Boek: Hans du Plessis se ‘Inkommers’

Hans du Plessis 

“Ek, Plakker Prinsloo, weet nie of ek nou al gereed is om vir die eerste keer saam met Bennie Afrikaner uit te ry Kom toe nie. Ek was nog nooit ʼn reisiger nie, dit is nou as jy nie my en Ma se ewige getrek voor Pa se misdaadrekord uit reis kan noem nie.”

Hans du Plessis se jongste boek, Inkommers, word deur die uitgewer as ʼn eietydse verhaal beskryf. ʼn Kroniek van die Afrikaners – die familie, nie die volk nie – wat al van die Groot Trek se dae af wydsbeen oor die vuil Vaal in die Vredefortkoepel boer.

Is dit moontlik dat net gebore Kommers in die Kom hoort? Hoe gemaak met inkommers wat tot dusver nie juis welkom was nie? ʼn Mens moet versigtig wees vir vreemdelinge. Die Afrikaners is hoeka aan die min word en hulle wil hulle omgewing tot ʼn erfenisgebied verklaar kry. Dan is die liefde ook nog aan die uitsterf. Iemand moet daarop reageer, rebelleer selfs, maar rebelleer die ware rebel vir iets of teen iets?

In die titel lê ook dié vraag opgesluit: Is die Kom se bewoners die eienaars (hoort hulle in die Kom op grond van besit) of is hulle inkommers (van buite af en sonder enige regte)? Uiteindelik “kom” al die verhaallyne ook “in” omdat dit duidelik word hoe mense wat mekaar net skrams of glad nie geken het nie, van meet af aan deel van mekaar en die Kom was. ʼn Grootliks onbekende verlede word hiermee saam onthul.   

Oor die skrywer

Du Plessis het in 1978 gedebuteer met sy digbundel Kleinwild. Sedertdien het hy meer as 160 publikasies – waaronder akademiese artikels en boeke, ses digbundels, drie jeugromans en vier romans – die lig laat sien. Du Plessis het al verskeie pryse vir sy werk ontvang, onder meer die ATKV-kinderboekprys en ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R300,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.