Afrikaans op Wikipedia: Almal moet hul kant bring

Foto: Pixabay.com

Meeste van ons moes as kind by die biblioteek aanklop om inligting te kry vir ʼn taak. Die jonges van vandag sit voor die rekenaar met ʼn magdom opsies en hoef nie eers vir iemand anders te wag om eers klaar afskrifte te maak van ʼn boek voordat hy/sy ook ʼn beurt kan kry nie.

Die internet is ryk aan bronne, maar Afrikaans kort ʼn hupstoot.

Maroela Media het onderneem om die Afrikaans-op-Wikipedia-projek ten volle te ondersteun sodat skoliere hul soektog na inligting in Afrikaans kan doen.

Ons het jou hulp nodig om ʼn bydrae tot hierdie Afrikaanse biblioteek op Wikipedia te maak.

Besoek https://af.wikipedia.org, registreer as ʼn gebruiker en begin artikels en foto’s oplaai (onderaan hierdie artikel volg ʼn video wat jou presies verduidelik hoe jy ʼn artikel op Wikipedia kan publiseer).

Omdat dit ʼn gemeenskapsprojek is, kan ons mekaar se gepubliseerde werk redigeer om sodoende beter soekresultate te lewer. Daar is reeds byna 50 000 Afrikaanse artikels op Wikipedia, maar in vergelyking met ander tale skiet dit nog ver te kort.

Dit is elke Afrikaanssprekende se plig om kennis na te laat sodat die volgende generasie daarop kan voortbou. Dit is nou tyd om oor te gaan tot aksie: registreer sommer vandag nog om ʼn sigbare verskil te maak in die Afrikaanse gemeenskap!

Vir meer inligting of navrae, stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ek het al verskeie insette op die Engelse Wikipedia gelewer. Ongeag van jou bronne en akademiese stawing, dit word alles oor tyd weereens gewysig en dikwils nie met beter nagevorsde of enigsins korrekte alternatiewe nie. En oor tyd is Wikipedia (Engels) oorgeneem deur ‘n kliek met ‘n postmodernistiese en linkse wêreldbeskouing. Daardie vegters vir sosiale geregtigheid oorheers op Wikipedia omdat hulle meer beskikbare tyd het om ander se bydraes op Wikipedia ongedaan te maak as wat enige ander persone tyd het om bydraes te lewer.

Watter waarborg het ons dat dieselfde nie hier sal gebeur nie? As voorbeeld – maak nie saak wat vandag oor die Voortrekkers geskryf word nie, ek sal my kop op ‘n blok sit dat oor ‘n jaar van nou af is die weergawe op Wikipedia dat dit eintlik ‘n Boere inval in die grondgebied van noordelike swart stamme was, en die akademiese verwysing sal die werke van John Laband wees. En daardie weergawe sal wees wat jul kinders eendag op Wikipedia sal leer.

Dit is verspot maklik om ‘n eie wiki webblad op die been te bring (Afriwiki?) en my advies aan Afriforum is om eerder ‘n wiki te stig waar die Afrikaner se ondervinding en ervaring van ons geskiedenis geboekstaaf kan word. En dit kan met dieselfde akademiese standaarde as Wikipedia geskied, maar die verskil is dat die linkses nie die redigering sal oorheers nie.

Ls ·

Julle besef dat wikipedia glad nie betroubaar is nie ne, GLAD NIE betroubaar nie!

Richard ·

Volgens wie, Ls? Of moet ek sê [citation needed] ?

Talle akademiese studies het al oor en oor bevind dat Wikipedia oor die algemeen net so akkuraat, of selfs meer akkuraat, as gewone ensiklopidee of ander verwysingsbronne is.

Marthinus Willemse ·

Daar is dele van Wikipedia wat baie goed is. Soos Richard tereg noem, is studies gedoen tussen bv Wikipedia en die Britannica, waar laasgenoemde net soveel foute as die wiki gehad het.

My probleem met die Afrikaanse wiki, is dat die spelling nie eenvormig is nie. Afrikaans as taal word redelik streng beheer, terwyl ander tale op die oogaf nie so erg is nie. Veral transliterasie van byvoorbeeld Russies, is nie eenvormig nie. Dit help veel jy het 50 000 artikels, maar `n groot persentasie is swak geskryf.

En Casper is ook reg dat Wikipedia gekaap is, veral artikels oor Rusland, en Amerika se “vyande”. Die Oekraïnse artikels is “overkill” en hulle hemel hulself so op, dis eintlik sieklik. Terselfdertyd word die grootste strooi oor Rusland ingepomp.

George Galloway, voormalige Britse parlementslid, se Wikiblad is meer as 2000 keer ongemagtig verander deur ene Philip Cross. Galloway bied `n beloning van £1000 aan enigeen wat Cross se identiteit kan openbaar. Hy wil weet hoekom Cross groot dele van Wikipedia verander. Hy het by Wiki HK gekla, Jimmy Wales vertel George praat twak, terwyl die bewyse daar is.

Persoonlik voel ek dat Wikipedia soos WikiLeaks nie meer `n wiki word nie, maar `n gewone webwerf, waar bydraes deur almal, deur `n gekwalifiseerde span verwerk, bygewerk en geplaas word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.