrikaans gekyk ‒ verstaan dat dit nie ʼn maklike geboorte was nie, begryp dat dit kan doodgaan, en besluit dat so ʼn kosbare skat die moeite werd is om te bewaar. Vir my was dit vanselfsprekend dat Afrikaans en die Afrikaner een is ‒ dat die een nie sonder die ander kan nie. Soos water deel is van ʼn vis se bestaan en gelyktydig ʼn bestaansvoorwaarde is, so was Afrikaans vir my onafskeidbaar deel van wie en wat ek is. Afrikaans is my asem ‒ soos Breyten gesê het ‒ die water waarin en waardeur ek leef, en die lewensasem wat ons moes deel- ook met nie-Afrikaanse mense. Almal moes kon deel in die vreugde van die Afrikaanse sonskyn.

Vir ons was Afrikaans nie net ʼn “broodsaak” nie, dit was ʼn wonderwerk, die stok en die staf waarop ons mense gesteun het om te moderniseer. Later, baie later ‒ toe die plaas vir my te klein geword het ‒ het ek vir ʼn ruk lank die wonderwerkbeloftes oor Afrikaans probeer glo. Maar toe ek agterkom dat nuwe taalmoordenaars én selfmoordenaars Afrikaans wéér aandryf na ʼn kulturele konsentrasiekamp, het my rebellie begin. Hierdie keer is dit nie net ʼn broodsaak nie, maar ʼn doodsaak. Vir my gaan dit nie soos vroeër oor modernisering nie, maar oor die gevaar van demodernisering- en oorlewing. Engels word nou weer deur gretige hande gebruik as die stok en die staf om die sprekers van Afrikaans mee te slaan, weer as die wapen van massavernietiging van die taal én sy sprekersgemeenskap ‒ al mag mens dit nie sê nie.

Die Afrikaanse Taalmonu-ment in die Paarl, waarvan die ontwerp deur N.P. Van Wyk Louw geïnspireer is.

Maar gelukkig het ons ʼn geheime wapen. Ons taal en sy sprekers het nog altyd sterker geword as dit onder druk geplaas is. Konsentrasiekampe bereik snaaks genoeg altyd die teenoorgestelde. Dít wat die kerkhof moes wees, word die kraamkamer. Soos die VN se Human Development Report van 2004 so mooi in Engels sê: “If the history of the 20th Century showed anything, it is that the attempt either to exterminate cultural groups or to wish them away, elicits a stubborn resilience”.

Dis hoekom ons Jan-kat taal nege lewens het. Dis hoekom ons hierdie keer ook soos Van Wyk Louw “die skat van Afrikaans veilig deur die skare sal dra”. Werk maar en wag maar, die kat kom weer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

4 Kommentare

Heinrich Matthee ·

‘n Baie treffende stuk.

As mens nie daai Jan-kat kosgee nie, gaan mens die rotte moet kosgee.

Louis du Plessis ·

1  Wat ‘n louter vreugde om te hoor hoe Afrikaans “déél” is van my “soos die grond en die gras en die geskiedenis” :  “Soos water deel is van ‘n vis se bestaan en gelyktydig ‘n bestaansvoorwaarde is, so was Afrikaans vir my onafskeidbaar deel van wie en wat ek is.”
 
2  Voorts, hoe verdiep dit selfvertroue om te besef dat “‘n poging om kultuurgroepe uit te wis of weg te wens, ‘n koppige veerkrag uitlok.”  Soos Friedrich Nietzsche bevestig:  “Uit die militêre lewenskool:  Wat my nie doodmaak nie, maak my sterker.” 
 
3  Dankie Flip dat jy so vas glo:  Die Afrikaanse kat kom weer! 

Heinrich Matthee ·

Flip,

Die skryfstuk gee ‘n deel van jou eie verhaal, en dit raak natuurlik ‘n mens. Ek het dit nou weer gelees. Dit dra ook iets van die atmosfeer en ritmes van Afrikaanse plase oor. Daardie unieke Westerse leefwereld in Afrika wat ons grootouers kon meemaak, en soms ook ons.

Ek hoop dat al jou harde werk en Dirk Hermann-hulle se Treurgrond egter sal inagneem: in die buiteland moet die kat dalk in ‘n ander Engels vir voorstedelikes kan miaau.

Want verstaan buitelandse meningsvormers uit verre veilige voorstede werklik waaroor dit hier gaan? 

Dit gaan oor ‘n taal en moorde op plase en in woonbuurte, maar oor meer. Dit gaan letterlik en figuurlik oor die uitbrand van unieke kultuurruimtes. Die stukkendslaan van die lewensskakeltjies wat oupas en oumas, pa’s en ma’s, kinders en kleinkinders verbind.
 
Dit gaan oor menswees en die lewe in sy diepste betekenis. Enige Westerling met ‘n gladde menseregtespreuk op die lippe behoort in skaamte weg te sluip as hy of sy niks hieroor noem nie. Net soos mens reguit die enkeles onder jou eie mense moet vasvat wat nie respek vir andere toon nie. 

Sou gerigte kultuurtoerisme of meer verblyf op plase vir buitelandse toeriste ‘n oplossing bied? Of is dit net enkele vreemdelinge wat – soos Louis du Plessis gister noem in reaksie op Alana Bailey se stuk – hulself wel hul kan inleef in wat ander mense meemaak? 

Beste wense,
Heinrich

 

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.