Trekklavier bring hoop, bekoor reeds vir byna 200 jaar

RKM het twee van sy eie komposisies gesing en op die trekklavier gespeel, “Dumelang” en “Bophelo bona”. (Foto: Clifford Roberts)

Wêreldtrekklavierdag word jaarliks op 6 Mei gevier en in Suid-Afrika is daar behoorlik hiervoor makietie gehou by die Drostdy-teater in Stellenbosch. Vanjaar se plaaslike verrigtinge was sommer ook eg Suid-Afrikaans.

Dié geleentheid is deur die Suid-Afrikaanse Vryrietvereniging (South African Free Reed Association of SAFRA) georganiseer. SAFRA is by die internasionale akkordeonliggaam in Frankryk, die Confédération Mondiale de l’Accordéon (CIA), geaffilieer. Die CIA is die internasionale organisasie wat trekklavierspelers en -verenigings van reg oor die wêreld verteenwoordig.

SAFRA bevorder vryriet-instrumente wat die konsertina, mondfluitjie, traporrel en trekklavier insluit.

SAFRA, ʼn organisasie sonder winsbejag, sien ook om na die keuring van Suid-Afrikaanse trekklavier- en konsertinaspelers vir deelname aan die wêreldkampioenskappe.

Gaste smul voor die konsert aan pampoenpoffertjies en hoenderpastei saam met koue witwyn uit die Kaapse wynlande. Binne die teater stem musikante van Soweto, die Oos-Kaap en die Kaapse Vlakte hul instrumente. Dit is duidelik; daar is soveel meer wat ons verenig as wat ons kan dink.

“Die eerste Wêreldtrekklavierdag is in 2009 deur die CIA gehou ter viering van die 180ste verjaardag van die trekklavier op dieselfde dag. Op 6 Mei 1829 is die trekklavier aan die owerhede in Wene, Oostenryk vir patent deur Cyrill Demian (1772-1849), ʼn orrel- en klaviermaker van Armeense oorsprong, voorgelê. Hy is deur sy twee seuns, Karl en Guido, vergesel,” het Leon Albert Oosthuizen, president van SAFRA, gesê.

Die dag se seremoniemeester was die aktrise Nicole Holm, wat ook by die geleentheid gesing het.

Die trekklavier is ook bekend as ʼn akkordeon, pensklavier of pensorrel. Die Nederlanders praat van trekzak en die Skotte noem dit ʼn boks, het Leon vertel.

André van Vuuren het daarna vertel die instrument is vanjaar 195 jaar oud. Teen ongeveer 1837, nie lank na Demian die akkordeon gepatenteer het nie, het die instrument in Suid-Afrika beland. Maar die geskiedenis van die riet-instrument dateer veel verder terug tot by Chinese sheng, ʼn mond-instrument wat uit rietpypies bestaan.

Vandaar het die vryriet ontstaan; elke noot vibreer uit sy eie riet en raak nooit aan die speler se lippe nie.

Die trekklavier is ʼn diverse instrument, met tot soveel as 446 fluitjies (note), terwyl die klavier maar net meer as 200 het. Dis baie tydrowend om te stem en sommige instrumente is baie geld werd.

Vandag word die akkordeon wêreldwyd in verskeie genres gebruik. Talle lande assosieer die trekklavier met hul eie volksmusiek. Met die ontwikkeling van tegnologie het die trekklavier se klank, duursaamheid en veelsydigheid aanhou ontwikkel.

Hy het vertel dat daar ʼn interessante instrumente-museum in Genadendal buite Greyton is.

Die plaaslike trekklavier-toneel is dinamies en bied talle geleenthede vir die jeug:

  • Tersiêre studie met die akkordeon as hoofinstrument is onlangs moontlik gemaak deur die South African College of Music aan die Universiteit van Kaapstad. Dit beteken jy kan ʼn baccalaureusgraad in musiek met die trekklavier verwerf.
  • Graad-eksamens is ook onlangs deur SAFRA aan die Universiteit van Wes-Londen ingestel. Dit beteken jy kan ʼn internasionaal-erkende kwalifikasie kry van graad 1 tot 8 soos jy met die trekklavier vorder.

Hy het ook vertel dat Suid-Afrikaners van 10 tot 18 Oktober kan uitsien na ʼn besoek van ʼn professionele akkordeon-orkes van Duitsland. Die Landes Jugend Akkordeon Orchester (LJAO) gaan die publiek met optredes, werkwinkels en meesterklasse in samewerking met Suid-Afrikaanse musici vermaak.

“Suid-Afrikaanse trekklaviermusiek het ʼn trotse erfenis, dink maar aan Forere Motloheloa met sy kenmerkende Sotho-trekklavierritmes in Paul Simon se bekroonde Graceland-album en Nico Carstens met sy wêreldwye ‘Zambezi’-treffer.”

Daar hang selfs ʼn mooi skildery van Nico in die Drostdy-teater se eetkamer.

Hy het ook vertel dat onlangse ontwikkelings in die plaaslike trekklavier-toneel toon dat nuwe leer-geleenthede nou bestaan vir die trekklavier; internasionaal-erkende kwalifikasies verkry kan word van graad 1 tot met ʼn baccalaureusgraad; toegang tot internasionale kompetisies verkry kan word met die akkordeon en konsertina en plaaslike trekklavierspelers internasionale musiekloopbane kan volg.

Die konsert het ʼn trots-Suid-Afrikaanse inslag gehad, en ook musiek van oral oor wat die diversiteit van trekklaviermusiek vier. Dit het alle genres, van kabaret, volksmusiek, tango, Famo-jazz, klassieke musiek, boeremusiek, Franse musiek tot gospel, ingesluit.

Die kunstenaars wat deel van die vieringe was, het top Suid-Afrikaanse trekklavierspelers ingesluit waaronder: André van Vuuren, nie net ʼn ervare trekklavierspeler nie, maar ook toonaangewende restoureerder van trekklaviere in Suid-Afrika; Babette & Olga, ʼn duo wat kreatief te werk gaan met die trekklavier en ook nuwe verhoogproduksies en komposisies skep; Leon Albert Oosthuizen, wat ʼn internasionale kunstenaar tydens FIFA-sokkerwêreldbeker in Katar in 2022 was. Hy het ook ʼn spesiale internasionale prys by die PIF-trekklavierfees in Italië ontvang en is tans SAFRA se president. Leon is ook pas terug van ʼn besoek aan die World of Accordions-museum in die VSA, wat met meer as 2 500 instrumente spog.

Gehore kon ook die talent geniet van Loren Ehlers, Suid-Afrika se eerste trekklavierstudent op tersiêre vlak en ʼn gereelde mededinger aan internasionale kompetisies. Louis Verwey, ʼn akkordeonaktivis en -leerling en die mede-organiseerder van die vieringe by die Drostdy-teater, het vir nog musiek gesorg

Monika Stuchlik, ʼn voormalige silwermedalje-wenner by die junior-wêreldkampioenskappe en die akkordeonspeler van die groep ZAMAR het saam met haar twee kinders, Daniel en Klara, wat ook trekklavier speel, opgetree.

MJ Brooks kom uit ʼn musikale familie en het sy orkes vir Afrikaanse volksmusiek en boeremusiek saamgebring.

Mr. Dreams, oftewel Makabongwe Mahamba, ʼn Xhosa-trekklavierspeler van Nqamakwe in die Oos-Kaap, het die gehoor vermaak met sy tradisionele Afrika-dansmusiek. Neil Paulse, die trekklavierkoning van Bishop Lavis wat in Krismiskore en die Kaapse Klopse-groepe speel, het Afrikaanse volksmusiek en gospel gespeel.

RKM, ook bekend as Ralikoriana koete Masholu, is ʼn Sotho-trekklavierspeler van Soweto, Johannesburg wat in tradisionele Afrikamusiek spesialiseer en hy het Famo en jazz gespeel.

Famo is ʼn soort musiek uit Lesotho wat bestaan ​​uit sang begelei deur die trekklavier, ʼn trom en soms ʼn bas-instrument. Dit het ontstaan ​​in die kuierplekke van die trekarbeiders van Lesotho wat probeer ontspan nadat hulle in die 1920’s in die myne gewerk het. Vandag is dit ʼn gewilde vorm van musiek vir Sesotho-sprekers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linq ·

Nostalgie … my ma het ‘n trekklavier wat 90+ jaar oud is en die note is nog suiwer. Sukkel net om ‘n plek te kry wat dit kan wardeer vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.