Afrikaanse Taalraad se nuwe direksie fokus op taaldiversiteit, inklusiwiteit

Michael Jonas, nuwe voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) (Foto: Verskaf)

Michael Jonas, nuwe voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) se direksie, sê die voortbestaan van Afrikaans gaan afhang van hoe daar omgegaan word met die taal en of die diversiteit en tongvalle erken word.

“Diversiteit is ʼn enorme bate. ’n Lewenslyn vir Afrikaans. Ons moet dit gebruik om die ryk kultuurerfenis van Afrikaans te vier en dit van negatiewe assosiasies te bevry,” sê hy.

Jonas het 21 jaar lank by die subdirektoraat museumdienste van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport gewerk. Sedert Junie 2016 is hy die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument, waar hy onder meer betrokke is by werksessies, strategiese beplanning vir instellings en opvoedkundige projekte. Hy dien ook in verskeie direksies, soos die Historium-trust en die CJ Langenhoven-gedenktrust, asook die NuU-museum in Lübeck, Duitsland.

Jonas glo die Afrikaanse taalgemeenskap het die grootste rassediversiteit van al die inheemse tale.

“Ons moet daardie diversiteit vier en ruimtes skep waarin dit kan floreer,” meen hy. “Pleks van mense uit te sluit op grond van hoe hulle met die taal omgaan, moet alle variëteite omarm word. ’n Taal het standaarde nodig, maar die uitsluitlike klem op die gestandaardiseerde weergawe lei tot vervreemding.”

Prof. Frank Hendricks, nuwe direksielid van die Afrikaanse Taalraad (ATR) (Foto: Verskaf)

Prof. Frank Hendricks, nuwe direksielid en tot sy aftrede in 2017 verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland, glo inklusiewe Afrikaans gaan om die erkenning van die taal se diversiteit en dat daar meer as een tongval van Afrikaans is. Al die variëteite is Afrikaans en is organies aan mekaar verbind.

“As ’n mens die variëteite sou ignoreer, sny ’n mens die voedingsbronne van die taal af. Beklemtoning van slegs die standaardvariëteit sal die taal laat uitsterf,” sê Hendricks. Hy voeg by dat erkenning van die menswaardigheid van al die sprekers van die taal noodsaaklik vir oorlewing en groei is.

Annelise de Vries, ’n taalbeplanner en forensiese linguis en die nuwe ondervoorsitter van die Taalraad, stem hiermee saam.

Annelise de Vries, ’n taalbeplanner en forensiese linguis en die nuwe ondervoorsitter van die Taalraad (Foto: Verskaf)

“Mense op voetsoolvlak moet weet die Taalraad fokus nie net op Standaardafrikaans nie.”

De Vries verduidelik dat dit op ʼn makrovlak soms moeiliker is om mense te oortuig dat Afrikaans nie ʼn bedreiging vir ander inhou nie. Daarmee saam is dit die ATR se doel om verskillende variëteite, dialekte en streektale in ag te neem en te beklemtoon dat alle variëteite gelykwaardig is.

Nog ’n nuweling op die direksie, kommissaris Aäron Messelaar, meen Afrikaans word bedreig. Messelaar, wat ʼn sterk agtergrond in Griekwa-Afrikaans het, is hoof van administrasie in die Griekwa-koningshuis. Hy glo Afrikaans moet in gemeenskappe bemark word.

“Afrikaans moenie net as ’n taal nie, maar ook as ’n kommunikasiemiddel tussen Afrikaanssprekendes bevorder word. Kinders moet meer Afrikaans praat, veral omdat die jonger geslag daarop fokus om kinders Engels groot te maak. Gemeenskapsuitreikaksies vir Afrikaans is dus baie belangrik.”

Alana Bailey, terugkerende direksielid, het ’n uitgewersagtergrond en meen diversiteit kan ’n taal verryk.

“Afrikaanssprekendes moet die kennis hê om die standaardvorm te kan praat, maar nie wal gooi teen vernuwing en ander variëteite nie. Kruisbestuiwing moet toegelaat word.”

Sy verwys ook na die staat se gebrek aan erkenning van Afrikaans in werksplekke en howe, waar mense hulle nie meer in hul eie taal kan uitdruk, nie. “Wanneer mense op hulle gemak kan gesels, doen hulle dit in hulle moedertaal. Maak mense meer gemaklik, want inklusiwiteit gee plek aan mense identiteit.”

dr-conrad-steenkamp-afrikaanse-taalraad

Dr. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad. (Foto: Twitter)

Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, is inklusiwiteit van die verskillende vorme van Afrikaans belangrik vir die oorlewing van die taal.

“Inklusiwiteit beteken dat al die sprekers van al die variëteite op ʼn gelyke basis betrek word. Géén variëteit, die standaardvariëteit ingesluit, word belangriker as die ander geag nie. Afrikaans is die som van die taal se variëteite. Ons moet mekaar kan groet met ’n mirrag, hoesit, saloet en aweh. Ons moet saam kan smul aan melktert, krimpvarkies, tweegevreetjies, koeksisters én koesisters.

Steenkamp meen as Afrikaanssprekendes verskille uit die weg ruim en meer begrip vir mekaar ontwikkel, sal hulle in ’n beter posisie wees om ruimtes vir Afrikaans te beding. “Wye alliansies – in die gees van die veeltaligheidsvoorstander dr. Neville Alexander – is nodig om die hegemonie van Engels teen te staan en ruimte vir die inheemse tale, Afrikaans ingesluit, te skep,” sê hy.

Volgens Steenkamp beteken dit in die praktyk dat sprekers van Standaardafrikaans moet ophou om variëteite soos Kaaps te stigmatiseer. Hy voeg by: “Ons moet ook ophou om Pretoria-Afrikaans of die sogenaamde stywe boordjie van Standaardafrikaans bespotlik te maak. Om die variëteite teen mekaar op te stel, is ʼn slegte ou gewoonte.”

Hendricks sê die ATR moet die diversiteit van Afrikaans en al die variëteite bevorder. “Die organiese band tussen die standaardvorm en die omgangsvariëteite moet beklemtoon word. As dit gebeur, help almal saam om die standaardvariëteit op ʼn inklusiewe wyse te laat groei.”

Steenkamp eggo dié siening. Hy sê die variëteite verteenwoordig taalkreatiwiteit op voetsoolvlak: Dit dra by tot die verryking van algemene Omgangsafrikaans en die aanpassing van Standaardafrikaans is ’n natuurlike uitvloeisel hiervan. Daarsonder sal Afrikaans baie armer wees, meen Steenkamp.

“Diegene wat taalvermenging as positief beskou én diegene wat bekommerd oor die invloed van Engels is, het die reg om die taal te praat soos hulle wil. Dit is nodig om aan te beweeg van die voorskriftelikheid van die verlede.”

Ander ATR-direksielede sluit in die skrywer en kenner van Gariepafrikaans Anzil Kulsen, TV-aanbieder Sinki Mlambo, taalkundige Karien Brits, taalliefhebber Louis du Plessis en Japie Gouws, voormalige uitvoerende hoof van die ATKV. Lees meer oor die nuwe direksielede by https://www.afrikaansetaalraad.co.za/gaan-groot-of-gaan-huis-toe/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes ·

Die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) sing dieselfde deuntjie. Die inklusiwiteit en diversiteit van Afrikaans, asook die waarde van moedertaalonderrig en meertaligheid, word beklemtoon; Standaardafrikaans word verdag gemaak; alle Afrikaansvarieteite word gelykwaardig verklaar; Kaaps word vir spesiale vertroeteling uitgesonder; en alle inheemse tale, nie net Afrikaans nie, moet glo bevorder word. Hiermee word die gerigtheid van hierdie instansies aangetas en hulle vermoe om vir die heil van Afrikaans in die bres te tree, verwater. Die oorlewing van Afrikaans kan onmoontlik bevorder word deur die ongekwalifiseerde ophemeling van Kaaps omdat Kaaps in groot mate en toenemend Engelsbesoedel is. Daar moet ten minste sterk standpunt teen die groot Engelskomponent van Kaaps ingeneem word, anders sal Afrikaans eersdaags nie meer ‘n taal uit eie reg wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.