[Resensie] Aardklop: Moeder Moed en haar kinders

'Moeder Moed en haar Kinders' is vandeesweek by die Clover Aardklop Nasionale kunstefees te sien. Foto: Aardklop

‘Moeder Moed en haar kinders’ is vandeesweek by die Clover Aardklop Nasionale kunstefees te sien. Foto: Aardklop

Daar is mense wat meen Moeder Moed en haar kinders is een van die belangrikste verhoogstukke van die 20ste eeu. Geskryf as Mutter Mut und ihr Kinder deur die Duitse dramaturg Bertolt Brecht tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, is daar kwalik enige ander drama wat só fel anti-oorlog is as juis dié een.

Hoewel Brecht sy drama na die 30-jarige oorlog in die 17de eeu in Europa verplaas, lees ’n mens sy afkeur in die opkoms van die Nazisme en Fascisme van sy tyd duidelik. Nietemin is dit die mens deur alle eeue se tweeslagtige houding jeens oorlog wat verbeeld word.

Moeder Moed is immers die smous wat met haar wa en drie kinders munt slaan uit die oorlog en wat terselfdertyd so diep deur die oorlog gekwes word.

Jerry Mofokeng slaag as regisseur onder meer daarin om die universele verskrikking van oorlog te verbeeld deur ’n parallelle verhaallyn met ’n onsigbare wêreld: dié van ’n klankbaan met helikopters, motors wat wegtrek, perde wat runnik en bomme wat val.

Mofokeng, wat dié Brecht in Engelse vertaling onder die knie het, het die totstandkoming van die Afrikaanse vertaling ­– waarmee Saartjie Botha in 2013 begin het – noukeurig gevolg en gaandeweg meer gevoel vir die Afrikaanse vertaling van Moeder Moed en haar kinders gekry.

“Vervloek is oorlog!” Dis die rou kreet wat Moeder Moed teen die einde van die drama uiter. Ongedeerd het sy nié uit oorlog gekom nie. Soos wat niemand ooit ongedeerd uit oorlog kom nie.

Vroeër vanjaar is dié produksie op die KKNK met drie Kannas bekroon: Aletta Bezuidenhout as beste aktrise, Cintaine Schutte as beste vrouebyspeler en Deon Lotz as beste mansbyspeler.

Aspekte wat nié in dié pryse verreken is nie, is Saartjie Botha se uitmuntende vertaling van die Brecht-teks en die besondere vertolkings van André Roothman as die sielesorger en Cintaine Schutte as die stomme Kattrin.

Kaartjies is hier beskikbaar teen R130 per persoon.

8 Oktober 18:30; 9 Oktober 10:00 en 14:00; 10 Oktober 14:30 en 18:30.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.