Tuisonderrig: Ja of nee?

skool

Die belangstelling in tuisonderrig het oor die jare gegroei maar daar is egter nie betroubare syfers beskikbaar oor die hoeveelheid leerlinge wat tuisskoling kry nie. Foto: Argief.

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks berigte wat Maroela Media in die volgende paar weke oor tuisonderrig publiseer.

Tuisonderrig is waarskynlik een van die mees omstrede onderwyskwessies in die land en een waaroor ouers, opvoedkundiges en onderwyskenners uiteenlopende sienings het.

Die werklikheid is egter dat Afrikaanssprekende kinders wat buite die openbare onderwysstelsel val, sedert 1994 drasties toegeneem het.

In 1994/95 was daar 1,1 miljoen wit leerlinge in openbare skole. In 2010 het dit afgeneem tot 607 223.

Van die redes hiervoor is die verskuiwing na private skole, emigrasie en ’n laer geboortekoers. Die swak gehalte van die onderwysstelsel, die geloofwaardigheid van die matrieksertifikaat, ontevredenheid met ’n ideologies ingestelde kurrikulum in openbare skole, inmenging deur amptenare wat skoolbeheerliggame se besluitnemingsbevoegdheid aan bande wil lê, toenemende werkloosheid, verarming en hoër skoolgeld is ook alles faktore wat ’n rol hierin gespeel het.

Dié redes het tot gevolg gehad dat die belangstelling in tuisskoling oor die jare ook gegroei het. Betroubare syfers oor hoeveel leerlinge tuisskoling kry, is egter nie beskikbaar nie omdat daar na raming duisende leerlinge is wat nié by onderwysdepartemente vir tuisskoling geregistreer is nie.

Leendert van Oostrum, bestuurder van die Pestalozzi Trust, ’n regsfonds vir tuisonderwys, meen daar kan enigiets tussen 30 000 en 90 000 leerlinge wees wat een of ander vorm van tuisskoling kry. Volgens die 2011-sensussyfers is daar meer as 56 000 kinders in tuisskole.

Tuisskoling behels dat ’n tuisleerling van skoolpligtige ouderdom (7 tot 15 jaar) by ’n provinsiale onderwysdepartement geregistreer moet wees. Die Skolewet bepaal dat elke ouer elke leerling vir wie hy of sy verantwoordelik is, ’n skool laat bywoon van die eerste skooldag in die jaar waarin die leerling sewe word en tot die laaste skooldag van die jaar waarin hy 15 word, tensy die ouer voldoende rede het om dit nie te doen nie.

Die wet bepaal verder dat ’n ouer wat sy kind wil laat tuis onderrig by die hoof van die provinsiale onderwysdepartement moet aansoek doen om die kind as tuisskolier te registreer.

Art. 1 van die Kinderwet bepaal ook dat die beste belang van die kind altyd gedien moet word en dat ouers ’n verpligting het om die regte en belange van hul kinders te beskerm, insluitend teen amptenare en selfs wetgewers.

Van Oostrum meen van die redes waarom ouers nie hul kinders in openbare skole plaas nie, is omdat hulle glo die onderwysstelsel stel nie hul kinders se beste belang voorop nie. Hulle meen die onderwysstelsel en -wette meng in met die ouerlike plig wat moet verseker dat onderwys aan die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal moet voldoen.

’n Ouer wat versuim om te verseker dat die onderrig in die beste belang van die kind is, kan volgens Van Oostrum tot tien jaar tronkstraf opgelê word.

Ander redes waarom ouers nie kandidate by die onderwysdepartemente registreer nie, hou verband met die staat se ingesteldheid teenoor tuisskoling en onbeholpenheid en administratiewe rompslomp aan die kant van amptenare wat nie vertroud is met prosesse en prosedures rondom tuisskoling nie. Van Oostrum meen die departemente beskik ook nie oor die kapasiteit om tuisskoling te kontroleer nie.

Volgens Van Oostrum bespaar tuisskoling die staat na raming boonop meer as R800 miljoen per jaar. Onderwyskenners waarsku egter dat ouers al die wetlike en ander implikasies duidelik moet besef alvorens hulle op tuisskoling besluit.

Hulle beveel onder meer aan dat ouers hul huiswerk deeglik moet doen oor instansies en maatskappye wat byvoorbeeld bepaalde dienste lewer aan ouers wat tuisonderrig doen. Dit behels onder meer die verskaffing van kurrikulum-materiaal en hulpverlening met assessering van tuisskoliere se take/opdragte en eksamens. Impak is ’n voorbeeld van so ’n instansie wat produkte en dienste aan tuisskoliere voorsien en ook onderrigsentrums regoor die land het.

Die leerplan is omvattend en in ooreenstemming met die nasionale kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring (Caps) vir graad R tot 12.

Dit werk volgens ’n afstandsonderrigmodel en fasiliteerders en ouers kan daarmee op die individuele leerstyl en behoeftes van leerlinge fokus.

Leerlinge kan ook die nasionale senior sertifikaateksamen verwerf wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Omvattende Assessering (Sacai) aangebied word. Sacai is ’n onafhanklike assesseringsliggaam en eksamenraad wat voorlopig deur Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, geakkrediteer is.

Van Oostrum wys egter daarop dat daar ook ’n toename in kandidate is wat aan die einde van hul tuisskoling nie ’n eksamen vir ’n Suid-Afrikaanse kwalifikasie aflê nie. Meer en meer leerlinge spits hul daarop toe om die Britse Cambridge of Amerikaanse General Educational Development-eksamen (GED) of die kollege-toelatingstoets (SAT) af te lê.

Dr. Lanette Hattingh, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, meen ouers moet deeglike navorsing doen voordat hulle op tuisskoling besluit. “Baie hang van ’n kind en sy omstandighede af. Daar is inderdaad kinders wat probleme ervaar om in hoofstroomskole aan te pas of leergestremdhede het en in wie se geval tuisskoling die beste uitweg is.”

Hattingh het egter haar bedenkinge oor ’n een-tot-een-onderrigsituasie waar ’n ma haar kind wil onderrig. Waar dit gebeur moet die ouer baie seker wees dat hy of sy die dubbele rol van ouer en onderwyser kan vertolk. Hattingh meen ook tuisonderrig los nie noodwendig altyd alle probleme op nie. “Dit is noodsaaklik dat dié kinders ook die nodige leiding en blootstelling kry om normaal in die samelewing te kan aanpas.

“Ek sal ouers aanraai om hul kinders skolasties en emosioneel te laat evalueer alvorens so ’n groot besluit geneem word.”

Hattingh sê ouers moet ook seker maak dat tuisskoliere ’n behoorlike en erkende internasionale of Suid-Afrikaanse kurrikulum volg en dat dit aan al die nodige vereistes voldoen wat universiteite en kolleges vir verdere studie stel.

  • Hierdie is die eerste artikel in ‘n reeks berigte wat Maroela Media oor tuisonderrig in die volgende paar weke publiseer. Hou Maroela Media dop vir die volgende berig wat handel oor die registrasie van tuisskolers.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

41 Kommentare

Maryna ·

Dr Hatting sit dalk in ’n mate die pot bietjie mis. Alle kinders Tuisonderwys nie oor hul een of ander probleem het nie. Inteendeel is baie kinders wat Tuisonderwys baie begaafd met verskeie talente en akademie tel ook onder dit. Wat maak ’n onderwyser beter om my kinders te leer? Laat ek sien 30 plus ander kinders moet aandag kry dus kry die ou wat moontlik sukkel glad nie hulp nie. Hoekom anders sukkel kinders so op skool. Van almal wie ek ken wie se kinders in ’n openbare skool is sukkel met Wiskunde, maar nou toe kyk, my kinders doen nie. Nou hoe so? Ek sit die nodige tyd in om hul te help en te verseker elke ding het goeie fondasie en alle aspekte is verstaan. Die wat sy sê van blootstelling om normaal te kan aanpas. Nee my tannie julle dink duidelik ons sluit ons kinders in hokke toe en laat hul net soms uitkom om asem te skep. Weereens bewys dit dat mense onduidelikheid het oor Tuisonderwys. Ons kinders is normaal, ja regtig! Tuisonderwys is nie ’n ‘easy out nie’ dit verg baie verantwoordelikheid en harde werk.

Leendert van Oostrum ·

Enersyds is dit jammer dat Dr Hattingh so ‘n eng perspektief op die opvoeding nahou dat sy haar geen ander opvoedingsverhouding kan voorstel as “onderwyser-leerder” nie.

Dr Hattingh is wel reg oor die gevolge wanneer ouers probeer om onderwyser te speel en “skool” te hou, soos wat Impak se vorige promosie-artikel aanbeveel het. Die waarskynlikheid is baie hoog dat so ‘n ouer gaan uitbrand en die kinders weer in die skool eindig.

Dit is die noodwendige gevolg wanneer mens tuisonderwys verskraal tot tuis-“onderrig”.

Gelukkig is dit heelwat minder as 10% van tuisskolers wat nie baie gou leer dat mens nie “onderwyser” hoef te speel om kinders te laat leer nie, en dat daar in tuisonderwys geen voordeel is om gestruktureerde onderwysprogramme – wat neerkom op afstandsonderrig – te gebruik nie.

Retha Bremer ·

Ai tog, Mev Hattingh. Het U al tuisonderwys gedoen? Was U al in n posisie waarin U die beste belang van U kind voor U eie beroepsambisies gestel het? Het U al op n afgelee dorp gewoon met n swak staatskool en U besef dat dit werklik nie in die beste belang van U kind is om haar in die skool of in n koshuis te sit nie? Ek glo dat U werklik n goeie onderwyseres is, maar as U enigsins die verskil tussen die pedagogie van skool en die pedagogie van die gesonde gesinsomgewing besef het, sou U, U opinie nie eers gelug het nie. U sou dan ook bewus gewees het van verskeie tesisse en verhandelings rakende tuisonderwys wat juis d sukses daarvan uitwys in die metodes wat anders is as skool. Ja, om n klas te onderrig verg spesialiste, maar om n individu se sterk punte te ontwikkel, verg n mentor. Dit is werklik skreiend dat mense buite tuisonderwys hul opinies het, maar nie besef dat daardie opinies nie klop met navorsing nie. Ouers doen baie moeite om ingelig te wees rakende Tuisonderwys kwessies, maar die sogenaamde kundiges hamer steeds voort op kennis wat verouderd is. Verder het die inligtings ontploffing die skoolkennis met n knoppie huis toe gebring. Besef Mev Hattingh dat die beste wiskunde onderwysers in d wereld nou op You Tube is? Dat wiskunde kurrikulums nou op DVD’s gekoop word? As U dit nog nie besef nie, is U steeds besig om kinders vir die industriele era groot te maak, nie vir die kuber generasie of die nypende ambagstekorte nie.

Lizette ·

Ek stem volkome saam met Leendert van Oostrum in sy siening, aangesien hy jare se ondervin ding in hierdie bedryf het. Skole is net nie meer dieselfde nie, en die gehalte van hoogstaande standaard by meeste staatsskole het gedaal. Daarvan kan ek getuig in my gesin self en uit die ondervinding wat my familie en vriende uit skole ondervind. Driekwart van die tyd is dit klagtes oor te min aandag en tyd wat aan leerlinge gegee word, ongeduld by onderwysers, wegwys van kinders uit nuwe skole as jy nie goed genoeg in sport is nie, vrees vir ń afkrakery deur onderwysers en mede leerlinge. Om nie te praat van drugs, ens. wat op jou kind afgedwing word nie. Jou kind moet maar stilbly oor boelies en ander dinge wat gebeur, anders gebeur dieselfde of erger met hulle. Nou hoe kan ń kind met sulke vrees skool gaan en aandag gee aan skoolwerk. Dan het van die skole nie eens al die toerusting tot hul beskikbaar om jou kind mee op te lei nie. Kort-kort word briewe uitgestuur deur kinders vir geldinsameling waar skole nie daaraan dink dat kinders daardeur in gevaar gestel kan word nie.
Die fout word gemaak deur Dr. Hatting deur te dink dat kinders wat tuisonderrig ontvang, daar iets fout met die kinders moet wees, ens. Tuisonderrig gaan oor baie meer as dit. Jou kind kry genoeg aandag, sonder dat jou kind gedurig in vrees moet lewe. Jou kind kan meer oopmaak teenoor jou, en daar word ń goeie en beter verstandhouding tussen ouer en kind geskep. Dus is daar eerder meer spontaniteit en liefde in die atmosfeer en kan jou kind meer oopmaak teenoor jou. Deur ook prakties by die leerondervinding by te voeg, bring eerder jou kind nader aan jou. My kind het dus baie selfvertroue, en is nie sku om met ander te kommunikeer nie. Hy behou ook dus sy menswaardigheid, en is baie gebalanseerd in sy omgang met mense, oud of jonk. Tuisonderrig hou vir my en my kind dus meer voordele in, al is dit harde werk, maar regtig die moeite werd vir die ouer se gemoedsrus wat deur die kind aangevoel kan word; maar belangrikste vir jou kind wat weet dat hy of sy ondersteuning ontvang deur ouers wat omgee en ook raad kan gee in moeilike besluite wat geneem moet word, omdat hulle die pad saam met hom of haar geloop het, en deur die goeie verstandhouding wat opgebou is deur die jare.

Debbie Lemmer ·

Ons tuisskool reeds vir die afgelope 10 jaar ons kinders. Verseker kan ek tuisskoling aanbeveel. Met vier kinders is dit verseker die goedkoopste vorm van onderrig.

Tuisonderrig is kind-vriendelik en rondom die kind se gereedheid vir leer gefokus. N Kind kry kans om te ontwikkel en sy of haar belangstellings kreatief uit te leef.

My tweede seun het reeds vanaf die ouderdom sestien sy eie besigheid, met kliënte. Sy kliëntebasis groei steeds en hy het reeds, sonder enige formele kwalifikasie, n paar werksaambiedinge van die hand gewys.

Elke kind in ons huis leer anders en het ander belangstellings. Hierdie metodiek van leer is ongelooflik verrykend vir ons hele gesin. Ek as opgeleide onderwyseres moes noodgedwonge leer om terug te staan. Mens moet kinders die ruimte gee om self te ontdek, hul moet leer om selfstandig te werk. Hier skied massa onderwys vêr tekort.

Ook die opvoeding van kinders is uiters belangrik en hier skep tuisonderrig n wonderlike geleentheid. Ek kyk nie een oomblik terug en sal tuisonderrig enige tyd met groot vrymoedigheid aanbeveel.

Tuis is my kinders individue wat kans kry om op hul eie individuele manier te leer en te ontwikkel.

Annick ·

Baie dankie Maroela Media. Ek sien uit om verder te lees!
Retha, waar kan mens van hierdie navorsing aflaai. Ek sal graag self bietjie wil lees wat bevind is.

Retha Bremer ·

http://www.tuisskolers.org/legal-a-research/research/south-african-research.html

Veral die PHd verhandeling van Ester de Waal “Tuisonderwys as alternatiewe vorm van Onderwysvoorsiening in Suid-Afrika was vir my uiters interessant – ek dink dat sy self nie verwag het wat haar bevindinge gaan wees nie!! Dit verbaas my dat Dr. Hattingh nie eers bewus is van hierdie navorsing nie….Me Diedre Bester se Unisa Meestersgraad is ook uiters interessant. Dan kan U ook na die Homeschooling Research Institute se webblad gaan kyk. Tuisonderwysboeke soos Dr. Ray Moore se “Better Late Than Early” word deur verskeie Amerikaanse universiteite onderskryf, asook hul boek “School can Wait” wat op opvoedkundiges gemik is, verdien ook vermelding. Wees egter voorbereid dat hierdie bevindinge erge paradigmaverskuiwings veroorsaak….miskien te veel vir kundiges soos Dr. Hattingh se senuwees!

Retha Bremer ·

http://www.tuisskolers.org/legal-a-research/research/south-african-research.html

Veral die PHd verhandeling van Ester de Waal “Tuisonderwys as alternatiewe vorm van Onderwysvoorsiening in Suid-Afrika was vir my uiters interessant – ek dink dat sy self nie verwag het wat haar bevindinge gaan wees nie!! Dit verbaas my dat Dr. Hattingh nie eers bewus is van hierdie navorsing nie….Me Diedre Bester se Unisa Meestersgraad is ook uiters interessant Gaan kyk ook na die Homeschooling Research Institute se webblad.

Sonet Smit ·

Ek hoop in hierdie reeks artikels wat Maroela Media beplan, daar op een of ander stadium met ouers en of kinders in die tuisskool sisteem gepraat gaan word. Duidelik is die vorige en hierdie artikel mense aan die “buite kant” se oningeligte spekulatiewe opinies.

Leendert van Oostrum ·

Baie raak opmerking van Mev Smit hierbo, met moontlik een uitsondering – die “Van Oostrum” wat daarin aangehaal word, en sy vrou, tuisskool hul kinders al vir 27 jaar, en is nog in die tuig met die jongste :-)

Joy Leavesley ·

Thank you for this article which shows a few assumptions and red herrings and blind alleys.
Thank you to Dr Hattingh for encouraging parents to do their research!! Too bad she said only on home schooling. All parents should do their research on education! Just because a school or a curriculum provider have an enormous marketing budget to advertise and get their brand out there does not mean that school or provider is any better than the little school down the road or the curriculum provider who is quietly serving the community and growing by word of mouth. Indeed she is right and gives sound legal advice when she says much depends on the child’s circumstance. Indeed the law requires the decision is based on each individual child’s best interests. Sadly it is true that a great many children who are in mainstream school should be home educated.
Dr Hattingh has an interesting point of view regarding a child being taught by his or her mother. I am a little baffled. How is teaching not an integral, inseparable part of parenting? Am I to believe I have some kind of switch which I must flick between “mom” and “teacher” settings? And actually once you have started home education you realise you are learning more than you are teaching, because you and your children are on a voyage of discovery together – destination – unknown, map – not yet finalised, mode of transport – can change at any time, company – the best in the world!
Dr Hattingh is right home education does not solve all problems. In fact nothing does because life itself is full of compromises, best fits, good enoughs, it’s all we’ve gots… when we get to heaven though – all problems will be solved ;-)
Dr Hattingh is also right to encourage children to get guidance and exposure to adjust normally into society. Sadly she seems to imagine this is a problem for home educated children (which it rarely is). For schooled children this is just about impossible. Schooled children have such limited dignity, equality and freedoms as required by our constitution. They are exposed to the artificial world of bells, uniforms, timetables, predetermined outcomes, steadfast routine. age banding, absolute power and submission, and other arbitrary policies which remove them as far away from normal society as is possible without shipping them off to Mars.
Dr Hattingh suggests an academic and emotional assessment prior to home education. What would this achieve? After spending 75000+ (and growing) hours with my children I am working on the assumption that I am the world wide expert on them. Yes of course if I was concerned about their academic performance or their emotional well being I may well go for an assessment by way of information gathering and assisting the children. As a blanket requirement to starting home education – it is surplus to requirements for the greatest majority of children.
Dr Hattingh has fallen into the classic trap of assuming by and by a curriculum is somehow required to become educated. This is an archaic way of thinking now. We are in the world of life long learning and just in time learning, all driven by the ever changing world into which our children are being swept along at a pace never seen before. Back in the day knowledge was power. Now when everyone has the collective knowledge of the world in their pocket it is more about creativity and social awareness and so many other things a curriculum can never provide.

Karen Hanekom ·

Thank you, Mrs Leavesley for this insightful answer! Dit is presies wat ek wou sê, maar baie meer elegant gestel.
Sovêr, as die ‘n Facebook blad was, sou ek baie “Like” geklik het op die Mammas se antwoorde. Julle maak ons baie trots.

Esther de Waal ·

Ek wil my verstout om te sê ouers moet maar ook deeglike navorsing doen alvorens hulle besluit om hulle kinders in ʼn skool te plaas!
Dis nie vir my duidelik na watter probleme Dr Hattingh verwys as sy sê dat tuisonderwys nie noodwendig altyd alle probleme op nie, maar ek dink dis redelik duidelik dat hoofstroomonderwys ook nie noodwendig altyd alle probleme oplos nie. En nee, tuisonderwys is beslis nie iets wat beperk moet word tot leerders met bepaalde probleme nie. Dis ʼn verwronge persepsie.
Ek wil ook ten sterkste beklemtoon dat tuisleerders ten minste net sowel blootstelling kry om “normaal in die samelewing te kan aanpas” as skoolleerders – meestal meer so, omdat hulle sosialisering nie hoofsaaklik binne ʼn beperkte ouderdomsgroep plaasvind nie. Dit is tog al deur navorsing bewys.
Ten slotte, een van die groot voordele van tuisonderwys is dat mens juis nie die leerproses beperk tot iets wat net op ʼn bepaalde tyd van die dag op ʼn bepaalde plek volgens ʼn bepaalde resep hoef te gebeur nie.

Antoinette ·

Dankie vir die goed nagevorsde artikel. Om Albert Einstein aan te haal: “It is a miracle that curiosity survives formal education” en “the only thing that interferes with my learning, is my education!” My kind het die vryheid om haarself te wees, om dinge te leer waarin sy belangstel, om projekte aan te pak wat vir haar lekker is, om te kan speel omdat sy nie ure se huiswerk het nie en om haar kreatiwiteit te ontwikkel. Skool is ‘n kunsmatige omgewing wat net ‘n klein groepie kinders soos ‘n handskoen pas – hoeveel kinders moet nie medikasie kry om tog net in die boksie te pas nie. Die meeste kinders sou veel eerder iets anders doen as skoolgaan, sou hulle die keuse gegee word.

Roland ·

Hehe, dit was egter Mark Twain wat gesê het: “I’ve never let my school interfere with my education” …

Leendert van Oostrum ·

Ingeval iemand nie die verband trek nie –

Esther de Waal wat hierbo skryf, is dieselfde Esther de Waal na wie se tesis Mev Bremer verwys. De Waal, ‘n enkelouer, het nadat sy haar PhD in opvoedkunde (oor tuisonderwys) behaal het, bedank as onderwysdosent om haar kind tuisonderwys te gee.

Luister maar na Esther. Kennis en ervaring in een.

sensasie ·

Ek hoop nie dat die opvolg artikels net ‘n advertensie vir een besigheid gaan word nie, hoewel ek vermoed dat dit wel so gaan wees. My kinders is self deur tuis onderrig. Albei in hul 20s nou al. Toe my jongste 14 jaar “jonk” was, kon sy op eninge tyd met enige persoon ‘n opgevoede gesprek voer. Ten tyde daarvan kon haar niggies, haar ouderdom en 17 jarige, nie by haar kers vas hou nie. My kinders het nooit deur “fases” gegaan wat so baie deur skool kinders ten toon gestel word.
Hulle het geen ander kinders se ongeskikte maniere as voorbeeld gesien om aan te neem en het die maniere aangeneem wat deur hulle ouers ten toon gestel was.
Span sporte op skool kry jou kind slegs kans indien hy/sy uiters goed is of indien jy geld in die skool instop. Daars gemeenskaps klubs vir baie sporte.
Vir elke negatiewe sienning wat pro-skool mense het van tuis onderrig kan ek verskeie regverdigings punte opper. My siening is dat mense wat anti-tuis onderrig is, is mense wat te sleg is om na hulle eie kinders se welstand om te sien en dit eerder vir ‘n onderwyser sal los. Tuis onderrig sit nie in enige persoon se broek nie. Ek het die grootste respek vir my vrou vir wat sy vir ons kinders gedien het.

Amanda ·

Ek verstaan so goed waar dr Hattingh ‘vandaan kom’. Het ons nie maar almal in daardie boksie grootgeword nie?
Kom ek vertel vir julle ‘n paar dinge wat my so dankbaar maak dat ons 10 jaar terug besluit het om die kinders nie skool toe te stuur nie:
Laasweek toe dit so heerlik reën, toe sit ek en die 4 kinders op die bed in ons nagklere en lees ‘The Big Friendly Giant’ van Roald Dahl. Hulle het gelê en skater vir die reus se sêgoed! Toe ons klaar was, het ons besluit ons gaan ‘n ‘movie’ maak ( nog nie gebeur, maar die beplanning was groot pret ). So het ons gesit en bespreek wie in die familie en op die plaas sou watter rol speel en hoekom. En nou het ons ons eie taal wat net mense wat al die boek gelees het, sal verstaan – woorde soos frobscottle en snozzcumber, whizpopper en cattypiddlers!
Ons ‘skool’ is baie informeel. Daar is elke dag iets opwindend op die plaas wat gebeur, en dit gebeur dikwels dat ons nie by boeke uitkom ( dit pla my nie, want die ervarings wat die kinders op so ‘n dag het, kan in geen boek geleer word nie). Maar teen die einde van ‘n dag wat ek nie intensiewe tyd met die kinders spandeer het nie, voel ek onvervuld. Dan besef ek weer, dit is dié aspek in my lewe, wat die mees sinvolle en waardevolste is! Glad nie oor die kennis wat dalk nie oorgedra is nie, maar oor die verlore tyd met hulle!
Op so ‘n dag voel ek ook dat ek heeltemal uit voeling is met hulle. Dan kan ek my nie indink hoe ‘n mamma voel wat heeldag nie haar kinders sien nie.
Ek het nou reeds 2 jaar amptelik ‘n tiener in die huis en wag nog vir die vreeslike storm wat om my kop moet losbars. Nog niks (touch wood!).
Ek kan nog lank gesels hieroor, maar wil graag vir mense sê wie tuisonderrig oorweeg, gesels met slimmes en geleerdes as jy wil, maar volg jou’gut’. Jy is die persoon op aarde wat jou kind die beste ken, liefhet en sy belange op die hart dra. Praat ook met mense wat reeds lank tuisskool, glo my, hulle is ôk slim!

Bouwe van der Eems ·

Onderwys is die verantwoordelikheid van ouers. Volgens die grondwet het kinders die reg op ouerlike sorg, en hierdie ouerlike sorg kan onmoontlik onderwys uitsluit. Volgens die SA Skolewet is dit die ouers te verantwoordelikheid om te sorg dat hulle kinders onderwys ontvang, of dit by ‘n skool of tuis is.
Onderwysers by die skool doen dus ‘n werk wat primer die verantwoordelikheid van ouers is, maar wat hulle uitbestee aan die skool. Dit is dus irrasioneel om te wil beweer dat ouers en onderwysers verskillende rolle het om te speel, en dat dit problematies is as ouers die dubbele rol van ouer en onderwyser speel. Dr. Hattingh se probleem van die dubbele rol is ‘n dus ‘n fiktiewe probleem en ek is nie bewus van navorsing wat aantoon dat dit ‘n werklike probleem is nie.

Helena ·

Ek wonder nou net oor die kommentaar van Dr. Hattingh en haar bedenkinge oor ’n een-tot-een-onderrigsituasie waar ’n ma haar kind wil onderrig en die dubbel rol van ouer en onderwyser wees. Voordat my kinders (of enige ander kinders) skoolpligtig is (6 jaar oud?) het hulle alles wat hulle weet by my, hul pa, ander boeties en sussie en die groter gemeenskap geleer. Ek kan regtig nie onthou dat ons toe nodig gehad het om rolle te skuif tussen ouer en onderwyser nie. Ons het vir hulle alles geleer wat hulle nodig gehad het om te weet, sodat hulle funksioneel in die samelewing kon wees. Ek wonder nou net hoekom dit so ‘n kwessie raak sodra die kind 6 jaar oud is. Is dit omdat ons nou boeke moet gebruik om seker vaardighede vir ons kinders te leer? Ook wonder ek wat die siening is in verband met ouers wat hul kinders help met skoolwerk (huiswerk) na skool. Is daardie ma nie ook maar besig om te tuis skool, of word dit anders benader omdat sy dit na 2 in die middag doen? Word tuis skool slegs geklassifiseer as kinders wat “skool” onderrig ontvang tuis voor 2 in die middag? (Want dan kan ons seker net die “les tye” skuif na die agter middag? ) Wat van die tannie wat die ekstra wiskunde klasse gee, ek weet tegnies tuis skool sy nie, want sy leer nie haar eie kinders nie, maar as sy nou vir haar eie kinders in die middag moet ekstra klasse gee, is dit dan nie ook maar tuis onderrig nie? Of moet sy eerde haar eie kinders na ‘n ander tutor of juffrou stuur, omdat sy dit nie self mag doen nie? Wat maak dit tog saak waar die kind leer, solank hul op die ou einde die kennis wat hul nodig het vir die toekoms, bemeester het en weet wat om daarmee te doen. Ek as ek sien watter vaardighede “sosiale blootstelling” in skole vir baie kinders leer sodat hulle “normaal” in die samelewing kan funksioneer, (dwelms gebruik, rook, drink, seks op ouderdom 11 of 12, geen respek vir ander of meerderes, om te staak as jy nie jou sin kry – op 2 noem ons dit ‘n ‘tantrum’ gooi), dan kan my kinders maar liefs eerder as “wan-aangepas in die samelewing” beskou word.

Pretorius ·

Ek ken ook kinders wat tuis onderig doen, hulle is per toeval my kinders se nefies en niggie. Wel of hulle beter of slegter doen op n akedemiese oogpunt weet ek nie. Wat ek wel weet is dat hulle terugetroke is en glad nie wil meng met ander kinders nie. Laat ek eerder se hulle meng moelik met ander kinders my kinders ingesluit. Hulle het bv geen bal vermoeens nie maw hulle sukkel met hand en oog koordinasie. Hulle hou ook glad nie van speel nie en meng eerder met grootmense. Hulle het ook geen stokperkie nie soos bv ghitaar speel, storie boek lees, of sport verwante stokperkies nie. Die seuns se hare is langer as my dogter sin en hulle kom slordig voor. Ek glo nie daar is fout met tuis onderig nie ek weet net nie of ouers dit kan toepas nie.

Soutie ·

Toe ek op skool was het ek ook sulke kinders geken (behalwe die lang hare, natuurlik). Al was hulle op skool, het dit hulle nie gehelp om meer sosiaal te wees nie. In teendeel, ek vermoed dat hulle nog meer teruggetrokke geword het as wat hulle so wees as hulle nie in daai skool-boks ingedruk was nie. Daar is net mense in die wêreld wat nie by die “norm” (wie se norm?) sal inpas nie. Ons sien al hoe lank in Amerika hoe ‘n situasie waar kinders wat “anders” is en nie inpas nie, tot ‘n tragedie kan lê. Om gevorseer te word om by die groep in te pas is nadelig vir kinders.

My kinders is tuis. Hulle het vriende, deel neem aan sport, Scouts, drama-klasse en lees graag boeke.
Maar hulle het nog nooit die druk geken om iemand te wees behalwe hulle self nie. Hulle volg nie die groep net om in te pas nie, maar sal hulle eie besluite neem. Hulle het respek vir ander, maar sal nie sommer net enige bevel volg nie, en sal sonder skaam uitpraat as hulle nie saamstem met die “groep” nie. Dit laat mense hulle soms as “weird” of snaaks beskou, maar as dit beteken dat hulle gemaklik voel in hulle eie vel, hulle sterk- en swakpunte ken en nie die groep volg bloot om in te pas nie, dan kan my kinders maar “weird” bly.

Nel ·

Ek tuisskool my dogters al 11 jaar. My ervaring is dat hulle juis baie goed kan kommunikeer met almal, van jonk tot oud, in teenstelling met kinders in publieke skole wat net met hul eie ouderdomsgroep kan/wil kommunikeer. Albei het heelwat stokpertjies wat hulle goed beoefen en hulle is ook betrokke by buitemuurse aktiwiteite. dis ‘n voorreg om my dogters te kan tuisskool.

Karen Hanekom ·

My seun was in die skool vir 4 jaar. Hy kon nie ‘n bal vang nie, al het hulle “balspeletjies” gedoen sedert Graad R. Hy het ook nie gehou van sport nie, veral nie kontaksporte nie. Hy is ‘n tingerige outjie met ‘n sagte hart, maar met ‘n borrelende geaardhied. In die laaste 3 jaar wat hy op skool was, was hy gedurigdeur geboelie. Sy drie maatjies het hom in jaar 1 bygestaan, maar teen die einde van graad 3 het ‘n net een maatjie oorgehad, nogal ‘n dogtertjie, wat hom bygestaan en ondersteun het. Soms nog “geklik” het op die boelies. Maar dit was nie die enigste plek waar hy deurgeloop het nie. Die onderwysers was baie stief met hom. Nie omdat hy stout was nie. Nie omdat hy die klas versteur het nie. Nee, omdat hy stadig gewerk het. ‘n Mens kan sê dat die onderwysers hulle eie mate van boelie gedoen het. Toe ons hom uit die skool uit neem, was die lig heeltemal uit sy oë. Die behandeling van klasmaats, onderwysers en ja, kenners (wat vereis het dat hy gemedikeer word), het sy tol geëis.
So, ja. Toe ons begin tuisonderrig het, was my seun inkennig, wou nie sommer met ander kinders meng nie en wou ook nie regtig leer nie.
Nou, 3 jaar later, is my kind ‘n ander mens. Ja, hy hou nie van sport nie, en sy bal vermoëns het nie baie verbeter nie. Maar hy kan vir jou ‘n ding uit lego bou wat jou asem sal wegslaan. Hy doen nie baie buitemuurse aktiwiteite nie, maar dit wat hy doen, geniet hy terdee.
Hy kan met enigiemand ‘n gesprek voer, oud en jonk – al het hy nie baie vriende nie. En kan babbel oor goed wat hom interreseer en hom opgewonde maak. Sy fut vir die lewe is terug en al leer hy niks akademies nie(asof dit sal gebeur!), is dít vir my die belangrikste.
My dogtertjie wat slegs een jaar op skool was, is ‘n ‘sosiale flinder’. Het baie maatjies, maar nes haar boetie kan sy ‘n gesprek voer soos min 9jariges kan, met enige ouderdom mens.

Dus, Pretorius, kan jy nie almal deur dieselfde kam skeur nie. Ook nie die aanname maak dat hierdie familie lede van jou enigsins anders sou wees as hulle in die skool sou wees nie.

Lorraine van Dyk ·

akedemiese = akademiese
terugetroke = teruggetrokke
stokperkie = stokperdjie
ghitaar = kitaar

Mev Pretorius,
die kinders waarna jy verwys is ook kinders wat in skole te vind is. Skoolkinders wil ook nie sport speel of lees nie, want daar is doodeenvoudig nie tyd daarvoor nie. Of hulle wil nie leer nie, want hulle sport net.
Hierdie tuisleerders verkies waarskynlik om eenkant te wees, want hulle vind volwasse geselskap meer interessant as die van hul ouderdomverwante kinders.
Die “slordige” kinders waarna jy verwys het ander belangstellings wat dalk nie in die raamwerk val van wat Jan-en-alleman van kinders verwag.
Hulle hoef nie papierbewyse te lewer van wat hulle kan doen nie. Hoera vir hulle, want hulle staan vierkantig in die lewe en ontdek dit, leef dit, bevraagteken dit en verstaan dit. Hulle beleef die kreatiwiteit en verwondering van die lewe. Daar is jare tyd tot hul beskiking om te wees wat hulle wil wees.
Ek kan tot vandag nie verstaan waarom moet ‘n kind gedwing word om te leer om ‘n grootmens te wees op ouderdom 18 nie …. dit terwyl hy, met die Vader se genade, tot 70 jaar tyd het om een te wees: en nooit-ooit weer kind kan wees nie.

Rine ·

Uit my ervaring (4 kinders 7 jaar tuissonderrig) is Dr Hattingh se stelling van die “dubbele rol” van ma en onderwyser foutief. Om te leer word ‘n leefstyl eerder as ‘n werk in die suksesvolle tuisskool. Die ouers wat misluk in hul pogings om te tuisonderrig is gewoonlik die wat skole probeer naboots in ‘n huis. By ons kom leer, lees, navorsing en eksperimentering so natuurlik soos speel. Skole blus ongelukkig hierdie liefde vir leer in ons kinders. Kinders sien ook eerstehands hoe die wêreld werk. Ons bedryf ‘n besigheid van die huis af wat hulle al goed verstaan teen hul tienerjare. Daar is dus nêrens ‘n dubbele rol vir ma’s nie. Ons kinders is baie goed toegerus vir die regte lewe want hulle leef dit. Hulle het ook die geleentheid om beter akademiese kwalifikasies te behaal (ons doen Cambridge). Die grootste voordeel wat ons kinders het is meer tyd. Hulle het almal stokperdjies en projekte wat hul nooit voor tyd sou hê in die “rat race” mentaliteit van skole vandag nie. Ons kyk nie terug nie en was nog nooit spyt oor ons besluit om hulle tuis te onderrig. Hulle wil ook nie terug skool toe gaan nie (ons vra dikwels).

Siraj ·

‘n Indruk word geskep dat tuisskool net ‘n skool kurrikulum is wat tuis gedoen word. Dit is een tipe tuisondderrig. In my ondervinding werk die ‘formele skool by die huis’ sisteem nie. Die kinders haat dit. Die ouers raak pootuit. Met tuisonderwys kan ‘n mens veel meer as net skoolwerk doen, Kinders kan hulle eie belange volg en hulle bemeester. Die skoolvakke kan in verskillende wyses gedoen word. Daar is baie kurrikulums beskikbaar in die wêreld wat gebruik gemaak kan word. Baie is meer informeel as skool kurrikulums en daar is baie verskillende opsies. Ek stem: Doen jou navorsing.

Marelize Keyter ·

Mens moet dalk net eers gaan navors of die SA NSS erkenning geniet.

As selfs ons SA universiteite deesdae hul eie keuringseksamens, oorbruggingskursusse en die BMT (Bench Mark Test) gebruik om te besluit of ‘n leerling met ‘n NSS mét universiteitsvrystelling die pyp kan rook, dan is die standaard wat gestel word deur ons skole kurrikulum, soos goedgekeur deur ‘n dept wat erken hulle faal derduisende leerders, glad nie vir my aanvaarbaar nie.

Ek weier om te praat van tuisskool of tuisonderrig, Die wet praat van tuisonderwys. Persoonlik verkies ek tuisopvoeding, want ek werk met my kinders as geheel, nie met ‘n enkele aspek van hul menswees nie.

Wanneer na navorsing wêreldwyd oor tuisopvoeding gekyk word, sal geen skool meer bestaansreg hê nie. Skole faal ons kinders. Elke mens is ‘n individu met sy eie persoonlikheid en belangstellings, sy unieke manier van leer. Geen skool kan daarvoor vorsiening maak nie, as ma kan ek wel – of ek een kind of 10 het. Wie is die gemiddelde kind? Daar bestaan geen so kind nie – en skole maak net voorsiening vir ‘n gemiddelde kind.

Skole wat wyer dink, wat oplet na hóé kinders leer en daarvoor voorsiening maak (soos Montessori- en Waldorfskole), bied baie beter geleenthede aan hul studente as tradisionele skole met ‘n “sit-stil-hou-jou-smoel-en-let-op”-houding.

‘n Kurrikulum is verwaterde opsommings deur een of vier persone van ‘n volronde vakgebied. Hoekom kan my kind nie die vakgebied wat hom interesseer ten volle ontdek en ontgin nie? Hoekom moet iemand, wat geen belang by my kinders het nie, besluit wat my kinders mag en nie mag leer nie? Geen mens mag homself hierdie reg toe-eien nie.

En wanneer mense regtig eerlik met hulleself is, sal jy en ek besef – bittermin van dit wat jy op die skoolbanke geleer het, het enige waarde in jou volwasse lewe. Daardie vakke waarin jy belanggestel het, het jou fassineer en jy het in daardie klasse opgelet, in daardie toetse goed gedoen – die res, soos die kinders sê “suck”.

Ek gee wiskunde ekstra-klasse aan skoolkinders (en ek het géén onderwyskwalifikasies nie, net ‘n groot liefde vir Wiskunde) en wanneer die kinders my vra: “Tannie, wanneer gaan ek hierdie goed gebruik?” moet ek in alle eerlikheid antwoord : “Nooit. Die skool mors jou tyd en jou pa se geld.”

Marelize Keyter ·

Ons het vier kinders wat ons die afgelope 20 jaar tuis opvoed, met die uitsondering van vyf jaar waarin die oudste twee ‘n Montessori skool bygewoon het.

Ons oudste is tans besig met Montessori onderwys-opleiding – ‘n Internasionale diploma wat sy via die internet in Kanada verwerf, terwyl sy reeds op 20-jarige ouderdom onderwys gee.

Die tweede oudste is besig met voorbereiding vir sy SAT-toetse voordat hy ‘n los-jaar gaan neem en dan met studies by NWU begin. En, ja, NWU aanvaar hom met die GED/SAT kombinasie.

Die jonger twee geniet ‘n sorgvrye kindertyd sonder die inbreuk van skool, toetse, eksamens en die ewige sport oor naweke en vakansies.

Hulle is al vier doodnormale, gesonde en gelukkige kinders. Nie een is gediagnoseer met ADD of ADHD nie, want hul “onderwyser” is gewoond aan seuns wat nie stilsit nie, wat met die geringste verandering in die weer na buite storm en elke voertuig op die plaas eers gaan ondersoek. Ek kan net dink hoe abnormaal hulle in die skool sou wees….

Leendert van Oostrum ·

Die opmerkings deur “Pretorius” hierbo, verwys:

Die is moontlik dat die waarnemings korrek is, maar daardie soort situasie is ‘n duidelike uitvaller. Die eenvoudige feit is dat mens dieselfde soort verskynsels ook onder gans te veel skoolkinders waarneem.

As die kinders andersins fisies gesond is, dui die beskrywing waarskynlik op ‘n situasie waar kinders van kleins af onderwerp is aan ‘n hoogsgestruktureerde programmatiese onderrig, juis van die soort wat kurrikulumverskaffers aan tuisskolers probeer smous. Sulke kinders kry, net soos kinders in skole, nie genoeg vrye tyd om net kinders te wees nie, en die dinge te doen wat kinders self weet om te doen om te ontwikkel.

Retha Bremer ·

Maar waarom is hierdie ‘n kompetisie? Is “die Dr Hattinghs” nie veronderstel om op die behoeftes van elke individuele kind gefokus te wees nie? Indien daar na die mens as ‘n uiters unieke wese, met ‘n uiters unieke opvoedingsbehoefte gekyk sal word, dan behoort die klaskamer net ‘n doel te dien wanneer die ouers weens omstandighede die opvoeding nie kan of wil behartig nie.

Ons is betrokke by ‘n perdestoet en my (Tuisonderwys) 18 jarige dogter is verantwoordelik vir die versorging en afrigting van die skouperde. Daarmee saam behartig sy die huishouding van haar bejaarde ouma terwyl sy aan haar GED en gevorderde viool eksamen werk. Sy is uiters sosiaal en het ook verlede jaar haar gevorderde balleteksamen met A++ voltooi.

So het elke mens sy plek, eerstens in die gesin, dan die uitgebreide familie, dan die gemeenskap en dan die samelewing. Om kindertjies van kleins af in skole te druk, is uiters onnatuurlik. Omdat die meerderheid van die samelewing dit so aanvaar, die afgelope 100 jaar, beteken nie dat dit ewe skielik natuurlik is nie. Slegs die kinders uit baie stabiele en ouerhuise oorleef hierdie proses. Die res is vir die res van hul lewe stukkende mense. Ek weet, want ek woon in ‘n klein dorpie met ‘n staatskool en ek sien daagliks die stukkende, hartseer, verweesde kinders wat WEET dat daardie matrieksertifikaat heel moontlik net waarde gaan he as hul nou verder ten duurste tersier moet gaan studeer, hulle ouers het bloot nie die geld nie. Ek sien kinders wat klaar met skool is, maar nerens werk kry nie….hulle het skool gegaan, maar geen OPVOEDING gekry nie.

Ek dink ‘n kind met ‘n goeie opvoeding, sonder skool, staan ‘n baie beter kans om iets op die been te bring om homself te versorg.

Dankie, Esther de Waal!! Ek het jou verhandeling baie geniet…..waarom kan jou werk nie meer op die voorgrond wees as die van Dr. Hattingh en Proff . Niemann nie?

Wanneer sal mense besef dat daar in skole na kinders verwys word asof hulle slegs nommers is nie? Ja, daar is oulike kinders wat uit skole voortspruit, maar die verre meerderheid verdwyn in die mense, word dalk eers raakgesien wanneer hy sy eie ding na skool kan doen. Maar in die gesin, die tuisonderwys, kan elke kind spesiaal voel en kan die ouer saam met die kind bly soek na dit waarvoor daardie individu in die wieg gele is…veral in die vroee vormingsjare is dit van kardinale belang..

Die Dr. Hattinghs het hulle plek, maar waar kinders in groepe (geldspaar) geleer word. Die mens is eintlik geregtig daarop om individueel te ontwikkel en die huisgesin en uitgebreide familie is die aangewese ruimte daarvoor…Dit is dan wanneer die kind op sy eie tyd en stoom in ‘n volwaardige volwassene ontwikkel.

Esther de Waal ·

Baie dankie vir die mooi opmerking Retha. Ek het self baie uit my navorsing geleer – en nog meer deur ons eie tuisonderwysproses!

Sarone van Niekerk ·

Hierdie is ‘n goed gebalanseerde artikel en daaroor is ek bly. Dit is vir my net hartseer dat daar net een kurrikulum verskaffer genoem word. Ek hoop dat ander ook die geleentheid gegun sal word. Daar is van ons wat verby die ‘Graad 4 mylpaal’ (binne en buite amptelike skoolverband) is en geskok is deur VAN die inhoud van CAPS, en dit wil ek onder die kurrikulum verskaffers se aandag bring. As die inhoud van hulle CAPS die volgende bevat, stel ek nie belang nie: Ek, vir een, wil niks weet van voorvader/natuur aanbidding of hoe om die eerste stappe van oosterse meditasie as ‘n klas aktiwiteit in kuns en kultuur (Gr.3) te moet doen vir punte nie. Ek stel nie belang in die namaak van Afrika maskers wat in die kontinent in godsdienstige rituele gebruik word nie. Aangeblaasde omgekeerde rassisme is nie welkom nie. In Gr 6 moet hulle leer hoe om kinders te kry; watter kind sonder ‘n morele standaard gaan dan nie oor die tou trap nie?

Nee, dankie, dan soek ek eerder ‘n minder bekende kurrikulum wat eers die morele fondament stewig vaslê en kinders voorberei vir ‘n sinvolle, produktiewe grootmens lewe as een wat net ter wille van staatsaanvaarding inhoud produseer wat teen my grein indraf.

Comien Horn ·

Sjoe! Ons oudste gee al 4 jaar by ‘n departementele skool skool. Graad 1. Eerste jaar het sy 30 kinders in haar klas gehad, toe 35, verlede jaar 40 en hierdie jaar 51. Sy het een assistent wat R800/maand verdien. Daar is nie eers plek vir tafels vir soveel kindertjies nie. Sy moes noodgedwonge op voorlopige evaluasies werk en moontlike druipelinge nou al minder aandag gee!!! Die skool voorsien basiese skryfbehoeftes. Alles xtra wat sy vir hul aankoop kom uit haar sak. Sy is so lief vir haar kinders en doen geweldig baie vir hulle. Hulle dryf haar teen die mure uit want hulle is NOOIT stil nie. Daar is heeltyd een wat praat, vroetel, rondloop, iemand terg, wil kamer verlaat, ens. Want hulle is net normale klein graad eentjies.

Wil ek my kinders in sulke omstandighede laat skoolgaan? Nee dankie. Dan oorleef ek maar tuis met my eksieperfeksie seun van 12, dogter met disleksie, disgrafie, discalculi en geheue probleme en ‘n super hiperaktiewe, hoogs intelligente 3 jarige.

Want ons tuisonderwys NIE omdat ‘n maklike uitweg is nie, maar omdat dit die beste vir ons kinders is. Glo my dis nie elke dag maanskyn en rose nie, maar dis elke dag die moeite werd.

Marthie ·

ek tuisskool al vir 4 jaar my heeltemal normale kinders. Wat sosiaal so aangepas is dat ons komplimente kry. Hulle speel klubrugby en klubhokkie en het selfs al op provinsiale vlak deelgeneem. Hulle het maats in skole en tuisskool maats. Een stelling wat gemaak word ivm die ouer wat ook die onderwyser is. Wat is fout daarmee. Jinne. My man het n bsc graad met wiskunde. Ek het n bsc graad vlak in mediese rigting. So ek dink ons is heel bekwaam. Ek sal van dit hou as alle profs en doktors opinies het oor tuisskool n week by ons kom kuier. Dis die beste ding wat ek ooit kom doen vir my kinders. Wat herl normasl in ander skole ook sou aanpas Eintlik moet die regering tuiskool ouers bedank vir die gebalanseerde mense wat ons vir hulle die samelewing instuur

Marthie ·

ek tuisskool al vir 4 jaar my heeltemal normale kinders. Wat sosiaal so aangepas is dat ons komplimente kry. Hulle speel klubrugby en klubhokkie en het selfs al op provinsiale vlak deelgeneem. Hulle het maats in skole en tuisskool maats. Een stelling wat gemaak word ivm die ouer wat ook die onderwyser is. Wat is fout daarmee. Jinne. My man het n bsc graad met wiskunde. Ek het n bsc graad vlak in mediese rigting. So ek dink ons is heel bekwaam. Ek sal van dit hou as alle profs en doktors opinies het oor tuisskool n week by ons kom kuier. Dis die beste ding wat ek ooit kom doen vir my kinders. Wat herl normasl in ander skole ook sou aanpas Eintlik moet die regering tuiskool ouers bedank vir die gebalanseerde mense wat ons vir hulle die samelewing instuur

Lorraine van Dyk ·

Lize, ons dogter, het haarself op vyf-en-half leer lees. ‘n Doodsonde destyds, volgens die kleuterskool. Hoekom? Want die staat se so.

Graad 0, toe nog nie verpligtend nie, het die juffrou sommer met die intrapslag nie van die praterige en beterweterige dogtertjie gehou nie. Veral nie toe sy die juffrou korreggeer met ” dit is ‘n nar, juffrou, nie ‘n clown nie”.

Sy was in 2013 en 2014 in ‘n private skool ingeskryf. Dit was haar keuse. Noudat sy terugkyk is dit die swakste en leegste jare van haar lewe. Sy het oorleef van huiswerk tot huiswerk, take tot take en toetste. Ekstra klasse was verpligtend tot 5 uur na skool. Daar was geen tyd om te leef nie. Indien ‘n onderwyser onverwags ‘n toets skeduleer vir die volgende dag, is alles prys gegee om die studiematriaal onder die knie te kry. Negatiewe op- en aanmerkings het op die “rapport’ verskyn omdat huiswerk nie gedoen is nie en take nie betyds ingegee is nie.

Haar algemene kennis en goeie Engelse en Afrikaanse woordeskat en spreektaal het letterlik in die hek geduik. Sy was bitsig (aangeleer by skool), ongeskik, onbeskof en oorwerk. Tot die dood toe moeg het sy stryd gestry.

Sy doen nou weer privaat A-levels van Cambridge en is ontspanne, lag en sing, speel klavier (het al weer ‘n paar stukkies gekomponeer) en kitaar, kry tyd vir navorsing en lekker boeke lees. EN, haar woordeskat en algemene kennis is tekenend van die ontspanne atmosfeer.
Sy erken sy het pa se amper R150 000.00 gemors. Sy huil want ‘n klein motortjie sou ‘n beter opsie gewees het!

Sy is voorlopig ingeskryf by TUKS om volgende jaar BcomLLB te studeer. Verskeie TUKS-departemente is Cambridge studente goedgesind, want hul weet van die omvang en die uitstaande gehalte van die studiematriaal, ook dat die studente reeds weet hoe om ‘n biblioteek te gebruik en self kan navorsing doen.

Ons leef in ‘n wonderlike land met opsies en keuses. Gebruik dit of wees soos die kinders se, ” be one of the (m)asses”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.