Boek-uittreksel: Mia – ‘n Ma se storie van verlies en hoop

Hier volg ʼn uittreksel uit die boek Mia – ‘n Ma se storie van verlies en hoop deur Mariska Robberts.

***

Swart is die totale afwesigheid van lig of kleur.

Woensdag 27 Maart 2013

Ons het vroeg opgestaan en reggemaak vir ons spesiale familieoggend op die wynplaas Delvera. Ons wou ons hand aan pottebakkery gaan waag. Net nadat ons daar aangekom het, het my kamera se LED-skerm teen iets gekap en gebreek. Ek was baie teleurgesteld, maar gelukkig het ek agtergekom ek kan steeds foto’s neem as ek deur die tradisionele loergaatjie kyk.

Ons het kleipotjies geverf, maskers van klei gemaak en selfs potte op die pottebakkerswiel probeer draai. Ek het hope foto’s neem.

Almal was so opgewonde en vrolik. Mia het nie geloop nie; sy het gehop-hop na die motor toe ons teen tienuur moes ry.

Ons volgende bestemming was KFC. Daar was ’n groot joligheid in die bussie terwyl elke kind harder as die ander probeer uitskree het wat hulle KFC-gunstelinge is. Tussen die pops, tjippies en mash deur mis Franché die afdraai wat ons moes vat. Toe ons uiteindelik weer op die Bottelarypad kom, was die dag se planne weer op koers.

Ek was nog altyd die veiligheidsgordel-korporaal in ons huis. Ek vra tot 100 keer op ’n dag – altans, só voel dit vir my – dat die kinders hulle veiligheidsgordels moet vasmaak. Elke dag van die skoolkwartaal werk ek hard en sistematies om by alles en almal uit te kom. Die pas is vinnig, en daarom is ek soms regtig kwaai oor die veiligheidsgordels. Maar daardie dag was ek nie. Dit was vakansie. En ek leef vir vakansies wanneer ons as gesin vrolik en ontspanne saam kan wees.

Hoekom ek daardie oggend nie “maak vas” gesê het nie, weet ek nie. Dalk het ek net te lekker ontspan en vergeet van die roetine en ritme wat ons by die huis handhaaf. Min het ek geweet wat dit my gaan kos…

Toe Franché ’n motor verbysteek, sien hy die trekker wat baie stadig wydsbeen oor die middelstreep van die pad ry. Hy besluit om te versnel en ook by die trekker verby te gaan. Die aankomende verkeer was nog ver genoeg. Dit sou veilig wees.

Toe ons reg langs die trekker kom, besluit die bestuurder skielik om regs te draai. Ek het geskree: “Franché, pasop!” Hy het uitgeswaai om die trekker te probeer mis. Maar ons het nie.

Daar was een harde slag. Ons het die trekker getref.

In die volgende paar sekondes het dit gevoel of ons deur die lug sweef. Ek wil amper sê daar was ’n oomblik van stilte. Verder kan ek niks onthou nie.

Later het ek gehoor ons bussie het die padversperring getref en drie keer gerol, teen ’n bult af. Toe ons voertuig tot stilstand kom, het Franché soos blits uitgespring. Ek het ’n bietjie gesukkel om uit te kom.

Ons het albei die seuns hoor huil.

Pauline en Morné het ’n entjie van mekaar af op die gras gesit. Pauline het met reguit bene op die gras gesit en haar kopdoek het los oor haar kop gehang. Morné het ’n enorme knop op die kant van sy gesig gehad. Hy was vol bloed.

Stéfan was nog in die motor. Ek het hom deur die venster uitgetrek en langs Pauline op die gras gaan neersit. Toe sleep ek vir Morné ’n bietjie nader aan hulle. Stéfan se neus het erg gebloei. Ek het hulle probeer troos en kalmeer. Hulle wou weet waar Mia is.

Dit was toe dat ek om die bussie gehardloop het. Daar sien ek vir Franché wat by Mia sit. Sy het tjoepstil gelê. Ek was oortuig sy is net bewusteloos en is terug na die seuns toe. Maar ná ’n rukkie het ek teruggegaan na waar Franché by Mia gesit het.

“Ek dink Miemie is weg,” het hy gesê.

Ek het geweier om dit te glo.

’n Verhaal van Retha McPherson wat ek lank gelede gelees het, het in my kop begin maal. Sy het vertel van ’n man wat by ’n ongelukstoneel stilgehou en hard geroep het: “In the mighty Name of Jesus Christ, this boy will live! He will not die!” Ek het hardop begin bid, in tale gebid, terwyl ek heen en weer tussen Pauline en die seuns en Franché en Mia gehardloop het. Ek het dit aanhoudend gedoen. Heen en weer. Weer en weer.

Toe klim ek in die bussie om ons skoene, CD’s en ander persoonlike goed bymekaar te maak, want ek het skielik onthou dat mense se persoonlike goed dikwels by ongelukstonele gesteel word. ’n Klompie plaaswerkers het nadergekom. Een van hulle het vir my ’n wit goiingsak gegee waarin ek ons goedjies kon gooi.

Dit was asof tyd gaan stilstaan het.

In ’n stadium het ek weer by Franché en Mia gaan staan. ’n Enkele oomblik het ek na Mia gekyk. Haar gesiggie was so perfek en rustig. Maar sy was bleek. Té wit.

Die dag was swart.

***

Oor die boek

’n Motorongeluk tydens ’n gewone gesinsvakansie verander die Robbertsgesin se lewe dramaties. Dit is ’n eerlike, hartroerende verhaal van verlies, van ’n ma se diepste hartseer, maar dit is ook ’n getuienis van God se genade, asook die genesing en nuwe lewe wat net God kan bring.

Mia se ma, Mariska, vertel haar verhaal van smart, verwyt, en uiteindelik aanvaarding en vergifnis. Te midde van ander uitdagings, omskep Mariska onbeskryflike pyn in werklike hoop. ‘n Ouer se pad van rou ná die dood van ‘n kind is vir elkeen anders, maar klein spatsels hoop is oral sigbaar. Dit is veral in die diepste, donkerste put wanneer lig deurskyn – al is dit soms net-net sigbaar. Wanneer jy terugkyk, besef jy dit was eintlik nog altyd daar.

Daar is ook ‘n laaste hoofstuk deur Braam Klopper, ʼn pastorale terapeut wat in rou spesialiseer, om hoop en afsluiting te gee.

Oor die skrywer

Mariska Robberts is gebore en getoë in Pretoria. Sy het ʼn BCom-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Robberts en haar man hervestig hulle in Bloemfontein waar sy aanvanklik voltyds en deesdae deeltyds in die bemarking en skakelwese werk.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R220,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.