Boek: Feit en fiksie word verweef in ‘So byna blou’

Emile Joubert

So byna blou bevat tien kortverhale met temas soos die afstand tussen mense en die onvermoë om werklik kontak met ander te maak. Meeste van die karakters is welgestelde wêreldburgers wat reis, professionele mense, skrywers, uitgewers, joernaliste en fotograwe wat elkeen in ʼn problematiese verhouding met sy of haar medemens is. Daar is verwysings na talle noodlottige liefdesverhoudings, affairs, vreemdelinge wat mekaar in ’n hotel ontmoet, etes in duur restaurante, bloedskande, die Seepunt-promenade, Kaapstad, Parys, vergiftiging op ’n portplaas in Portugal en die wreek van ’n geliefde se dood. Elke karakter is in wese ’n geïsoleerde figuur wat ’n waterskeidingsoomblik beleef waarin sy of haar lewe onvermydelik verander.

So byna blou is voormalige joernalis Emile Joubert se derde kortverhaalbundel.

Oor die outeur

Emile Joubert is ’n voormalige joernalis van Die Burger en Beeld en hy werk tans as bemarkingkonsultant in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Joubert is in Kaapstad gebore, waar hy steeds woon, en het sy skool- en universiteitsopleiding in Stellenbosch voltooi. Sy dagtaak is die bestuur en bedryf van kommunikasieprogramme vir van die land se voorste wynkelders. Joubert skryf steeds rubrieke en artikels oor wyn en algemene sake vir ’n verskeidenheid Afrikaanse en Engelse publikasies. As fiksieskrywer het hy in 2000 gedebuteer met die kortverhaalbundel Die aptyt van Anna Blow, gevolg deur die bundel Kouefront asook twee niefiksiepublikasies oor onderskeidelik hengel en wyn.

Genre: Kortverhale
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R225,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.