Boek: Die dag toe ons Krismis gaan soek het

Wini Esterhuizen

Die dag toe ons Krismis gaan soek het bied ’n keur opregte, uit-die-hart-uit-vertellings, jeugherinneringe en kontreistories.

Klein Wini is ’n “ouderwetse” kind en gaan op vyf skool toe, waar sy die meeste van teken hou. Sy wens sy was so mooi soos Marlene Dumas, wat in dieselfde skool was. Maar sy het rooi vlegsels en sproete soos Pippie Langkous. Sy praat te veel en noem ’n ding by die naam. Sy het ’n hart vir hoenders. Sommige stories is oor mense wat sy raakgesien of verbeel het.

Die verhale word gekenmerk deur humor en deernis en ’n oog wat nie wyk nie, wat immer die ironiese besonderheid waarneem. Wini Esterhuizen se eiesoortige swart-en-wit-foto’s van Namibië en sy inwoners bied ’n unieke blik op die verhale en karakters.

Lesers wat nadink oor die lewe en ander mense, liefhebbers van ’n heerlike storie, sonder omhaal vertel, sowel as mense wat hunker na die verlede, maar nie toe-oë en wrewelrig deur die hede gaan nie, sal by Die dag toe ons Krismis gaan soek het aanklank vind.

Oor die outeur

Esterhuizen is boervrou op Koës in Namibië. Sy is ’n alleenmens en skryf al jare stories. Esterhuizen is ook ’n uitmuntende amateurfotograaf, met ’n goedkoop kamera. In haar fotografie, sowel as haar stories, is haar oog vir detail duidelik en haar gekantelde kop. Sy het eenmaal op ’n kunswedstryd op laerskool eerste prys vir ʼn tekening van haar troetelhaan gewen. Esterhuizen is ’n reisiger van stofpaaie en duine, ’n optekenaar en vergaarder van stories.

Genre: Kortverhale
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.