ToekomsVenster: Klein is nie gering

lofprysing-gebed-hand-wolke-uitreik

Foto: @jeremyperkins/Unsplash.com

Miga 5:1-2 – Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede! Hy sal sy mense ‘n kort rukkie prysgee, so lank as dit ‘n vrou neem om ‘n kind in die wêreld te bring. Dan sal dié uit sy familie wat die ramp oorleef het, terugkom na die Israeliete toe.

Ek wonder of jy ook eerder beïndruk word deur groot en opspraakwekkende dinge en gebeurtenisse? Terwyl ʼn mens so ingestel is op die sensasionele, die indrukwekkende en gaan die klein dingetjies by ʼn mens verby!

Hoe skuldig is ons nie daarin dat ons dink dat om indruk te maak en betekenisvol te wees moet iets groot en ontsagwekkend wees. Die vraag “hoeveel” is ʼn belangrike vraag.

Hoeveel mense was by die sportbyeenkoms of die erediens. Baie beteken geslaagd en min beteken iets anders. Hoe nuut is die motor? Onlangs is goed maar lank terug is afgeskryf en goedkoop. Dit geld vir alle aspekte van die lewe. Hoeveel geld is ter sprake, hoeveel volgelinge het hy, hoeveel CD’s is verkoop? Hoeveel mense het die boek gelees, hoeveel het die program geluister, hoeveel het op die epos reageer?

Baie is besonders, min is beskeie en irrelevant?

Die Bybel werk met ʼn ander model sonder om daarmee die waarde van groot en mooi en goed en elegant en besonders af te maak. Dit kan egter nie die eerste en die laaste woord spreek nie want dan is ʼn mens se beoordeling dikwels misplaas.

Jesus is in Bethlehem gebore, klein en onindrukwekkend. Jesus was van Nasaret afkomstig en het die grootste deel van sy bediening in Galilea beoefen. Ja, Jesus sterf aan ʼn kruishout.

Die dissipels was vissermanne, ongeleerd en nie deel van die uitgelese en uitgesoekte groep wat onder die rabbi se leiding kon sit en self ʼn rabbi word nie.

Paulus praat daarvan wanneer hy in 1 Korintiërs verwys na die geleerdheid van hierdie wêreld. Hy het die ongeleerdes gebruik om die geleerdes te beskaam en onthou dat nog die Here nog ek iets teen geleerdheid het. As dit jou egter opgesmuk maak en onderskei van die gewone mense, jou aanstellerig en vernamer as ander maak het iets verlore geraak.

Vir die dissipels wys Jesus daarop dat hulle moet diensbaar wees as hulle belangrik wil wees. In alles is Jesus ons voorbeeld. By Hom is daar nie die geringste sweempie van aanstellerigheid nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here Jesus dankie dat U vir ons die pad van nederigheid kom stap het ……U die verlosser geword het van die mens van hierdie bose wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.