Bewys jou kind ʼn guns en dring aan op moedertaalonderrig

Argieffoto (Foto: metin seren/Pixabay)

Internasionale Moedertaaldag word op 21 Februarie gevier – ʼn spesiale dag wat fokus op die belangrikheid van moedertaal. Dié dag is in 1999 deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele organisasie) ingestel met die doel om bewustheid te skep oor die belangrikheid van moedertaalonderrig, veeltaligheid en die bewaring van kultuur en erfenis. Dit is ook waarom Afrikaans.com graag alle inisiatiewe in die verband ondersteun en dit aan die groot klok hang.

Daar is reeds baie navorsing oor moedertaalonderrig gedoen wat onomwonde bewys het dat dit die beste roete is om te volg, maar tog is talle ouers steeds onseker of hulle hul kinders in hulle moedertaal moet laat skoolgaan. Want … die wêreld funksioneer mos grootliks in Engels, by tersiêre instellings kraai Engels deesdae koning en 11 amptelike of moedertale – dis mos ’n onbegonne taak! Of is dit?

Kyk gerus rondom jou na die prestasie van Afrikaanse skrywers, joernaliste, akademici, entrepreneurs, akteurs en beroepslui in en deur Afrikaans. Wat het hulle gemeen? Hul moedertaal en daardie grondslag gebou op moedertaalonderrig!

Wat maak 2021 dan nou anders as al die ander jare?

Ons weet reeds hoe belangrik moedertaalonderrig is as ’n mens sukses wil behaal. Die meeste van ons kan waarskynlik ’n hele paar feite opnoem oor hoekom jy nie anders kan as om jou kind in sy moedertaal te laat leer nie. Soos dat moedertaalonderrig bydra tot leersukses; jou in staat stel om sinvol te kommunikeer; dit bewys is dat ’n goeie grondslag in jou moedertaal nodig is om jou potensiaal te ontsluit; dit tot meertaligheid lei omdat jy ander tale soos Engels soveel makliker aanleer as jy eers in jou moedertaal leer lees en skryf het; ingewikkelde konsepte (dink aan wiskunde en wetenskap) makliker begryp kan word as jy dit eers in jou moedertaal baasgeraak het; dit kreatiwiteit aanwakker en probleemoplossing ondersteun – juis omdat dit die taal is waarin jy jouself die beste kan uitdruk.

Trouens, in van die mees suksesvolle en welvarende lande in die wêreld word daar op moedertaalonderrig aangedring en word daar nie eers daaroor gedebatteer nie. Hoekom dan karring aan ʼn resep wat werk?

Hoekom bly dit belangrik om hiervan kennis te neem en die belangrikheid van moedertaalonderrig uit te lig?

Argieffoto (Foto: Juuucy/Pixabay)

Moedertaal is die taal wat jy eerste geleer het, die beste verstaan, die meeste gebruik en waarmee jy identifiseer. Dit is ook die taal waarin jy die beste sal leer en dit vorm een van die belangrikste boustene in toekomstige leersukses. Daarom moet ons aandring op moedertaalonderrig. Moedertaalonderrig bevorder ’n kind se kognitiewe ontwikkeling, maar daarmee saam gee dit kinders selfvertroue, dit bevorder kreatiwiteit, emosionele stabiliteit en – uiteindelik – hul akademiese uitkoms.

Anders gestel: As die kind nie taalvaardig is nie, sal hy/sy akademies ook sukkel. Dit is tipies wat in ons skole gebeur, wanneer ’n kind skool toe gaan en vanuit die staanspoor ’n agterstand het omdat hy/sy nie die onderrigtaal verstaan nie. Hierdie taalverwarring veroorsaak dan leerprobleme.

Taal en veral moedertaalonderrig in ons onderwysinstellings was nog altyd ’n netelige kwessie, veral moedertaalonderrig. Baie mense reken dat Afrikaanssprekendes so gou moontlik in Engels moet begin leer, want “alles by die universiteit gaan in elk geval Engels wees”. Tog het navorsing die teendeel bewys en blyk dit dat kinders wat in hulle moedertaal skoolgaan ʼn geweldige leervoorsprong het en tot ses persent beter vaar wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word.

Navorsing wat in 2016 in Suid-Afrika gedoen is oor moedertaalonderrig het bevind dat leerders wat eksamen in hul moedertaal en nie in Engels (’n tweedetaal) skryf nie, aansienlik beter presteer.

As jou huistaal Afrikaans is, moet jy jou kinders in ʼn Afrikaanse skool plaas. Want, glo dit of nie – kinders wat die voorreg het om in hulle moedertaal skool te gaan, leer gewoonlik taamlik gou ʼn ander taal, meestal Engels, aan. Dit gebeur amper vanself, want hulle word daagliks omring deur die tegnologie, televisie, en so meer. As daar dus enige twyfel bestaan of ʼn kind probleme sal ervaar wanneer hy/sy in ʼn tweede taal onderrig word, is moedertaalonderrig regtig die beste opsie.

Suid-Afrika het jongmense nodig wat uitnemendheid na die tafel toe bring

Argieffoto (Foto: White77/Pixabay)

Maak seker jy verstaan die belangrike rol wat moedertaal in jou kind se opvoeding speel – ten minste die eerste ses jaar van skool. Doen die volgende om jou kind te bemagtig:

  • Berei jou kind voor vir meertaligheid – die meeste kinders het die vermoë om meer as een taal aan te leer.
  • Lees gereeld vir jou kind om so sy/haar akademiese taal te versterk.
  • Kies ’n skool wat veeltaligheid ondersteun sodat jou kind deur blootstelling nog ’n taal kan bemeester.
  • Kies ’n skool wat kreatiwiteit en kritiese denke bevorder.

Ja, geletterdheidsvlakke neem steeds af en daar is etlike sosio-ekonomiese uitdagings, maar weet ook: Hierdie uitdagings kan slegs oorbrug word wanneer ons kinders die kans gegun word om bo die gemiddelde uit te styg deur die uitdagings van vandag met innovasie en kreatiwiteit aan te pak … sodat hulle uiteindelik na skool toegang kan hê tot baie meer geleenthede in Suid-Afrika en in die wêreld en met die beste in die wêreld kan saampraat.

Koester jou moedertaal en veeltaligheid. Só skryf ons saam aan die toekoms van Afrikaans, maar veral ook aan die toekoms van moedertaalonderrig.

Lees meer:

  • Klik hier vir meer oor moedertaalonderrig, asook die 10 belangrikste vrae en antwoorde
  • com se leerhulpafdeling is van onskatbare waarde en bied interessante artikels, ou vraestelle, nuttige hulpmiddele en meer. Alles GRATIS! Klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.