Vakante pos: Webontwik­kelaar

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos / Pixabay)

Maroela Media is op soek na ’n webontwikkelaar om sy digitale platforms en prosesse te ondersteun, deur die ontwikkeling en instandhouding van webgebaseerde oplossings.

Die suksesvolle kandidaat moet beskik oor ʼn graad in rekenaarwetenskap, sagteware-ingenieurswese of diploma in webontwikkeling met spesifieke kursusse wat fokus op beide kliëntekant (“front-end”) en bedienerkant (“back-end”)-ontwikkeling. Daar sal van die kandidaat verwag word om relevante ondervinding te hê in webontwikkeling met PHP, MySQL, Javascript, HTML, CSS en WordPress. Ervaring met Agile, DevOps en CI/CD sal voordelig wees. ʼn Minimum van vyf jaar ondervinding is ʼn vereiste vir die pos.

Vaardighede wat tot voordeel sal wees, is analitiese denke, die vermoë om komplekse konsepte te begryp, ʼn sterk sin van verantwoordelikheid, kreatiewe probleemoplossingvermoë, deursettingsvermoë, goeie taalvaardighede en ʼn oog vir detail.

Goeie verbale en geskrewe kommunikasie is noodsaaklik. Die kandidaat moet vertroud wees met kanban-borde, sprints en scrum vir projekbestuur.

Die kernverantwoordelikhede van die pos:

  • Ontwikkeling en instandhouding van gebruikersvriendelike webgebaseerde platforms, om ʼn doeltreffende gebruikerservaring te bied.
  • Ontwikkel stelsels wat interne prosesse meer doeltreffend maak.
  • Doen navorsing en eksperimenteer met nuwe tegnologieë om kreatiewe oplossings vir die mediabedryf te vind.
  • Ontwerp en bou e-posgedrewe nuusbriewe.
  • Dra by tot die volg van beste praktyke in die span.

Sleutelprestasieareas van die pos:

  • Webgebaseerde platforms wat teen ʼn hoë spoed funksioneer en wat die beskikbare hulpbronne effektief benut.
  • Webgebaseerde platforms wat noukeurig gebou word en aan hoë sekuriteitstandaarde voldoen.
  • Vestig goeie ontwikkelingspraktyke (DevOps) gebaseer op Agile-beginsels.
  • Pas in en dra by tot die uitbou van ʼn kreatiewe, uitnemende, Afrikaanse werksomgewing.

Hierdie is ’n permanente pos en is by Maroela Media se kantoor op die Voortrekkermonumentterrein in Pretoria gebaseer.

Indien jy aan die profiel voldoen, stuur asseblief jou CV (geen sertifikate nie) per e-pos aan Hester Botha by [email protected] voor of op 19 April 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.