Boek: As jy van moord droom

Deborah Steinmair

Wat maak ʼn ma as haar sesjarige kind ontvoer word en 20 jaar later weer verskyn?

Erin se dogter wat op ses verdwyn het, klop 20 jaar later aan haar deur. Maryna praat beter Chinees as Afrikaans, sy is grotesk, het ’n daggagewoonte en sê amper nooit enigiets nie.

Erin is nie ’n emosionele mens nie, haar greep op die werklikheid is glibberig en sy praat self moeilik oor haar gevoelens. Sy is boonop obsessief oor die man wat haar verlaat het en die jeugvriend wat steeds na haar hunker.

Hoe gemaak met die kuiken wat onder haar vlerk uit gesteel is, wat deur vreemdelinge hanteer is sodat sy haar reuk nie meer eien nie, wat grootgeword en tuisgekom het om te broei?

Wie lê op loer na haar kind?

In As jy van moord droom voel dit dikwels asof jy in ’n parallelle werklikheid gemoor het uit woede. Jy word met ’n knaende skuldgevoel wakker en wonder waartoe jy regtig in staat is.

Erin het haarself beskou as iemand aan wie moederinstink ontbreek, maar toe haar kind verdwyn, het haar lewe alle betekenis verloor. Nou is Maryna terug. Hoe dring Erin tot hierdie woedende vreemdeling deur? En hoe hanteer Erin haar eie woede oor wat ander aan haar kind gedoen het?

Die storie van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff was die sneller vir die roman. Daar is heelwat boeke oor kinders wat verdwyn, maar min oor ’n beskadigde kind wat terugkom.

As jy van moord droom is ’n boeiende analise van die dinamiek tussen ma en dogter. Die groeiende verhouding tussen Erin en Maryna is ontroerend.

Oor die skrywer

Deborah Steinmair is in 1962 op Groblersdal gebore en het in Pretoria grootgeword. Sy het ’n BA-graad in Engels en ’n honneursgraad in Drama behaal. Steinmair was onder meer ’n assistent vir ’n reisende poppespeler, ’n lektor in Engels by die Universiteit van die Noorde, die boekeredakteur by kalahari.net en die SêNet-webmeester op LitNet. Sy is tans ’n vryskutkopieskrywer, redakteur, proefleser en skrywer.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R300,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.