Amper elders

Louis Esterhuizen

Hierdie bundel het nie verniet die subtitel “’n Reisjoernaal” nie, want hier word poëties verslag gedoen van ’n reis na Europa. Byna soos in ’n dagboek word die voorbereidings, die heen- en terugvlugte, die besoek aan vier lande en die afloop van die reis aan die leser voorgehou. Die verslag bestaan egter nie net oor beskrywings van toeriste-aantreklikhede nie, maar sluit ook boeiende interaksies met die inwoners van die ooste van Engeland, Vlaandere, Nederland en Tsjeggië in. Die verteller is deurentyd bewus van die lae van die geskiedenis oor hierdie plekke en die neerslag wat dit in verskillende kunsvorme gevind het. Nuus uit Suid-Afrika staan dikwels ook in ironiese kontras met wat die reisigers in die vreemde ervaar. Duiwe vorm ’n deurlopende motief: Die enigmatiese figuur van die duiwedanser stuur die verteller en sy reisgenoot weg, maar hulle weet dat hulle soos die duif wat Noag uitgestuur het, weer sal terugkeer. Aan die einde van die bundel neem die duiwedanser ’n onheilspellende gedaante aan, en die verteller besin oor die ligtheid en kortstondige vreugde van die reis, soos ’n donsveer wat in die wolke weggeblaas word.

Oor die digter
Het nege digbundels gepubliseer. Ontvang in 2011 die Proteaprys vir die bundel Wat die water onthou. Bestuurder van die Protea Boekwinkel op Stellenbosch en organiseer die jaarlikse Versindaba-poësiefees op Stellenbosch. Sy besondere kennis van boeke en die boekbekendstellingsgeleenthede wat hy in die Protea Boekwinkel op die dorp aanbied, maak hom’n bekende en geliefde figuur onder lesers in die omgewing. Hy is getroud met die skryfster Marlise Joubert. Esterhuizen is beskikbaar vir onderhoude en kan bereik word by [email protected] of by 021 8865317 en 0832874231.

Uitgewer: Protea
Prys: R150-00*
Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.