Jy wag jare vir verhoordatum in Gautengse hof

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: X)

Prokureurs in Gauteng wag so lank as vier jaar vir ʼn plek op die hofrol in die hooggeregshof vir sake wat verband hou met handelsreg of ʼn eis teen die Padongelukkefonds (POF). Dit is omdat daar klaarblyklik te min regters én hofsale is om sake aan te hoor.

Verskeie Gautengse prokureurs het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat hulle tans tot vier jaar lank vir ʼn verhoordatum in die Pretoriase hooggeregshof wag.

Die waglys vir ʼn datum in die hooggeregshof in Johannesburg lyk nie veel beter nie.

“Pretoria en Johannesburg is die twee besigste howe in die land. Die kort en die lank is ons het meer regters en howe nodig,” sê Tiaan Joubert, voorsitter van die Gautengse Prokureursvereniging en ondervoorsitter van die Pretoriase Prokureursvereniging.

ʼn Betroubare bron, ʼn persoon wat verskeie vergaderings bygewoon het waartydens die probleem met Dunstan Mlambo, die Gautengse regterpresident, bespreek is, beaam dit.

“Daar is te min regters en te min hulpbronne. Dit help ook nie jy het nét ʼn regter nie. Jy het ook ʼn hofsaal, ʼn stenograaf, ʼn regtersklerk en ʼn hofordonnans nodig. Hierdie vyf goed word benodig om ʼn verhoor te laat vlot en daar is eenvoudig nie genoeg daarvan nie.”

Die bron sê daar was in die geskiedenis nog nooit só lank op ʼn verhoordatum in Suid-Afrika gewag nie. “En almal wys vingers.”

Volgens Joubert is Mlambo en adjunkregterpresident Aubrey Phago Ledwaba deeglik bewus van die probleem en “probeer hulle hul bes onder die omstandighede… Maar dit is nie hulle werk om meer regters aan te stel of meer howe te bou nie.”

Regslui plaas daarom die skuld voor die deur van die departement van justisie, wat na bewering nie bereid is om met ʼn wesenlike oplossing vorendag te kom nie.

Maroela Media se bron meen die Pretoriase hooggeregshof is veral onder druk, aangesien die Padongelukkefonds se hoofkantoor in Pretoria gesetel is. “Baie prokureurs verkies om alle dagvaardings by die hoofkantoor in te dien aangesien dit meer koste-effektief is.

“Dis nogal ʼn stryd om ʼn dokter byvoorbeeld tot in Nelspruit te kry om te gaan getuig. Al die deskundiges is hier in die stad.

“Alle eise teen die POF moet ook deesdae deur regters aangehoor word, al word daar geskik.

“Dis hoekom dit so erg is wat in Pretoria en tot ʼn mate in Johannesburg gebeur,” verduidelik die bron.

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Ashraf Hendricks / GroundUp)

Meer probleme as oplossings

Maroela Media se bron vertel dat die probleem al op menige vergadering geopper is.

Advokate het selfs aangedui dat hulle bereid is om hul konsultasiekamers beskikbaar te stel sodat die kamers in tydelike howe omskep kan word en massas sake vinniger aangehoor kan word. Volgens die bron is ʼn lys van sowat 90 bereidwillige advokate opgestel.

“Maar vir elke oplossing gee hulle vir ons tien probleme. Hulle bly hulle vas staar teen hierdie burokratiese manier van dinge doen. Hulle wil ʼn hofgebou hê,” sê die bron met verwysing na amptenare van die departement van justisie.

Daar is ook in ʼn stadium voorgestel dat mosies aanlyn aangehoor word. Daar is egter toe aan prokureurs gesê dat mosies ʼn goeie leergeleentheid vir junior advokate is en daarom nie elektronies aangehoor kan word nie.

“Daar is geen gevoel van dringendheid nie,” sê die bron. “Want hierdie amptenare beklee gemaklike regeringsposte en dit maak nie aan hulle saak of dit vier jaar neem om ʼn verhoordatum te kry nie.”

“Intussen sit daar ʼn eiser met ʼn breinbesering of in doeke ná ʼn motorongeluk en wag vir geregtigheid.”

Joubert sê die Gautengse prokureursvereniging beoog om die departement van justisie direk te nader. “Ons het al ons die moontlike formele kanale uitgeput. ʼn Administratiewe kwessie het nou ontaard in ʼn politieke kwessie.”

Hy sê die vereniging is selfs bereid om die saak met die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie op te neem.

Maroela Media het die departement van justisie vandeesweek om kommentaar genader. Die departement het egter die navraag bloot na die kantoor van die hoofregter verwys.

(Foto: Maroela Media/ Jhua-Nine Wyrley-Birch)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Deesdae kan jy netsowel regters vd die straat oes. Hoe meer onbevoeg hoe beter.

Ore ·

Die probleem in SA is dat die ministers almal weet van die probleme maar geen oplossing het nie. Altyd ander se skuld.

Peach ·

En dis hoekom misdaad so seëvier….. té min van alles….. howe, tronke, skole, hospitale ens.

Di ·

ALLES in die land het verval tot riool status waar NIKS nie meer werk nie. DIt raak net erger by die dag. Wie moet ons bedank? ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.