Akademia belê in hart, denke van sy gemeenskap

Van links na regs: drs. Carel Boshoff en Daniël Maritz, en prof. Danie Goosen. (Foto: Verskaf)

Akademia het Donderdag sy NP van Wyk Louw-sentrum amptelik bekendgestel waar daar gefokus sal word om die denke en hart van studente te vorm sodat hul roepingsbewuste, uitnemende en deelnemende gemeenskapslede kan word.

Volgens prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, hou die sentrum verband met die strewe na ʼn bepaalde vormingsideaal waaraan die private Afrikaans hoëronderwysinstelling hom verbind het. Akademia het die afgelope paar jaar toenemend besef dat daar ʼn groot behoefte aan ʼn sentrum is wat dié vormingsideaal op alle vlakke van die tersiêre onderwys kan uitbou.

Dis juis waarom die NP van Wyk Louw-sentrum, wat onder leiding van dr. Daniël Maritz bestuur word, begin is.

Goosen, Maritz en dr. Carel Boshoff, bekleër van dié sentrum se ereleerstoel, het gaste by die bekendstellingsgeleentheid by Akademia se Centurion-kampus toegespreek. Esté Gross het as seremoniemeester vir die aand opgetree.

“Louw verteenwoordig in die geskiedenis van die Afrikaanse kulturele lewe ʼn intellektuele hoogtepunt. Hy het homself in sy werk tot die strewe na waarheid, goedheid en skoonheid, asook die sentrale klem op die belangrikheid van insig in die geheel verbind.

“Met die naam van hierdie sentrum verbind Akademia hom tot ʼn erkenning en uitbouing van die intellektuele hoogtepunte wat Louw in die Afrikaanse intellektuele landskap verteenwoordig,” het Goosen gesê.

Hy benadruk verder dat eietydse studente voor groot uitdagings staan met betrekking tot hul beroepslewe, maar ook met betrekking tot ʼn groot hoeveelheid geestelike, lewensbeskoulike of idealistiese vrae.

“Dit is vir Akademia belangrik om studente in hul toekomstige beroepslewe te versterk deur gehalte opleiding, maar ook om ons studente in staat te stel om op ʼn volwaardige wyse die genoemde vrae te kan beantwoord.”

Goosen meld ook dat Akademia by uitstek ʼn hoëronderwysinstelling is wat vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap gebore is.

“Ons by Akademia gaan van die gedagte uit dat studente wat kwalifikasies by ons voltooi ʼn verrykende, verdiepende en vreugdevolle invloed op ons gemeenskap sal uitoefen.

“Enige vrye en gelukkige gemeenskap is van goed opgeleide en gevormde studente afhanklik. Die NP van Wyk Louw-sentrum sal hierin ʼn onontbeerlike rol speel.”

NP van Wyk Louw. (Foto: Karoo Hoogland Munisipaliteit.)

Maritz is opgewonde oor toekomstige geleenthede wat vir die sentrum voorlê. “Daar word verskeie openbare lesings, konferensies en oop gesprekke beplan. In Julie sal die eerste jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie plaasvind, en daar word uitgesien na ʼn besoek van die Amerikaanse universiteit, Hillsdale College, met wie Akademia bande het.”

Die sentrum poog onder meer ook om weer die ryk erfenis van Athene, Rome en Jerusalem as klassieke bronne vir die universiteitswese te herwin, verduidelik Maritz.

“Dit maak die sentrum uniek in sy poging om weer erns te maak met die klassieke ideale van die waarheid, goedheid en skoonheid wat onderliggend aan die geskape werklikheid is. Ons streef daarna om studente te vorm sodat hulle in hul beroepslewe as onderwysers, rekenmeesters, advokate, ekonome, joernaliste, ensovoorts, hierdie ideale sal najaag.”

Maritz nooi lede van die publiek om by die sentrum betrokke te raak en die bogenoemde openbare geleenthede by te woon en daardeur verryk te word.

“Die NP van Wyk Louw-sentrum wil die gemeenskap dien. Ons nooi elkeen om deel te neem aan die soeke na en die geleidelike ontdekking van alles wat waar, goed en skoon is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Julle geleerdes begin voeling verloor met die nood en diskriminasie waarmee gewone mense daagliks moet leef. Filosofie gaan nie vir ons werk em kos gee nie. Nog minder bevryding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.