Boek-uittreksel: ‘Wanneer water wyn word’

(Foto: Artem Kovalev/Unsplash.)

Hier volg ʼn uittreksel uit Wanneer water wyn word deur Jacqueline Leuvennink en Vivian Kleynhans.

Byron is 11 maande oud toe ek een oggend die voordeur agter my toetrek en na die bewaarskool onder in ons straat stap. Ek verduidelik vir hulle dat ek beplan om weer te begin werk. Sal daar moontlik dan ’n opening vir die twee kinders kan wees?

Toe die simpatieke ant Miriam by die bewaarskool vir my die groen lig gee, kan ek John versigtig begin bearbei. Ek sê maar liefs vir hom dat iemand by Hoofkantoor my genader het. Daar is ’n pos beskikbaar en hulle dink ek is die ideale persoon vir die betrekking. John besef darem ’n ekstra inkomste kan ons ’n hupstootjie gee en gaan my dus genadiglik nie teen nie.

Ek laat weet my werkgewer opgewonde dat ek beskikbaar is as hy my kan gebruik. Hy stel my voor aan een van die opsieners wat naby ons woon en John willig in dat ek om die beurt met haar kantoor toe kan ry. Kort daarna begin ek saam met ’n paar ander vroue in die datakamer werk.

Die eerste keer in ses jaar is ek weer daagliks tussen ander mense. Dit maak ’n groot verskil. Ek skryf my ook in vir ’n sekretariële kursus wat ek direk ná werk in die aande wil doen. Dit beteken egter dat John eers die kinders by die bewaarskool moet oplaai en dan vir my. Hy is nie geneë daarmee nie en knip dit kort.

By die werk leer ek vir ant Daphne ken, ’n moederlike mens wat vir die direkteure kos kook en gou ’n sagte plekkie vir my ontwikkel. Sy roep my elke nou en dan eenkant toe om vir my te sê: “Kom, kind, ek het vir jou ’n bietjie kos eenkant gehou.” Ek begin uitsien na die middagetes saam met haar wanneer ons bietjie kan gesels. In die nuwe, vreemde omgewing bring dit die veiligheid en warmte wat ek so nodig het.

Die werk en die afstand wat dit van my situasie tuis gee, lig my mettertyd uit die groef waarin ek verval het. Deur na ander mense se verhale te luister en hulle ook soms as klankbord te gebruik, besef ek gaandeweg dít wat vir my al amper normaal begin word het, is eintlik allermins die geval.

Tuis is die versoeking natuurlik altyd daar om ook in ’n skellerige viswyf te ontaard, maar iets in my bly skop daarteen. Dis nie die soort mens wat ek wil wees nie. In ’n poging om die situasie te ontlont, bly ek gewoonlik eerder sover moontlik stil. Opkrop is helaas ook nie ’n goeie uitweg nie. Jy begin bleek en bloedarmoedig leef, te bang om jou bekende eilandjie te verlaat omdat jy nie die grootsee ken nie.

John is slim genoeg om my nooit so te slaan dat daar merke aan my gesig of arms is nie. Ek betaal nietemin met my gesondheid daarvoor en beland elke nou en dan in die hospitaal weens rugpyn of nier- en blaasinfeksie en moet gedurig apteek toe.

Die werk en die inkomste wat ek verdien, help my tog om weer iets van myself in die hande te kry en geleidelik sterker en beter te begin voel. Ek kan nou darem vir my ma van die geld stuur wat ek verdien of iets moois vir myself of die kinders aanskaf sonder om eers vir John te vra.

***

En so spring ek toe eendag weer bibber-bang oor die buurvrou se heining in ’n poging om van John te ontsnap. Hy is voor op die erf besig met bouwerk, maar elke slag dat hy na binne kom, moet ek weer keer. Ek voel vasgekeer, want ek sal nie by hom verbykom as ek na die straat se uitgang probeer hardloop nie.

Gelukkig is Tercia by ’n maatjie. Ek ken die buurvrou eintlik glad nie, maar ek is net te vreesbevange om aan ’n ander uitweg te dink. Toe sy die deur oopmaak, vra ek verleë of ek net ’n rukkie daar kan sit. Sy sien seker daar is groot fout en nooi my in. Kort voor lank sê dié vreemde vrou, Cecilia de Beer, vir my: “Jy bly net hier, jy gaan nêrens heen nie.”

Sy word in dié korte oomblik en die tyd daarna ’n engel oor my pad, iemand by wie ek met die hele sak patats vorendag kan kom sonder om John nog soos gewoonlik te probeer beskerm. Ek is moeg vir voorgee of als oukei is terwyl ek binne en buite verwond is. Later die dag gaan haal sy ook vir Tercia en bring haar na my toe.

Daardie nag gaan slaap ons by ’n vriendin se huis. Tercia slaap op ’n matrassie voor my bed. Ek droom daar is ’n vrou in ’n wit nagrok by Tercia. Sy het ’n wit kopdoekie op en hou my kind vas. Dit is vir my so ’n werklikheid dat ek agterna nie weet of ek dit regtig gesien of net gedroom het nie. Maar dit oortuig my dat ’n engel oor ons sal bly waak.

Kort daarna gebeur nog iets wat my uiteindelik sover kry om uit te stap. John druk my weer een aand in sy besopenheid in ons badkamer vas en pluk my rond terwyl hy my met sy vuiste bykom, iets wat hy nog nooit vantevore gedoen het nie.

Die volgende oggend is daar ’n klop aan die deur. Dit is Bennie, ’n Joodse vriend van ons, wat iets kom afhaal.

Daar is geen manier dat ons ons huismoles kan wegsteek nie. John is nog winddronk en ek het byna nie ’n oog toegemaak nie – ek is ontsteld, kwaad en hartseer tegelyk en sê ek kan dit nie langer verduur nie.

Bennie, ’n mens met goeie oordeel, wil weet wat het gebeur. Hy luister geduldig na John se verskonings en verduidelikings, maar sê ná ’n ruk vir hom sy stories klop nie. Toe hy uiteindelik weer groet, sê ek vir hom: “Bennie, ek belowe jou, as ek vandag hier uitstap, as die Here my gaan help om vandag hier uit te stap, kom ek nie weer terug nie. Ek kan hierdie ding nie meer met pleisters aan mekaar probeer hou nie.”

Cecilia van langsaan het intussen vir my en Tercia ’n kamer reggemaak. Ons kan voorlopig daar loseer terwyl Byron by sy pa bly. Ek is vasbeslote om my nie weer te laat ompraat nie. John se wangedrag het my en die kinders reeds net te veel skade berokken. Cecilia se twee volwasse seuns is ook op die werf en hy kan my nie daar kom pla nie.

Ek klop ook aan by ’n sielkundige wat my aanraai om ’n skeisaak aanhangig te maak. In die jaar wat hierop volg, sien ek haar een keer per week, iets wat my help om nie van my kop af te raak nie. Sy help my om van die lae wat ek om my gebou het, af te skil en te sien wat onder alles lê. Dit kom nie maklik nie. Die pad na heelword loop deur ’n seerkry waarvoor ek tot dusver nóg moed nóg woorde kon vind. ’n Mens leer om te sluk en te sluk. En nogmaals te sluk. Tot jy op ’n dag – sonder dat jy eintlik weet hoe – jou stem terugkry.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Prys: R230,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.