Boek: Lugkasteel

lugkasteel-annelie-botesAnnelie Botes

In Sabbatsreis vertel Annelie Botes hoe sy in 2004 blindelings op ’n vliegtuig geklim het om in Engeland ’n ouma te gaan soek wat sy kon oppas. Om haar skuld te betaal. Vir ’n hellejaar (ook met heelwat hemelse oomblikke!) word sy Granny se hoeder.

Maar genoeg is selde genoeg. Kwalik ses maande nadat sy teruggekom het Baai toe, vlieg sy wéér Engeland toe. Dié keer as die goewernante van vier onhebbelike bloubloed-seuntjies. En, soos Aspoestertjie, bevind sy haar in ’n grillerige ou kasteelhuis, en sy is net ’n kasteelbediende. Sy ly honger; sy verkluim. Sy moet haar karige leefruimte deel met die wandelende gees van ’n vrou wat lankal oorlede is, maar steeds snags in die kasteelgange rondloop.

Om vir haar ’n wegkruipplek te skep, rig sy ’n antieke Mercedes-Benz vol muisneste, wat verlate in ’n plaat onkruid staan, in as haar heiligdom. Droomplek. Dinkplek. Huilplek.

Tien jaar later sit sy by haar ou bruin lessenaar en rol die kamera terug na daardie tyd. Bekyk die glasskoentjies wat elke mens langs die pad verloor. Lugkastele wat tuimel. Alles net swaanveertjies in die winterwind. Tog, ondanks ons stukkende vlerke, leer ons vlieg. Hoër en verder as wat ons ooit kon droom. Soms. Soms nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae