Afrikaans 90: In murg en been Afrikaans

afrikaans-90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur Marianne Breytenbach-Roos (Radio Pretoria)

Waarom studeer Duitsers in Duits? Franse in Frans? Engelse in Engels? Waarom het ek voorgraads én nagraads in Afrikaans studeer – en bly dit steeds my voorkeurtaal vir studie? Om presies dieselfde rede as waarom Duitsers in Duits en Franse in Frans en Engelse in Engels studeer. Hulle verkies studie in hul moedertaal. Afrikaans is my moedertaal.

Die meeste moedertaalsprekers is, wat hul menswees betref, gemaklik en volledig mens in hul moedertaal. Wanneer jy spontaan reageer, doen jy dit gewoonlik en instinktief in jou moedertaal. In jou moedertaal sê jy jou eerste woorde, leer jy dink, leer jy redeneer, leer jy voel, leer jy kwaad word, het jy lief. Jy doen alleendinge in jou moedertaal: bid, droom, hou dagboek van jou hartsake en hartsverlangens. Derhalwe: wie jy is en wat jy voel en wat jy wil wees, kom natuurliker in jou moedertaal as in ’n tweede of derde taal waarin jy vaardig sou wees. ’n Mens se moedertaal is immers – om NP van Wyk Louw aan te haal – die taal wat jy tot in die murg ken. Daarom maak dit sin dat ek ook in my moedertaal, eerder as in ’n ander taal, onderrig sou wou ontvang.

Die vermoë om jou eie taal goed en reg te gebruik, dra by tot die vermoë om ’n tweede en derde taal aan te leer en goed te gebruik in welke omstandighede ook al. As ’n persoon dus twee- of drietalig is, en die tweede en derde taal in stand hou deur hom/haar voortdurend daaraan bloot te stel deur byvoorbeeld die tweede en die derde taal te lees en te praat, kan en sal die feit dat die persoon in sy/haar moedertaal onderrig word nie vir hom/haar tot nadeel wees nie.

Tydens studie maak studente deurgaans kennis met handboeke en ander studiestukke in ’n tweede taal – meesal in Engels. Dit maak diesulke studente meer as vertroud met vakterme in Engels. Sou hulle hulle dus in ’n Engelse omgewing bevind en hulle in Engels moet handhaaf, sal hulle daartoe in staat wees. Dit blyk uit talle voorbeelde daagliks plaaslik en in die buiteland waar Afrikaanssprekendes hulle hierin onderskei.

Die argument in Suid-Afrika dat studie in Engels moet geskied ten einde ’n persoon in staat te stel om in die beroepswêreld mededingend te wees, hou dus nie water nie. Hoewel Suid-Afrika beduidend verengels, is bogenoemde argument ’n handige verskoning – vir diegene met verskuilde motiewe – om aan te voer en aktief mee te werk dat tradisioneel Afrikaanse skole en tersiêre instellings in Suid-Afrika verengels.

Talle Suid-Afrikaners wat in Afrikaans gegradueer het, geniet in die buiteland erkenning vir die werk wat hulle daar in ’n Engels- of andertalige omgewing doen. Gaan slaan gerus ook die beduidende hoeveelheid nie-Engelssprekende persone na, wat in hul moedertaal gegradueer het, en Nobelpryswenners was.

Studie in Afrikaans dra daartoe by om Afrikaans as wetenskapstaal te vestig en uit te brei. Vaktaalburo’s kom tot stand om Afrikaanse vaktaal te skep, handboeke word in Afrikaans geskryf en vertaal, seminare word op hoë vlak in Afrikaans aangebied.

Deurdat die taal op hierdie wyse groei en uitbrei, word ’n onontbeerlike skriftelike nalatenskap in Afrikaans daargestel en vergroot. Hierdeur geniet die taal erkenning op veel hoër vlak as tale wat slegs mondeling bestaan – byvoorbeeld sekere inheemse Afrika- en Indiaanse tale. Diesulke tale beskik oor geen skriftelike nalatenskap nie en dien slegs as mondelingse kommunikasiemiddel.

Die keuse van die Afrikaanse moedertaalspreker om in Afrikaans te studeer – en te doseer – dien dus ’n veel groter doel as bloot voldoening aan die voorkeur van die individu. In die groter geheel dra dit by tot die dinamiese groei en ontwikkeling van Afrikaans, en gevolglik tot groter aanwendingsmoontlikhede van Afrikaans. Dit dra byvoorbeeld by tot skakeling met ander lande met betrekking tot taal en kultuur. Afrikaans beskik oor ’n gerespekteerde letterkundeskat wat in die verlede gelei het en steeds lei tot vrugbare gesprekvoering en kultuurskakeling met byvoorbeeld onder meer Nederlandse en Vlaamse taalkundiges en skrywers. Dit lei op sy beurt tot die vertaling van Afrikaanse romans en gedigte in ’n verskeidenheid ander tale, die uitruil van musiek, die optree van Afrikaanse kunstenaars in Nederland en Nederlandse kunstenaars in Suid-Afrika.

Ten slotte: Taal vorm ’n integrale en baie belangrike deel van die voortbestaan van die mense wie die taal praat. Om te kies om in Afrikaans te studeer, dra by tot die verwesenliking van al die voorafgaande, wat weer in die besonder deel vorm van die volle verwesenliking van die Afrikaner. Dalk juis veral dáárom behoort jy in Afrikaans te studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae