Afrikaans 90: Afrikaans is ’n taal van geleentheid

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Johan van Zyl (Sanlam)

Die toekoms van Suid-Afrika is wat ons gewone mense daarvan maak. Dit bly verstommend hoe gou gesprekke in ’n sosiale of selfs meer formele konteks gou in ’n rigting beweeg van wat alles verkeerd is. En natuurlik is daar heelwat uitdagings in ons land. Maar dit is nie die punt nie. Die punt is eerder dat ondanks al die bekommernisse en uitdagings, daar steeds baie geleenthede is om ’n blink toekoms te hê. Só ook vir Afrikaans.

Ja, daar is ’n klompie besluitnemers in die staatsdiens wie se besluite dinge soms moeilik kan maak. As mens sommige dae na van die koerantopskrifte kyk, wonder ’n mens of daar ’n toekoms vir jou of jou kinders hier gaan wees. Uiteraard het mens dieselfde bekommernis oor jou taal. Maar die teenwig is ook waar. Ons gewone mense – en veral jongmense – het steeds ’n rol om te speel. En dit is juis hoe ons hierdie rol sal vertolk en uitleef wat sal bepaal of ons inderdaad ’n blink toekoms kan omarm.

Die gesprekke wat ons informeel as kennisse, vriende en familie voer, is dikwels die roete wat ons kies en waarop ons moet beweeg. Sommige mense kan so meegevoer raak met hul eie negatiwiteit – en dan wil hulle steeds volhou op daardie pad. Mens kan hulle aartspessimiste noem!

Daarom is dit eintlik so teleurstellend dat mens dikwels uit gesprekke oor die toekoms van Suid-Afrika en Afrikaans die indruk kry dat daar ’n totale aanslag op Afrikaans is. Dit is inderdaad so dat daar op verskeie plekke in ons samelewing minder Afrikaans gepraat word as – sê maar – 20 jaar gelede. Dit is ’n feit soos ’n koei. Maar wat ook waar is, is dat daar ’n fokus is om anderstaliges ook in die hoofstroomgesprek in te sluit. Dit is veral in die konteks van Afrikaans as besigheidstaal in die werkplek wat hierdie van besondere belang is.

Sommige mense se instink is om hierdie onmiddellik te wil beveg. Mens moet liewer maniere bedink hoe om Afrikaans deel van die toekoms te maak.

In Suid-Afrika het ons te make met ’n multikulturele samelewing met 11 amptelike tale. Uiteraard is daar mededinging onder die gebruikers van elk van hierdie tale. Die Zoeloesprekendes is die grootste groep (24% van die bevolking) en Afrikaanssprekendes is die derde grootste groep (13,5% van die bevolking oftewel 6,85 miljoen individue). Die mees interessante statistiek is die hoeveelheid mense wat Engels as hul huistaal aandui – slegs 8%. En tog bestaan die persepsie dat alle Suid-Afrikaners Engels verstaan en dat hulle gemaklik is as mense met hulle in Engels kommunikeer.

Dit kan wel nie ontken word dat Engels die enigste taal is wat prakties aanspraak kan maak op die status van gemeenskaplike taal in die ekonomie en die sakewêreld nie – dus die taal wat die meeste mense verstaan en praat, al is dit hul tweede taal.

In ons korporatiewe omgewing by Sanlam is dit onmoontlik om uitsluitlik Afrikaans as interne voertaal te gebruik. Dit is veral in die konteks van wetlike vereistes wat betref die indiensneming van swart mense. Daarom glo ons by Sanlam dat ’n diverse werkmag help met diverse oplossings in ’n al hoe meer komplekse wêreld. Die mense wat soggens vir werk by ons kantore aanmeld, is lankal nie meer net Suid-Afrikaners nie. Hulle is van regoor die wêreld en veral ontluikende markte soos byvoorbeeld Indië, Maleisië of elders in Afrika. Hierdie is alles dryfkragte om mee rekening te hou as mens dink aan die toekoms van Afrikaans as ’n besigheidstaal.

As mens kyk na Afrikaans as ’n bemarkings- of reklametaal is daar beduidende geleenthede wat wink. Voor mens na die geleenthede kyk, is ’n prentjie van Afrikaanse verbruikers belangrik. Kortliks: Afrikaanssprekendes is verantwoordelik vir 28% van die koopkrag in Suid-Afrika en is sterk verteenwoordig in die hoë inkomstegroepe. Omtrent 40% van die mense in die boonste inkomstegroep (LMS10) is Afrikaanssprekend. Dit dui daarop dat die kanse kleiner is vir ’n Afrikaanssprekende persoon om werkloos te wees, vergeleke met ander taalgroepe. Daarom vaar Afrikaanse kultuurprodukte soos boeke, musiek, TV-programme, rolprente, tydskrifte en koerante baie goed. Dit is die waarde wat Afrikaans as ’n kultuurtaal steeds bied.

Daarom moet ons fokus op die uitbouing van Afrikaans as kulturele taal ter wille van die behoud van Afrikaans as deel van ons identiteit. As ons hieroor saamstem, kan ons die geleenthede vir die uitgebreide bemarking van produkte en dienste met ’n inherente Afrikaanse inslag. Hier is die groot groep Afrikaanssprekendes wat in die buiteland woon een potensiële mark en kulturele produkte kan daarheen uitgevoer word.

Afrikaanssprekendes bewys hulself oor die volle spektrum van die ekonomie en die sakewêreld. En toenemend ook op internasionale vlak. Daar is velerlei geleenthede wat die moderne en ook globale ekonomie ons bied. En dit is die toekoms vir Afrikaans!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae