Boek: Kleur – my lewe, my lied – Randall Wicomb

Kleur-My-lewe-my-lied.jpgAmos van der Merwe en Randall Wicomb

Kleur – my lewe, my lied is die resultaat van ses jaar se gesprekke met Randall Wicomb  ̶   van herinneringe aan sy kinderjare tot vertellings oor die eensame bestaan wat hy nou voer. Die onsekerheid rondom sy herkoms en sy moeder se pogings om hom teen apartheid te beskerm het ʼn onuitwisbare indruk op hom gelaat en uiteindelik ʼn kruis geword wat hy steeds dra.

Randall se sangloopbaan vleg tussen veranderende politieke omstandighede en die behoud van Afrikaanse liedere deur om van hom ʼn bekende en beminde figuur te maak. Vir meer as veertig jaar sing hy van kleur en liefde, van heimwee en hoop, en van amper vergete liedjies in die taal wat so na aan sy hart is.

In hierdie biografiese verhaal vertel Randall van die humor, suksesse en mislukkings wat van hom ʼn huishoudelike naam gemaak het. Hy gesels openhartig oor sy familie en die duur prys van roem. Nou, ná die diagnose van gevorderde kanker, plaas hy sy lewe onder ʼn vergrootglas om sin te maak van die vele hoogte- en laagtepunte wat hy ervaar het. Sy soektog na identiteit word ʼn intense ontboeseming van ʼn man wat  ̶  met ʼn glimlag en ʼn traan  ̶  nie skroom om foute te erken en hoop te deel nie.

In Kleur onthou Randall die besondere mense wat sy loopbaan beïnvloed het asook die rol wat vreemdelinge in sy lewe gespeel het. Die stories van sy besoeke aan Namibië en die polisiestasie in Vereeniging laat hom steeds skater van die lag, terwyl sy weergawe van die Griekwapsalms op ʼn onlangse bootreis ʼn nuwe rigting aan sy lewe gegee het.

Die titel van die boek is doelbewus gekies om meer as een begrip te omvat. Randall Wicomb se agtergrond, sy lewe en sy liedjies word ʼn prisma waardeur sy identiteit uiteindelik in fokus kom. Dit is die verhaal van ʼn mens wat, ten spyte van omstandighede, steeds sy gehore bekoor en strewe na ʼn beter toekoms.

Oor die outeur:

Bekroonde volksanger en bekende kopersmid – Randall Wicomb het geen bekendstelling nodig nie. Daar is sekerlik min mense wat nie op een of ander stadium met heimwee na Kleur geluister of op die maat van Rooirok gewals het nie.

Maar … wie is hy regtig? Amper 70 jaar al is Randall se lewe een van onsekerheid. Sy sangloopbaan het van hom ʼn ikoon gemaak, maar roem en sukses het hom duur te staan gekom. Nou, terwyl sy gesondheid ernstig bedreig word, voer hy ʼn openhartige gesprek met sy aanhangers.

Kleur neem die leser op ʼn reis saam met ʼn ontwortelde individu deur die veranderende politieke landskap van Suid-Afrika. Randall gesels oor sy kinderjare en sy lang loopbaan met Afrikaanse liedjies. Hy vertel van die liefdes in sy lewe, sy suksesse en mislukkings, en veral van die leuen wat hom van sy familie vervreem het.

Uitgewer: Naledi
Prys: R235.00* (CD met 6 opnames ingesluit)
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat ‘n voorreg Randall om jou tweekeer te kon sien (hoor) optree. Baie jare gelede en onlangs in Drieriviere.
Dankie vir die terugbring van vergete liedjies wat soveel meer sin maak as die hedendaagse gemorsliedjies van sekeres wat hulle voordoen as sangers.
Mag jy vorentoe ook met God se hand die pad verder stap dan is jy nie alleen.

Shannon ·

Randall Randall Randall !! Waarom kry ek so min van jou liedjies op joetjoep ?
Jou soort diepte en kwaliteit is lank reeds daarmee heen in Suid Afrika.

Nooit in my lewe sal ek die woorde van my gunstelling liedjie vergeet nie :

“In die hart van ons land, die Groot Karoo.
Lê Graaff Reinet uitgeswel soos ‘n rondvet Kambro.
Sondagsrivier, het jou mooi omgesoom.
En jy kan oor baie jare, se skatte bly droom.
En daar is Gwarriebos en wildepruim, Noem-noem en granaat.
Tussen soetdoring en karee, kry ‘n koedoebul sy maat.”

Mambanzi ·

Mater dit voel soos gister wat jou helder stem deur my kombuis, en huis opgeklink het en ons ure voor die kaggel vuur kon lag oor n glas rooiwyn of twee hier ver suid onder die suiderkruis! n Reus soos jy my vriend mag nooit ooit alleen voel nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.