Afrikaans 90: Ek en Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Carl Theunissen (regisseur)

1965. Afrikaanse opstelskryfperiode by meneer Garbers. Ons is ’n seunskool. Opdrag: Skryf ’n brief aan ’n meisie in die meisieskool waarin jy haar uitnooi om jou te vergesel na Vrydagaand se debatsvereniging. Onderwerp: Moet die kleure van verkeerstekens ter verbetering van padveiligheid verander? Daar is ook ’n “session” by ’n ander skool in die dorp dieselfde aand. Hulle gaan rock en roll. Kwaai teenstand.

Ons skryf min of meer so: Liewe/beste/geagte Bettie, Vrydagaand is debatsaand. Die onderwerp is of padverkeerstekens ter wille van … ensovoorts ensovoorts. My pa sal ons soontoe neem en jou weer veilig tuis besorg. Dit sal vir my ’n voorreg en ’n eer wees as jy my sal vergesel. Hoop om gou van jou ensovoorts ensovoorts. Hartlike groete, van so en so. Dis warm buite. Meneer Garbers vra so hier en daar een van ons om voor te lees. Dit klink almal min of meer soos hierdie poging.

Toe is dit Corrie Botha se beurt. Hy staan op uit sy bank, staan in die gangetjie, regop soos ’n kers. Hy begin lees. “My allerliefste Bettie, dit is met brandende begeerte wat ek jou nooi om Vrydagaand saam met my ’n fantastiese aand by ons debatsvereniging te beleef. Ek sal jou persoonlik by jou huis kom haal. Ons sal deur die park stap sodat ek jou mooi kan vertel wat ek van plan is om te sê. Die maan gaan ons pad verlig. Ek sal jou vashou as jy bang word. Ek smeek jou Bettie, dit gaan ’n onvergeetlike aand wees wat vir altyd in jou hart polsend sal bly leef.”

Toe sien ek: Dit is soos woorde werk. Ek het alleen by die aand opgedaag, Corrie stralend met Bettie aan sy sy. Toe weet ek: Hoe jy met woorde werk, maak hoe jou lewe werk.

Later ’n ander een. In die geskiedenisklas. Meneer Steenkamp vra: Is slawerny reg? Net drie woorde. Baie woorde volg: Geboei, gebind, geen eie wil, uitgelewer, geen regte, voorwerp vir hiet en gebied, uitbuiting. Ook: Vryheid, geboortereg, kans op unieke bydrae, vindingryk lewe. Bind vryheid en jy soek oorlog. Woorde leer my onderskei, keuses maak, tussen besluite kies.

Dominee Bouwer preek oor die vrou in daad van owerspel. Oor Christus die skuiwer van merkers. Buitesonde en binnesonde. Wie moet klip kry? Wie nie? Die vrou gaan huistoe. Die klippe bly lê in die stof.

Dis wat Corrie, meneer Steenkamp en dominee Bouwer gedoen het. Merkers geskuif in en met woorde wat werk. Woorde wat jou laat dink. Woorde wat betekenis word. Woorde wat die lewe betekenis gee. Woordvelde wat saamhaak en blom met beelde.

Ek het gesoek na ’n plek waar ek woorde kon gebruik om mee te lewe. Te lewe in my werk en ook daarvan te kan lewe. By Buitelandse Sake, Justisie, koerante, radio en toe televisie. Ons stig ons eie maatskappy: Theunissen en Van den Heever Filmmakers.

Ek werk vandag nog in die televisiebedryf. My bedryf laat my toe om met woorde te beplan, voorstelle te ontwerp, dit te verkoop, nuwe konsepte aan te pak, nuwe wêrelde te sien, saam met besonderse mense te werk, elke dag meer te leer en te verstaan oor wie ons is, wat ons dink en doen. Woorde ontplooi my lewe.

Woorde het my wêreldwyd laat reis. Ek kon ’n briefie in ’n gleuf druk in die klaagmuur in Jerusalem, ’n burgeroorlog in Tblisi sien ontvou, sushi eet by Nippon Staal, handkarre help trek in Wyoming, op die Franse effektebeurs en in ’n hospitaal in Malawi werk. Ook anderkant gevaargrense glip.

Ons werk is vertaal in Vlaams, Nederlands, Engels, Duits, Mandaryns en in al die inheemse tale van Suid-Afrika.

Ons is nasionaal en internasionaal bekroon vir ons werk.

Alles as gevolg van die Afrikaanse woordeskat wat oor en oor oorweeg is, oral oor al baie ploegwerk gedoen het, gepoleer is, deur eeue bedink en bedoel is. Kragveld, kragopwekker, kragverspreider.

Ek kan my woorde teruglees tot by Wesnederfrankies in die elfde eeu. Tot in Maleis, Khoi-Khoin en in Afrika self.

Woorde laat jou ook luister na ander se woorde. ’n Ander een se soek en stryd. Hoe kan my woorde hom/haar help?

Afrikaans maak my wêreld staan. Help my brûe bou oor afgronde van kleindink. Nuwe woordvelde te skep. Voorposdenke te sê. My toekoms te maak, op my manier.

As dit jou reg is om onderwys en opleiding in jou eie taal te ontvang, dan eis jy dit nie op uit selfsugtigheid nie, maar vir die uitbou van geleenthede om voorspoed te skep met jou eie woorde vir jou en almal en alles wat saam met jou op ons aarde loop.

As NP van Wyk Louw kan sê “droëverdriet” is poësie, dan is “met brandende begeerte” dit ook.

Ek sal nooit begeerte, slawerny en klippe vergeet nie.

Ek maak vuur met elke woord sodat my werk sal sê:

“Dit is met brandende begeerte …”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae