Bibi Babbelbek praat tot sy blou word

Louise Viljoen

Bibi woon by haar siek en blinde ouma in ’n huisie teen die berg. Soms glips sy dorp toe om met die dorpenaars te gesels en nuus te versamel om aan ouma Lollie oor te dra. Op ’n dag begin Bibi haar eie stories opmaak. Die dorpenaars besluit om niks meer te glo wat sy vertel nie. Maar dan sien Bibi ’n orkaan aankom. Sy probeer die mense waarsku, maar niemand luister na haar nie.

Hierdie vrolike en kleurvol geïllustreerde verhaal leer kinders dat leuens en skinderpraatjies mense kan seermaak en bevat pragtige lewenslesse oor eerlikheid en integriteit.

Uittreksel:
“Asseblief, luister tog na my en gaan soek skuiling voordat dit te laat is!” smeek Bibi. “Ek het die orkaan met my eie oë gesien. Dit is op pad hierheen. Ek belowe!”

Die wind gryp al die woorde uit haar mond uit en waai dit weg. Maar Bibi gee nie moed op nie. Haar keel is teen dié tyd al baie seer van al die gegil en geskree, maar sy hou aan om die dorpenaars te waarsku. Haar skree raak naderhand op sodat sy net saggies kan praat. Sy praat en praat sowaar tot sy blou word!”

Reaksie op die boek:
Die bekende skrywer, Alta Cloete, het só op Facebook gereageer oor Bibi Babbelbek praat tot sy blou word: “Dis geskik vir selflees of voorlees en sal die grootmense ook laat glimlag en knik. Bibi is ‘n dogtertjie met ‘n kop vol woorde. Haar groot talent is om te praat. Sy wend dit aan om haar blinde ouma ingelig te hou. Maar soms gaan daar te min in die dorpie aan en dan moet sy maar haar verbeelding gebruik … En dis hier waar Bibi se moeilikheid begin. Maar gelukkig het die storie ‘n gelukkige einde en die jong lesertjie kan tevrede wees dat niemand meer vir Bibi kwaad is nie. Bibi Babbelbek praat tot sy blou word is ‘n heerlike storie met ‘n goeie woordeskat vir jong lesers en ‘n lekker ritme vir voorlees. Erna van der Merwe se illustrasies is nommerpas.”

Die boek is geskik vir kinders tussen 4 en 9 jaar oud.

Meer oor die outeur:
Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en -taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Haar boekresensies verskyn gereeld op Maroela Media en ander publikasies en kan ook oor die radio gehoor word. Louise glo dat stories die wêreld ’n beter plek maak.

Uitgewer: Naledi
Prys: R140-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.