Luister: Helene Bester bring hulde aan Nana Mouskouri

Helene Bester kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met haar donker hare en sagte gelaatstrekke lyk Helene Bester omtrent op ʼn druppel na die Griekse sangeres Nana Mouskouri, veral wanneer sy Mouskouri se kenmerkende donkerraambril op haar gesig sit.

Bester vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy het met Mouskouri se musiek grootgeword. Sy bring nou in haar nuwe produksie, Helene Bester sing Nana Mouskouri, hulde aan dié vrou wat tydlose liedjies soos “The White Rose of Athens”, “Coucouroucoucou Paloma” en “Try to Remember” na die wêreld gebring het.

Hoewel sy nog altyd daarvan droom om Mouskouri se ikoniese musiek weer lewe te gee op eie bodem, het sy gevoel sy moes eers wag totdat haar eie stem volwasse genoeg is om dié musiek aan te pak.

“Ek is nou in my 40’s, waar Nana self in haar 30’s was voordat sy bekendheid verwerf het,” vertel Bester. “Die boodskappe wat Nana na die gehoor bring, is ʼn meer volwasse boodskap. Dit is nie kommersieel nie, dit is lig-klassiek, en die melodieë is baie bekend op die oor, maar jy kan dit nie sing as jy nie weet waaroor dit gaan nie en as jou stem nie gereed is daarvoor nie.”

Om haarself outentiek te laat lyk en klink in egte Nana-styl op die verhoog, het sy ure se navorsing gedoen om seker te maak haar maniërismes en persoonlikheid pas by dié van Mouskouri.

“Ek het gesien hoe sy met haar hande werk, en uitgevind hoekom sy ʼn bril dra. Ek het gesien waar sy grootgeword het en wat haar ouers gedoen het. Nana het baie fyntjies op die verhoog te werk gegaan en is ʼn baie fyn, opgevoede introvert, waar ek ʼn ekstrovert is. Ek kon dus nie my eie persoonlikheid daar ingooi nie – ek moes leer om ʼn bietjie terug te hou en basies op my stem staat te maak.”

Word sy gepols oor waarom gehore vandag nog aanklank vind by die musiek van Mouskouri, wat vanjaar 85 geword het, vertel Bester dat haar en haar ouers se generasie met dié musiek grootgeword het.

“In die tyd toe ek grootgeword het, was elke liewe liedjie van haar ʼn treffer. Ek het gelees dat sy meer as 300 miljoen plate verkoop het en ses tale kon praat,” sê Bester.

“So, wanneer sy byvoorbeeld in Frankryk opgetree het, het sy alles in Frans gesing, in Spanje alles in Spaans, in Portugal alles in Portugees. Dit is absoluut die manier hoe sy mense aangeraak het en sy is werklik wêreldwyd bekend.”

Helene Bester sing Nana Mouskouri.

Helene Bester sing Nana Mouskouri.

Bester is reeds sedert 2002 ʼn gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers, maar bieg dat die moeilike musiekbedryf nie vir almal beskore is nie. “Ek is wel gelukkig genoeg dat ek sanglesse aanbied, wat my inkomste aanvul, en dat ek my passie vir die verhoog lewend kan hou, amper as ʼn stokperdjie.”

Haar oë helder op wanneer sy praat oor haar man, Jacques, en hulle vierjarige dogtertjie, Kristi. “Ek is mal oor ouerskap! Ons het ʼn moeilike pad gestap om ons kind te kry en sy is werklik net ʼn wonderwerkie,” sê sy.

Sy en haar gesin beplan om op Reebok naby Mosselbaai uit te span oor die feestyd. “Daar is ʼn getypoel waar ek en Kristi die hele dag uitspan. Ons sien baie uit daarna om net bietjie weg te kom.”

Bester voeg by dat gesondheid haar grootste droom vir haar en haar gesin is vir die nuwe jaar. “En dan ook, dat daar altyd werk sal wees en dat ek werk kan skep.

“En, dat ons vrede sal ervaar en vrede sal gee. Dit help nie jy wil die vrede ervaar, maar jy is nie ook bereid om dit te gee nie.”

  • Om Helene Bester sing Nana Mouskouri te sien, gaan na lefra.com of skakel 011 815 3000.
  • Luister na die volledige onderhoud met Helene Bester bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Emmie Stegmann ·

Ek lief Nana se musiek. Goeie idee. Nou kan my kleinkinders ook haar musiek leer ken.

Potsnof ·

Kolskoot ou Pieta. Sy lyk g’n niks na mouskouri nie, nê eers met drie sukke brille op nie en ek kan jou drie briewe gee sy klink ook g’n niks soos sy nie. Maar nou ja, enige publisiteit is seker ma goeie publisiteit. Ek wonder of SA nou veronderstel is om af te sit Reebok toe om die anti Nana te gaan gade slaan.

Susna ·

Fantasties !!! Ek het Helene se Nana Mouskouri vertoning op die Musica bootreis bygewoon. Moet hier bieg, dit was uit die boonste rakke, kyk hierdie meisiekind het een ongelooflike stem en haar aanbieding was iets om te beleef. Ek kan hierdie vir een en elke musiek liefhebber sterk aan beveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.