Jan du Rand
Wie is jy? Wie is jy in die wêreld vandag en wie is jy in Christus?
Jan du Rand bied antwoorde op hierdie en ander fundamentele vrae in Omdat jy vry is. Wanneer jy jou identiteit in Christus vind, kan jy jou losmaak van allerhande dinge wat jou aftrek, soos vrees, aggressie, selfsug, besittings, status, siekte en die dood. Hy fokus op vryheid in Christus soos ons dit in die Bybel – en spesifiek deur Paulus en Jesus se oë – sien.
Du Rand inspireer ook met dié dinge waaraan jy jou juis kan vasmaak in Christus: verlossing en bevryding, ewige lewe, blydskap en gebed.
Omdat jy vry is sal gelowiges laat besef wat hulle in Christus geword het – vry en vrygekoop.
Oor die outeur:
Jan du Rand is nasionaal en internasionaal bekend as ’n Nuwe-Testamentiese vakspesialis op die gebied van die Johannese geskrifte en Bybelse eskatologie. Hy het al talle boeke en artikels gepubliseer en ook verskeie toekennings ontvang, onder meer die Andrew Murray-prys, die Pieter van Drimmelen-medalje vir teologie en die Eeufeesmedalje van die Universiteit van die Vrystaat. Hy is buitengewone professor in Nuwe Testament aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, professor-emeritus in Nuwe Testament aan die Universiteit van Johannesburg en lewer wêreldwyd referate. Jan en sy vrou, Anneli, is geseën met drie dogters, asook kleinkinders.