Verskeie swanger vrouens in Suid-Afrika is onbewus van die gevaar wat alkohol inhou as dit verbruik word terwyl hulle swanger is, het ʼn maatskaplike werker van die Saartjie Baartman-sentrum Maandag gesê.
“Daar is steeds baie bewusmaking wat moet plaasvind. Ma’s weet nie dat hulle nie veronderstel is om te drink terwyl hulle swanger is nie,” het Dorothea Gertse gesê.
“Wat ook skrikwekkend is, is dat dit moeilik is om hulle te oortuig dat dit ʼn groot risiko is.”
Gertse werk met mishandelde vroue en kinders by die sentrum en het ongeveer sewe jaar se ondervinding in die hantering van kinders met fetale alkoholsindroom (FAS).
FAS verwys na die patroon van die permanente abnormaliteite of siektes wat voorkom wanneer ‘n ongebore kind aan hoë vlakke van alkohol blootgestel word.
Dit is nie bekend hoeveel alkohol lei tot hierdie veranderinge aan ʼn ongebore kind nie, en die resultate wissel van geval tot geval. Dit kan egter heeltemal voorkom word indien geen alkohol tydens swangerskap verbruik word nie.
Volgens die sentrum, word landelike gebiede in die Wes-Kaap en dorpe in die Noord-Kaap, soos De Aar, die hardste hierdeur getref.
Gertse beklemtoon dat FAS nie net ʼn invloed op mense met alkoholverslawing of diegene in die laer sosiale klasse het nie.
Maandag is FAS-bewusmakingsdag. Die dag word elke jaar op 9 September gehou om vroue daaraan te herinner dat hul nie alkohol vir nege maande van swangerskap moet gebruik nie.
Nou watter ma sal dan nou nie weet dat sy nie mag drink terwyl sy swanger is nie? Selfs ‘n ‘ongeletterde ma’ behoort dit weet.
Nee, dis doodeenvoudig moedswilligheid, of ‘n poging om die baba ‘af te bring.’