Boek: ‘Fluitjieblaser of doofstomme’ – Kobus Hoffman

Kobus Hoffman 

“Fluitjieblasery is ʼn moeilike ding. Ek kan jou byna waarborg die een of ander stelsel gaan jou pootjie en hard op jou gesig laat val. Dit is hoekom mense bang is om korrupsie te onthul. Dit is nie ʼn maklike pad wat jy kies nie.”

Só skryf Kobus Hoffman in die voorwoord van sy boek Fluitjieblaser of doofstomme wat pas by Ns. Skrywershuis verskyn het.

In dié boek onthul Hoffman die pad wat hy as politikus, lid van die DA en toe fluitjieblaser moes stap. Hy skryf breedvoerig oor die proses, bedrog, bewyse en doodsdreigemente teenoor hom en sy familie.

Die vrae wat hy deurgaans stel, is: Moet jy die fluitjie blaas of moet jy eerder doofstom wees, en moet jy praat of moet jy eerder jou rug draai?

“Vir dié wat ons te na gekom het, ek het julle vergewe. Ek hoop dat ander dit ook sal regkry. My wens vir julle is dat julle eendag julle harte sal versag en besef dat daardie inkomstes baie hartseer veroorsaak het en dat baie mense gebreek was deur julle dade.” (Voorwoord, Fluitjieblaser of doofstomme)

Hoffman is Midvaal se lid van die Provinsiale Raad van die Vryheidsfront Plus-party en bekend in die politieke arena. Soms ʼn vuurvreter, maar ʼn regverdige en eerlike man wat nie wegskram van wat verkeerd is nie. En hy is nie skaam om sy hande vuil te maak nie.

Volgens Nico Schamrel, publikasiehoof van Ns. Skrywershuis, beskik Hoffman oor die vermoë om met ʼn tikkie humor die erns ietwat te versag, maar sy terugbaklei word met oorgawe geopenbaar.

Schamrel sê verder dat Hoffman met eerlikheid skryf oor sy eie omstandighede en die ander partye wat betrokke by hierdie skandaal is.

“Hoffman slaag skitterend daarin om ʼn goeie en eerlike weergawe van sy persoonlike ervarings, bedrog en die slegheid in politieke geledere te promulgeer.

“Sy nederigheid kom veral na vore deur in ʼn gemaklike trant te skryf sonder om té formeel voor te kom. Hoffman se aanwending van humor en satire laat die leser gemaklik voel tussen sinne vol skokkende feite en die verwaandheid onder sekere sogenaamde politieke figure.”

Uitgewer: Ns. Skrywershuis
Prys: R230,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Die boek kan aanlyn bestel word op Ns. Skrywershuis se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.