ToekomsVenster: Tyd is kosbaar

Foto: Simon Matzinger/Unsplash.com

Anton van Niekerk, gereelde skrywer in ʼn oggendkoerant, skryf in sy rubriek, Standpunt, dat die lewe nie net ʼn gejaag na wind is nie. Hy verwys na die nuwe jaar en die gewaarwording dat alles verander, dat ons verganklik is en dat die uurglas leegloop. Ons ken die uitdrukking, gejaag na wind goed. Aan die einde van die dag, maand, jaar, seisoen en lewe het jy niks blywends bereik of bygedra nie.

Verskeie skrywers en denkers het volgens hom deur die eeue diep gedelf om die tyd beter te verstaan. Hy verwys na Kant, Augustinus en Hegel.

Ek moet bieg dat die filosofiese aanpak my verwar en dat ek min verstaan van wat sommige probeer sê. Dit is egter Anton se opsomming wat my aanspreek.

Hy skryf “ Wanneer geluk ons lewens”? En antwoord dan: “Wanneer ek iets vir my medemens beteken en so ʼn klein stukkie van die wêreld ʼn beter plek gemaak het. Derhalwe is ons lewens nie net ʼn gejaag na wind nie. Ons kan telkens nuut begin totdat, soos hy dit noem, die tyd ons inhaal.”

Elkeen kan ʼn verskil maak. Ook jy omdat God aan jou besondere vermoëns, eienskappe, gawes, toerusting en beloftes gee.

Tyd is ʼn kosbare kommoditeit. Daaraan word ons gereeld herinner. Die Prediker maan ons om met tyd te reken. Daar is vir alles in die lewe ʼn tyd, sê hy.

Die gedagtes is baie bekend.

Een daarvan herinner ons juis aan die kortstondigheid van alles. Daar is ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterwe, leer hy.

Die nuwe jaar bied aan ons ʼn geleentheid om nuut te begin wetende dat tyd kosbaar en kort is.

Ons hoef nie gevange te bly in die mislukkings van gister en eergister nie. Wat verby is verby.

Die bladsy wat elke dag voor ons oopvou bied nog ʼn Goddelike geleentheid om uiting te gee aan jou skeppingsdoel nl. om in nuwe Testamentiese terme die koninkryk van God te sien kom.

Carpe diem, gryp die dag. Dit mag jou laaste wees. Laat spore daar waar jy geloop het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.